Goedkoper sonenergiestelsels, gegrond op die tegnologie om silikon in sonpanele te vervang deur 'n uiters dun nuwe allooi wat sonlig doeltreffender absorbeer en omskakel in elektrisiteit, gaan binne die volgende 15 tot 18maande in die Paarl vervaardig word.
Dié sonenergiestelsels is die eerste wat 'n heel nuwe tegnologie gebruik waarin die elemente koper, indium, gallium, selenium en swael in 'n allooi homogeen op 'n glaspaneel gedeponeer word. Met dié tegniek word sonlig beter geabsorbeer en goedkoper in elektrisiteit omgeskakel as wat silikonpanele dit kan doen.
Van die nuwe panele sal reeds vanjaar uit Duitsland na Suid-Afrika gebring word sodat die toetsing, bemarking en verspreiding daarvan kan begin, sê prof. Vivian Alberts van die departement fisika aan die Universiteit van Johannesburg, wat die dunlaagstelsel ontwikkel het. ( Landbouweekblad het volledig daaroor berig in sy uitgawes van 5 Maart 2004 en 2 Julie 2004).
Alberts is ook die besturende direkteur van die maatskappy wat die lisensies vir die vervaardiging uitreik, asook van die maatskappy Thin Film Solar Technology Bpk. (TFST), wat met die Regering en private maatskappye in Suid-Afrika gaan saamwerk om die panele te vervaardig.
Hy sê die tegnologie gaan daaroor om die silikon in huidige sonpanele te vervang deur die nuwe materiaal wat baie dun is - 350 keer minder materiaal word gebruik as by silikon-panele en dieselfde werking word steeds verkry. Dit is waar die kostevoordeel lê. By silikonpanele is 80% van die koste die silikon self.
Die nuwe panele kan 99% van ligprotone binne een mikron absorbeer. Energie wat opgewek word, is gelykstroom en dit word in 'n omsetter omgeskakel in wisselstroom van 220 volt. Energie moet opgeberg word vir gebruik saans.
Die totale stelsel sluit dus die panele, die omsetter en die opbergingstelsel in.
Alberts sê die nuwe sonenergiestelsel is kommersieel haalbaar. Verskeie internasionale verslae is gepubliseer wat duidelik projekteer dat die totale stelsel binne die volgende vyf jaar sal gelykspeel met kernenergie en fossielbrandstowwe. Gesaghebbende internasionale instansies in die Europese Unie het in 'n verslag in 2007 aangekondig die totale energiestelsel sal gelykspeel met fossielbrandstowwe.
"Dit is nie ek wat dit sê nie - dit kom uit internasionale studieverslae," sê Alberts. Tegnologie verbeter voortdurend. Toe die rekenaar 50 jaar gelede ontwerp is, is gesê dit sal min toepassings hê, omdat dit te duur en te groot is. Dieselfde gebeur met dié tegnologie, dit verbeter drasties. Ook wat omsetters en opbergingstelsels betref. Die tegnologie is saam met die Universiteit van Johannesburg ontwikkel, 'n maatskappy is in 2005 gestig en al die intellektuele eiendom is aan die maatskappy oorgedra.
Vier maande ná die stigting van die maatskappy het 'n Duitse maatskappy 'n lisensie opgeneem op grond van die resultate by die gidsaanleg by die universiteit.
"Die tegnologie is nie aan die Duitsers verkoop nie. Hulle het wel 'n eksklusiewe lisensie tot 2010 ontvang om die tegnologie te kommersialiseer. Die eerste aanleg is nou in Duitsland en die tweede sal moontlik in China wees," sê hy.
Die totale belegging in die maatskappy in Duitsland was omtrent 83 miljoen euro, sowat R900 miljoen rand.
Daar bestaan van die begin af 'n wetlike ooreenkoms met die Duitsers dat Afrika geoormerk is vir 'n Suid-Afrikaans gedrewe konsortium om 'n tweede lisensie op te neem.
Hy weet daar was destyds baie kritiek omdat die tegnologie landuit gegaan het. Maar wat in Duitsland gebeur het, en teen die spoed wat dit gebeur het, was dit by verre die beste vir Suid-Afrika om dit daar te ontwikkel en daarna met plaaslike kundigheid terug te bring. Dit sou seker tien jaar geduur het om dieselfde tegnologie plaaslik ten volle te kon ontwikkel.
