
'n Boer moet visie hê as hy suksesvol wil boer en op die kruin van die golf wil ry, sê mnr. Chris Rossouw, hoof van die Rossouw-groep, met uitgebreide boerderybelange by Delmas en Groblersdal.
Dié boerdery is einde verlede jaar deur Landbouskrywers SA, Old Mutual, Mutual & Federal Agri en Nedbank as Suid-Afrika se Nasionale Boer van die Jaar aangewys. Ons gesels in die groep se moderne kantoorkompleks buite Delmas, vanwaar die boerdery - lêhenne, teelhenne, braaikuikens, eiers, 'n braaikuiken-abattoir, mielies, sojabone, droëbone, beeste, 'n hoendervoerfabriek, 'n kitsgraseenheid, sitrus en tafeldruiwe - bedryf word (lees die berig "Boerdery hoogs gediversi.seerd" op bl.40).
Rossouw en sy vrou, Naubie, se vier seuns is almal by die boerdery betrokke. Hulle is dr.Adriaan, Charles, Chris jr. en dr. Naudé.
Chris sr. sê wanneer 'n boer die regte visie vir die toekoms gekry het, kan dit 'n groot ommeswaai in die boerdery verg. Hy moet bereid wees om van die gebaande weë af te wyk as dit die boerdery meer volhoubaar sal maak. Dit is ál manier om in die hedendaagse mededingende plaaslike en internasionale landbou-omgewing suksesvol te wees.
Die landbou is in 'n kosteknyptang vasgevang. Enige boer wat wil oorleef,moet sy uitgawes dophou en besnoei waar hy kan. Dit geld nóg meer vir 'n groot boerdery, soos die Rossouws s'n.
Chris sr. weet waarvan hy praat, want hy is al veertig jaar lank in hierdie beroep. Hy het in 1964 op 43 hektaar huurgrond begin boer en trekkers en werktuie by sy pa geleen. Later het hy 150 hektaar grond asook werktuie gekoop. Daarna was daar geen keer aan hom nie.
Verminderde bewerking in graanproduksie is een metode om koste te besnoei, danksy 'n kleiner dieselrekening.
Die boerdery koop eerder kleiner trekkers en werktuie. Die besteding aan nuwe werktuie is dus laer. Dit beteken nie die Rossouws skaal af na 'n swakker gehalte nie. Hulle verkies steeds goeie masjinerie ter wille van laer instandhoudingskoste.
Nóg 'n voordeel van kleiner werktuie, soos planters, is dat alles nie tot stilstand knars soos wanneer een groot werktuig breek nie. Die ander werktuie kan aangaan met die werk.
Daarmee saam pas hulle presisieboerdery toe, aangesien dit die boerdery baie doeltreffender maak.
Naubie het sedert 1964 saam op die plaas geswoeg en die seuns grootgemaak. Sy is ook steeds aktief by die daaglikse bestuur van die boerdery betrokke. Nadat sy en haar man jare lank alleen geboer het, het Charles hom in 1993 by hulle aangesluit. Saam het hulle die boerdery baie uitgebrei, onder meer na Groblersdal, waar hulle met sitrus, tafeldruiwe en mielies onder besproeiing boer. Charles woon en boer daar. Die ander gesinslede is almal in die omgewing van Delmas.
Die eerste braaikuikenhokke is in 1998 gebou en die eierhokke in 2000. Adriaan, wat in ortopedie gespesialiseer het, het sy mediese praktyk in 1998 laat vaar om sy gewig by die boerdery in te gooi. Hy het die hoenderafdeling vergroot deur nog agtien braaikuikenhokke te bou. Die eerste ten volle klimaatbeheerde hoenderhuise is in 2005 gebou.
Chris jr. het volgende plaas toe gegaan nadat hy uit beroepsrugby getree het. Hy was lid van die Springbokspan wat in 1995 die Wêreldbeker verower het. Hy het presisieboerdery begin toepas, 'n besigheid as Safex-handelaar begin en die kitsgraseenheid aangepak. Sy nuutste projek is die hoenderabattoir. Hy is ook aan die stuur van 'n Beefmasterkudde.
