Daar word dikwels gesê die verkoopsyfers van nuwe voertuie weerspieël die stand van 'n land se ekonomie. Maar hoe bring 'n mens die kloutjie by die oor wanneer die verkope van passasiersmotors daal, terwyl die verkope van handelsvoertuie terselfdertyd styg? 'n Bedryfsleier werp lig op hierdie raaisel.
Suid-Afrika se motorbedryf het verlede jaar 5,4 % minder nuwe voertuie as in 2006 van die hand gesit. Volgens die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers (Naamsa) is altesame 676 097 nuwe voertuie verlede jaar plaaslik verkoop.
Mnr. Brand Pretorius, voorsitter van McCarthy Motor Holdings, meen hierdie vertoning weerspieël 'n tydperk van konsolidasie waarin die bedryf homself ná drie jaar van beduidende groei bevind.
Passasiersvoertuie is egter die enigste marksektor wat verlede jaar 'n afname in verkope teenoor 2006 getoon het. Die verkope het met 9,7 % tot 434 633 nuwe eenhede gedaal. Hierdie marksektor word gewoonlik eerste geraak deur enige verwikkelings in die ekonomie, soos 'n daling in sake- en verbruikersvertroue en 'n styging in die rentekoers. Die Nasionale Kredietwet, wat in Junie verlede jaar in werking getree het, het ook 'n nadelige uitwerking gehad.
Verder het 'n verswakking in voertuigbekostigbaarheid verlede jaar kop uitgesteek. Dit is deur prysstygings, laer inruilwaardes en hoofsaaklik die verhoging (met twee persentasiepunte) van die prima-uitleenkoers veroorsaak. Daarby het huishoudelike skuld as 'n persentasie van besteebare inkomste 'n rekordhoogtepunt van 77,4 % bereik. Dit het dit vir verbruikers moeilik gemaak om nóg krediet te bekom.
Maar, sê Pretorius, die totale verkoopsyfer van 676 097 nuwe voertuie is steeds 9,4 % hoër as dié van 2005 en meer as dubbel die totale verkope in 1999. Verlede jaar se werklike verkope is waarskynlik hoër as Naamsa se syfer omdat verskeie onafhank- like invoerders van Chinese voertuie nog nie hul verkoopsyfers by die vereniging aanmeld nie.
Die verkope wat hierdie maatskappye verlede jaar aangeteken het, word op sowat 10 000 eenhede geskat. Dit sal die bedryf se algehele verkope verlede jaar op 686 097 eenhede te staan bring, verduidelik Pretorius.
In teenstelling met die mark vir passasiersvoertuie het die mark vir handelsvoertuie verlede jaar beter gevaar as in 2006.
'n Paar nuwe hoogtepunte is selfs bereik.
Die verkope van ligte handelsvoertuie het die eerste keer deur die kerf van 200 000 eenhede gebreek. Die verkope het met 2,4 % gestyg en einde Desember verlede jaar op 204 395 eenhede te staan gekom.
Die afdeling vir medium-handelsvoertuie het die jaar met 'n rekordsyfer van 15 168 eenhede afgesluit, wat 6,5 % meer voertuie as in die vorige jaar is.
Die 21 901 eenhede wat verlede jaar in die afdeling vir swaar handelsvoertuie verkoop is, kom op 'n styging van 16,3 % teenoor 2006 neer. Dit is ook 'n rekord.
Pretorius skryf hierdie goeie syfers toe aan groter sakebedrywighede danksy die groei in die bruto binnelande produk (BBP) van 'n geskatte 4,5 % verlede jaar sowel as groot beleggings in infrastruktuuronwikkeling, wat tot groter kapitaalbesteding gelei het.
Die verkope van handelsvoertuie het 'n verdere hupstoot deur die taxi-herkapitaliseringsprogram en die voortgesette groei in padvervoer gekry.
'n Interessante ontwikkeling die afgelope paar jaar is die groot afname in die markaandeel van groot en mediumpassasiersvoertuie. Dit het die samestelling van die motormark aansienlik verander.
In 2002 het mediumgroot passasiersmotors 49,6 % van die mark uitgemaak, maar dit het verlede jaar tot 39,4 % gedaal. Die markaandeel van groot passasiersmotors het in dieselfde tyd van 7,1 % tot 5,1 % gedaal.
Ander segmente, soos ontspanningsvoertuie, het heelwat beter in die onlangse strawwe marktoestande gevaar en hul markaandeel van 12,4 % in 2002 tot 18,8 % verlede jaar vergroot. Dieselfde is van toepassing op die sogenaamde sport- en eksotiese voertuie. Hul markaandeel het van 0,6 % tot 1,1 % toegeneem.
In 2002 het klein passasiersmotors 30,4 % van die mark uitgemaak. In 2006 het dit tot 39,6 % gegroei, maar verlede jaar tot 35,6 % teruggesak.
Wat die segment vir ligte handelsvoertuie betref, het halfton-bakkies hul markaandeel van 21,1 % in 2001 tot 30,1 % verlede jaar vergroot. Aan die ander kant het eenton-bakkies (4x2) sedert 2001 heelwat markaandeel afgestaan. Toe het dit 58,1 % van die mark uitgemaak, maar verlede jaar net 44,6 %.
Die taxi-herkapitaliseringsprogram het minibussies met 10 tot 16 sitplekke gehelp om hul markaandeel van 5,4 % in 2002 tot 'n rekordvlak van 9,7 % einde verlede jaar te verhoog.
Verlede jaar is daar vir eerste keer meer ingevoerde passasiersvoertuie as plaaslik vervaardigde eenhede verkoop. In 1998 was net 12,6 % van nuwe motors ingevoerde voertuie, terwyl dit verlede jaar altesaam 55,7 % van die mark verteenwoordig het.
Pretorius meen die verkope van passasiersvoertuie sal vanjaar verder daal omdat verdere verhogings in die rentekoers verwag word. Daarby sal verbruikers se besteebare inkomste verder onder druk geplaas word deur verwagte groot stygings in die brandstofprys, die koste van elektrisiteit en voedselpryse.
Pretorius voorsien vanjaar 'n afname van 6,2 % in algehele voertuigverkope, wat die verkope op 634 100 eenhede te staan sal bring. Die verkope van passasiersmotors sal na verwagting met nagenoeg 8 % tot 400 000 eenhede daal en dié van ligte handelsvoertuie met 5,1 % tot 'n geskatte 194 000 eenhede.
Kopers sal vanjaar kan kies en keur aangesien spesiale aanbiedinge na verwagting aan die orde van die dag sal wees. Klante sal die grootste keuse van modelle en fabrikate nóg hê.
"Swart koopkrag sal nog verder versnel, terwyl private huurkoop die druk van voertuigbekostigbaarheid behoort te verlig," sê Pretorius. "Die verwagte herstel in die mark vir gebruikte voertuie behoort handelaars in staat te stel om meer aanvallend handel te dryf."
Aan die ongunstige kant is hy besorg dat die wêreldwye klem op krediet na die Suid-Afrikaanse ekonomie kan oorspoel. Daarby kan die prys van sommige voertuie styg weens die verwagte daling in die waarde van die rand, die uitwerking van plaaslike inflasie en groot stygings in die prys van staal, plastiek en verf.
Die merkwaardige vertoning van die handelsvoertuigsektor die afgelope vyf jaar het die samestelling van die plaaslike nuwevoertuigmark aansienlik verander. In 2006 het handelsvoertuie vir 32,6 % van algehele nuwevoertuigverkope gesorg. Vanjaar sal dit na verwagting 37 % beloop, aldus Pretorius.
Landbouweekblad, 8 Februarie 2007