Landbou
Voedselmyle kan uitvoer pootjie
Deur ISABEL STOLTZ (istolz@landbou.com)

'n Nuwe debat oor "voedselmyle" in besprekings oor klimaatsverandering dreig om landbou-uitvoer van Afrikalande te kortwiek. Voedselmyle verwys na die afstand wat 'n voedselproduk aflê van die land of veld na die bord.

Die gebruik van lug-, pad- en seevervoer om produkte by 'n uitvoerbestemming te kry, is nou in die gedrang met die uitgangspunt dat dit bydra tot die uitlating van koolsuurgas en dus klimaatsverandering aanhelp.

In reaksie hierop word oorsese verbruikers aangemoedig om kos te koop wat plaaslik geproduseer word. Verskeie kettingwinkelgroepe, soos Tesco en Marks & Spencer in Engeland, begin reeds aandring op die verpligte lugvrag-etikettering van verskeie produkte.

Hierdie veldtogte kan die vraag na vrugte en groente uit Suider-Afrika beduidend laat afneem, sê me. Norma Tregurtha, bestuurder van die streekstandaarde-program van die Britse departement van internasionale ontwikkeling.

Die doel van die streekstandaardeprogram is om lande binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se vermoë te verbeter om standaarde vir voedselveiligheid en die gehalte van produkte na te kom met die oog op groter internasionale marktoegang. Dit is gegrond op die veronderstelling van 'n gunstige vraag na Suider-Afrikaanse landbouprodukte op mediumtermyn. Hierdie veronderstelling word nou bedreig deur klimaatsverandering en die groeiende debat oor voedselmyle.

Conmark, die maatskappy wat deur die Britse departement van internasionale ontwikkeling gekontrakteer is om die standaarde- program in Suider-Afrika in werking te stel, stel nou voorstelle op om die uitwerking van die potensiële bedreiging te verminder deur boere, verwerkers en uitvoerders bewus te maak van die debat en hulle in staat te stel om daarop te reageer.

Die verband tussen die vermindering van voedselmyle en 'n afname in kweekhuisgasse kan ooglopend voorkom, maar is nie akkuraat nie, meen Tregurtha. Sy sê as ander aspekte, soos watergebruik, oestegnieke, kunsmisgebruik, die gebruik van hernubare energie, vervoer- en brandstofverbruik, in ag geneem word, lyk die prentjie heeltemal anders.

Navorsing by die Cranfield-universiteit in Engeland het getoon dat met blomproduksie in Kenia en die lugvervoer van die blomme na Brittanje tot meer as 'n vyfde minder kweekhuisgasse vrygelaat word as by die produksie van blomme in verhitte en verligte kweekhuise in Nederland.

Mnr. Peter Johnston, klimatoloog van seisoenale voorspellings en klimaatsverandering in die landbou by die Universiteit van Kaapstad, sê dit is moeilik om te voorspel wat die koste-implikasies van klimaatsverandering en sekere aspekte, soos voedselmyle, noodsaaklike aanpassings en beplanning, presies vir die landbou in Suid-Afrika inhou.

Boere wat egter bereid is om nou die koste aan te gaan en die nodige veranderinge aan te bring, soos om na drupbesproeiing om te skakel, gaan langer kan bly boer as boere wat wag om te sien wat in die toekoms gaan gebeur.

Die koste van klimaatsverandering in die Wes-Kaap is reeds hoog in gevalle waar appelboorde met druiwe of pere vervang moes word, wat skadunette, windskerms en duur besproeiing verg.

Olyfboerdery vervang koring, maar boere wat by ander gewasse moet aanpas, moet eers seker maak van die mark en behoorlik planne maak anders kan hulle in dieselfde bootjie beland as dosyne wynplase, wat nou in die mark is weens gebrekkige vooruitbeplanning.

Dieselfde geld produksie vir biobrandstof. Produksiekoste moet opgeweeg word teen die moontlikheid dat dit in die toekoms goedkoper kan wees om in te voer, sê hy.

Die verwagting is dat die westelike dele van die land droër raak en die oostelike dele natter. Dit beteken toestande vir gewasse gaan verander en boere sal bedag moet wees op nuwe siektes, veral by aartappels.