Beleggers, waaronder Venfin, 'n maatskappy van die Ruperts, is reeds plaaslik betrokke. Daar is reeds goeie samewerking met die Regering en private beleggers. 'n Duitse maatskappy sal waarskynlik ook betrokke wees om meer tegniese vaardighede en agtergrond in te bring. Gesprekke met finansiële instellings vorder ook.
Alberts sê dit help nie om in Suid-Afrika en Afrika hoëvlaktegnologie te vestig met die nodule alleen nie. Daar moet 'n goeie sonenergienodule in die mark beskikbaar wees, maar dit sal gekombineer moet wees met 'n goeie stelselontwerp. Daar word nou gewerk aan 'n unieke omsetter/opberginstelsel.
Spesifieke markte word geteiken, naamlik 1 kW tot 3 kW. Die verbruiker sal die stelsel kan koop en tegniese agtergrond sal beskikbaar wees om dit te installeer en te onderhou.
'n Volledige stelsel sal waarskynlik ook gehuur kan word teen R400 tot R500 per maand, wat 'n huis onafhanklik kan voorsien van energie.
Dit word in Duitsland gedoen. Dit is 'n gedesentraliseerde vorm van energie en nie gekoppel aan 'n steenkoolstasie op 'n spesifieke plek nie. 'n Mens koop of huur die stelsel en neem dit na die plaas of huis as 'n onafhanklike bron van energie.
As dit R50 000 kos om jou onafhanklik van Eskom te maak, is dit baie geld. As dit byvoorbeeld ingesluit word by die finansiering van 'n huis wat oor 15 jaar afbetaal word, is dit maar R300 tot R400 per maand.
Alberts meen die ideaal vir Suid-Afrika is 'n kombinasie-stelsel waar sonpanele gebruik word vir kragopwekking, sonverhitting vir waterverhitting en 'n alternatiewe metode van gas of biomassa vir stowe.
Die maatskappy in Duitsland se prospektus dui aan hoeveel panele nodig is vir 3 kWof 5 KW,wat die stelsel kos,watter bank dit .nansier, en dit word alles gesubsidieer deur die regering. Finansiering sal vinnig opgelos word sodra 'n volhoubare bedryf met al die vertakkings in Suid-Afrika geskep is.
Haal uit en wys
Net leë beloftes. Dit is mnr. Ludwig van Heerden van die maatskappy Van Heerden
Solar Power CC, op Montagu, se mening oor prof. Vivian Alberts se planne. "Elke keer
as hy belowe dat die 'goedkoop' panele op die mark gaan kom, wag my kliënte vir die
goedkoop panele en só ly ek skade. En dit gaan al drie jaar so aan."
Hy en van sy kliënte het verskeie e-posse aan Alberts gestuur om te hoor wanneer die panele op die mark kom. Hy wil van die panele bekom om in Namakwaland op te sit om die panele se gehalte en lewensduurte te toets, maar hulle kry geen antwoord van Alberts nie.
Alberts het sowat R20 miljoen belastinggeld by die Regering gekry vir navorsing en ontwikkeling, en hy kan niks daarvoor wys nie, meen Van Heerden.
Van Heerden sê Alberts se panele se lewensduur gaan nie dieselfde is mono- of polikristal-panele wees nie. Dit gaan ook nie goedkoper wees nie.
Hy is oortuig daar gaan geen van Alberts se panele in die volgende vyf jaar - indien ooit - in Suid-Afrika beskikbaar wees nie.
Daar is tans geen kerse in Gauteng beskikbaar nie. Die feit is dat dit nie beter sal gaan met die kragsituasie nie. As Eskom reeds 13 jaar agter is en daar oor sewe jaar eers nuwe kragsentrales geopen word, wat is die kans dat hy oor sewe jaar die agterstand uitgewis het? Die agterstand gaan later 20 jaar wees, meen Van Heerden.
Die krag is nou elke dag twee tot drie uur per gebied af; volgende jaar vier uur per dag, en teen 2010 sal dit agt uur per dag wees.
"My raad is: Verkoop jou duur motor en belê in 'n windlaaier en sonpanele en bou jou eie kragstelsel," sê hy.
Sy hele huis gebruik al 30 maande net wind- en sonkrag. Teen 10% van sy huis se waarde is dit steeds beter om krag 24 uur per dag, sewe dae per week te hê as om met 'n motor van R500 000 te ry.
Mnr. Nelson Adams van Brackenfell meen ook dit is steeds dieselfde leë beloftes wat vantevore gehoor is.
"Die program op RSG ( Praat Saam op 25 Januarie 2008) was duidelik só georkestreer dat geen mens met die geringste kennis van alternatiewe energie toegelaat is om 'n woord te sê nie. Daar is mos iemand wat die inbellers monitor. Almal het net die wonder van Alberts besing," meen hy.
Adams wil weet waar Alberts se demonstrasieplaas is, asook wat geword het van navorsing oor sonpanele wat sedert die 1970's by die Universiteit van Johannesburg gedoen was.
Sy omsetter moet ook nog gesien word. In Duitsland alleen is daar reeds meer as 400 000 huise met sonpanele. Het Alberts iets beters as die omsetter wat daar gebruik word? Hoekom het nie een van sy beloftes nog waar geword het nie?
Só vergelyk koste
Prof. Vivian Alberts sê 'n 5 kW-stelsel is meer as voldoende vir 'n huishouding. Sonpanele
kos sowat R2 800 elk en tien is nodig. Panele alleen kos dus R28 000 en die hele
stelsel R56 000. Min mense kan dit bekostig.
Wat in Suid-Afrika betaal word vir bestaande sonenergiestelsels - panele, omsetters en batterye - is nie verteenwoordigend van die wêreldprentjie nie. Dit is 'n stelsel wat agt uur per dag in die son funksioneer vir 15 jaar. Die totale energie wat die stelsel skep, moet uitgewerk word in terme van kW/h, en dan moet die koste bereken word. Die koste is nou sowat R0,90 tot R1 per kW/h. As 'n goeie silikon-stelsel ingevoer word, gaan dit dus tot 2,5 keer meer kos as wat Eskom nou vir elektrisiteit vra.
Die voordeel van die nuwe tegnologie is dat dit sal meebring dat die koste per kW/h van 'n volledige stelsel gelyk sal speel met dit wat per maand aan Eskom betaal word - tussen 25c en 30c per kW/h.
Om 'n gemiddelde huis volledig van energie te voorsien, is 25 m² tot 30 m² sonpanele nodig.
Alberts sê ook boere moet nie goedkoop batterye, soos gewone loodsuurbatterye wat in motors gebruik word, koop om koste te bespaar nie. Dié batterye hou nie. Daar is batterye beskikbaar wat vir 15 jaar gewaarborg word - die sogenaamde 'deep cycle'-battery. Dis 'n soort battery wat spesifiek ontwikkel is as opbergingstelsel vir sonenergiestelsels.
Eskom kort hulp
Swak beplanning het tot gevolg dat Eskom se probleme gaan aanhou tot omtrent 2013.
Dit is 'n probleem wat nie op kort termyn opgelos kan word nie, maar as die nuutste
tegnologie nou ingespan word, kan die krisis binne 'n paar jaar opgelos wees.
Prof. Vivian Alberts stel voor die Regering moet 'n strategie ontwikkel oor die ontwikkeling van alternatiewe energie, omdat dit 'n verskil kan maak. Eskom móét hulp kry. Sonkrag is nie die enigste oplossing nie, maar die beste oplossing.
Die Regering moet aandag gee aan alle tegnologie vir alternatiewe energie - wind, son en biobrandstowwe - en dit kommersialiseer om 'n daadwerklike verskil in die volgende vyf tot tien jaar te maak. Die tegnologie en samewerking met internasionale groepe bestaan om dit in Suid-Afrika te doen. Die mense en die innovasie is daar, asook die sakemodel en tegniese ondersteuning om die tegnologie mededingend te ontwikkel.
Duitse aanlegte word met 20% gesubsidieer deur hul regering. Dit beteken as die belegging 100 miljoen euro is, moet die belegger 80 miljoen euro betaal en die staat gee 'n subsidie van 20 miljoen euro. So iets bestaan nie in Suid-Afrika nie en dit maak die sakemodel meer kompleks.
"Ons het toegang tot die tegnologie, ons het toegang tot die wêreld om dit te ontwikkel, maar daar moet duidelike regeringsbeleid wees wat dié tipe tegnologie ondersteun met subsidies en aansporingsmaatreëls," meen Alberts.
In Amerika is besluit teen 2025 moet alternatiewe bronne 25% van die land se energie lewer. Dit geld ook Duitsland - wat dit waarskynlik gaan bereik. Plaaslik sal so iets afhang van hoe vinnig die Regering oortuig kan word. Dit, en ander tegnologie wat ook potensiaal het, moet so gou as moontlik in die land benut word.
Landbouweekblad, 15 Februarie 2008