Gewasse in die Wes-Vrystaat en Noordwes kan blootgestel word aan hittestres.

Verwagte hoër temperature sal ook 'n invloed hê op veesiektes.

Prof. Stephanie Midgley van die departement hortologie aan die Universiteit Stellenbosch, stem saam en sê gewasbestuur gaan moeiliker raak. "Wat ons veral bekommer, is die Swartland- en Sandveldgebied waar dit reeds minder reën en boere vorentoe kan sukkel." Solank daar genoeg water is, is besproeiingsgewasse veilig,maar daar sal gekyk moet word na doeltreffender besproeiing om water te bespaar, sê sy.

In die somerreëngebied, waar wisselvallige reën reeds by grane 'n probleem is, gaan dit in die toekoms moeiliker raak.

Hoër temperature gaan lande vinniger laat uitdroog en hittestres gaan gehalte, vrug en saadset van gewasse benadeel.

Uitdroging gaan ook 'n uitwerking hê op weiding en laer veeladings noodsaak.

In droër gebiede sal kleinvee meer geskik wees om mee te boer omdat hulle meer bestand is teen hitte as beeste, sê sy.

In die landbou word klimaatsverandering meestal vereenselwig met droogte, maar dramatiese veranderinge word nie verwag nie, sê prof. Hannes Rautenbach, hoof van die departement geografie, geoinformatika en meteorologie van die Universiteit van Pretoria.

Klimaatmodelle is tans die enigste beskikbare hulpmiddel waarmee toekomstige projeksies van reënval en temperatuur op lang termyn gedoen kan word. Die meegaande kaart toon projeksies van moontlike veranderinge in die reënvalpatroon in die winter- en somerreëngebiede van Suid- Afrika.

Die gemiddelde waardes van 21 klimaatmodelle dui daarop dat oppervlaktetemperature in die land in die toekoms met 3°C tot 4°C kan toeneem. Meer droogtes kan verwag word, maar dit word beperk tot die Kaapstad-gebied en die aanliggende Weskus-gebied in dieWes-Kaap, sê hy.

Volgens dié projeksies sal die westelike deel van Suid-Afrika (gebied A op die kaart regsbo) se laatwinter natter word,wat kan beteken die winterreëntyd word langer en die reën val meer verspreid met droër tussenposes.

Toekomstige projeksies dui op droër toestande.

In die somerreëngebied (gebied B op die kaart) is daar nie 'n aanduiding dat die hoeveelheid jaarlikse reën noemenswaardig meer of minder gaan word nie ondanks 'n toename in kweekhuisgasse wat in die modelle in berekening gebring is.

Veranderinge wat wel waargeneem kan word, is 'n ongunstige reënvalneiging in April en Mei, dus 'n droër herfs.Omdat die laatsomer droër word, kan dit beteken die somerreëntyd word korter met 'n normale reënval wat 'n risiko vir ekstreme reënval inhou. Toekomstige projeksies dui op normale toestande.

Die projeksies toon ook dat die noordelike deel van Suid-Afrika (gebied C op die kaart), soos die lande noord van Suid-Afrika, die potensiaal het om droër te word. Die droër tydperke, wat gewoonlik met die wintermaande vereenselwig word, kan ook langer duur weens die korter somerreënval.

"Benewens 'n sterker fokus op vloedrisikobestuur, sal in waterbronbestuur en landboubeplanning ook toenemend klem gelê moet word op die doeltreffende opberging van water sodat dit in die langer, droër tydperke benut kan word," sê hy.

Johnston sluit hierby aan en sê daar heers kommer oor buurlande, soos Botswana, Angola en Mosambiek, se vermoë om infrastruktuur en waterweë te onderhou in die lig van verhoogde vloedrisiko's.

Bali: Groot beloftes maak skuld
Die Verenigde Nasies (VN) se onlangse saamtrek in Bali, Indonesië, oor klimaatsverandering het die eerste keer gesorg vir 'n verbintenis deur ontwikkelde lande, veral Amerika, om kweekhuisgasse beduidend met tot 40% te verminder.

Die beloftes wat ontwikkelende lande, soos Suid-Afrika, gemaak het ter vermindering van kweekhuisgasse staan in besonder uit ná die beraad, sê mnr. Marthinus van Schalkwyk, Minister van Omgewingsake en Toerisme.

Die armer lande se ekonomieë groei. Trouens, dit is in die ontwikkelende wêreld waar die grootste ekonomiese groei oor die volgende dekade verwag word. Dit beteken behoeftes aan energie neem toe. "Ons moet mooi dink oor wat ons nou doen en hoe dit die toekoms beïnvloed - veral as in gedagte gehou word dat 'n land soos Suid-Afrika 80% van sy energie van koolstof (die hoofoorsaak vir kweekhuisgasse) kry," sê Van Schalkwyk.

Die Bali-saamtrek het die behoefte beklemtoon vir 'n daadwerklike belegging in klimaattegnologie en die geld wat daarvoor nodig is.

Was dit nie vir enorme druk deur Suid-Afrika nie, sou die belangrike klimaatfonds wat tydens die Bali-vergadering op die been gebring is, nooit gebeur het nie, sê die Noorweegse eerste minister, mnr. Jens Stoltenberg, wat 'n blitsbesoek aan Kaapstad gebring het om die belangrikheid van die Bali-saamtrek te beklemtoon. Dié fonds moet teen 2012 sowat R3,4 miljard ($500 miljoen) werd wees.

"Dit is die ryk lande wat die skade aangerig het, maar ons kan nie praat van 'n gróót vermindering van kweekhuisgasse nie tensy ons die arm lande ook insluit."

Noorweë beoog om sy groot vrylating van gasse met 20% te verminder deur na ontbossing te kyk. Deur beter koolstoftegnologie te ontwikkel, word 'n verdere vermindering van tot 30% beoog.

Van Schalkwyk sê op eie bodem gaan 'n "baanbrekersbeleid" vir die vermindering van kweekhuisgasse oor die volgende twee jaar opgestel word.

Ontwikkelende lande hoef kweekhuisgasse nie noodwendig volgens die Kiotoverdrag te verminder nie, maar baie kritiek word uitgespreek teen China, een van die ontwikkelende lande wat die vinnigste groei en wat een koolstofkragsentrale per week oprig.

Ná die Bali-byeenkoms is die wêreld egter baie meer "optimisties" dat stappe nóú gedoen sal word om die mens se grootste uitdaging op lang termyn aan te pak. Dié byeenkoms gee die raamwerk vir die volgende twee jaar, sê Van Schalkwyk, en dit is nou moontlik om 'n "klimaat-regime" te skep waar álmal betrokke is.

Die Suid-Afrikaanse Kabinet het in 2006 'n plan goedgekeur vir 'n ondersoek na watter plaaslike ingrypings nodig is om klimaatsverandering te versag en ook om aan te pas.

Prof. Bruce Hewitson, 'n lid van die Universiteit van Kaapstad se navorsingsgroep wat klimaatstelsels ontleed en een van die wêreldkenners oor klimaatsverandering, sê dit was opmerklik dat daar in Bali nie meer 'n debat was oor die vraag óf klimaatsverandering werklik gebeur of nie. Daar is besluit dat alle besluite voortaan "klimaatsensitief" moet wees.

Dr. Guy Midgley, hoofspesialiswetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut, sê van die sowat 30 000 studies wat wêreldwyd oor die verandering in natuurstelsels gaan, is nog net sowat vier in Afrika gedoen.

In 2007 het drie ander belangrike gebeurtenisse kopskuiwe oor klimaat veroorsaak:

  • Die belangrike verslag van sir Nicholas Stern, voormalige hoofekononoom van die Wêreldbank, het die eerste keer geldwaarde aan klimaatsverandering gekoppel.
  • Die eerste groot studies van die Verenigde Nasies wys sonder twyfel dat die mens verantwoordelik is vir klimaatsverandering.
  • Die Europese Unie het in Maart 2007 aangekondig dat hy eensydig 20% van sy koolstof-vrylatings sal inkort, en 30%, mits die res van die wêreld ook drastiese afnames in die vrylating van kweekhuisgasse teweegbring.

    Landbouweekblad, 15 Februarie 2008