Naudé, 'n mediese dokter, het in 2003 heeltyds by die boerdery betrokke geraak. Hy het 'n teelhen-eenheid begin terwyl hy nog as dokter gepraktiseer het. Hy het die eierafdeling vergroot en 'n graderings- en eierpakstasie asook 'n afdeling vir vryloophenne gevestig. In 2005 het 'n voermeule gevolg om die produksiekoste te verlaag en die eiers se gehalte te verseker. Daarna het hy 'n moderne lêhen-grootmaakplaas gebou. Hy was verlede jaar Mpumalanga se Jongboer van die Jaar.
Die Rossouw-groep het 70 bestuurders en 600 werkers heeltyds in diens. In só 'n groot onderneming is bestuur baie belangrik. Daarom het elke afdeling sy eie finansiële bestuurder.
Landbouweekblad het ook met die vier seuns gesels. Dit is opmerklik hoe geesdriftig en optimisties hulle oor die landbou is.
Hoewel hul pa oorkoepelend by alle afdelings van die boerdery betrokke is, is elke seun vir 'n afdeling verantwoordelik. Die hoenderafdeling met ál sy "kuikens" sorg vir die grootste deel van die groep se jaarlikse omset. Volgens Adriaan is 'n kuikenbroeiery die volgende logiese uitbreiding. Dan sal hulle die hele spektrum van pluimveeboerdery dek - van die lêhen-eenheid en teelouerteling tot eierproduksie, 'n grootmaakafdeling, die verskaffing van kuikens aan die bedryf en hul abattoir.
Chris jr. word deur mnr. Christoff Joubert, 'n produksiebestuurder en landboukundige, bygestaan.
Die familie het in 2006 oor waardetoevoeging tot die graanboerdery besin en besluit om die braaikuikenboerdery te vergroot. Só kry hulle 'n groter inkomste uit die mielies deurdat die kuikens meer van hul geproduseerde mielies benut. Hulle het hul eie graansilo's vir die opberging van mielies. Tans verkoop hulle nog mielies, maar namate die hoenderboerdery groei, styg die verbruik. Die mikpunt is uiteraard om later alles self te benut.
Daarna het hulle besluit om 'n abattoir te bou ten einde hul eie braaikuikens te slag en te bemark. Hulle slag ook braaikuikens vir ander produsente. Die abattoir is ontwerp om met verdere uitbreidings 'n miljoen braaikuikens per week te slag. Hulle slag nou weekliks 200 000 hoenders, maar beoog om dit binne 'n jaar of wat tot 720 000 per week te verhoog. Dit sal ook 'n groter mark vir die veevoerfabriek skep.
Die Rossouw-groep se vyfjaarplan sluit sterk groei in - onder meer om eierproduksie vanjaar met 20% te verhoog deur die lêhenne tot 530 000 te vermeerder. Daar is reeds met die oprigting van nog produksiehuise begin.
Die vervaardiging van voerkorrels in die voerfabriek, waar Naudé in beheer is, word vanjaar beoog om in die braaikuikenafdeling se beoogde groter behoefte te voorsien.
'n Bietjie verder in die toekoms is planne vir die vervaardiging van biodiesel uit hul eie sojabone. Dit is nóg 'n projek waarmee die Rossouws waarde tot hul graan wil toevoeg.
Die voermeule en mengeenheid het 'n vermoë van 35 ton voer per uur. Hulle gebruik hoofsaaklik hul eie mielies om 2 000 ton hoendervoer per maand te produseer. Hulle verkoop 'n bietjie voer aan bure.
Sodra die braaikuikenafdeling voltooi is, sal die produksie verdubbel word. Die boerdery verbou verder droëbone en sojabone, wat uiteraard 'n belangrike afdeling is. Vir albei gewasse is die gemiddelde opbrengs 'n goeie 1,8 ton per hektaar.
Plaasproewe word deurlopend saam met maatskappye gedoen om saad, plaagdoders, plantvoeding en toerusting te evalueer. Een van die mikpunte is om gaandeweg meer omgewingsvriendelik te boer.
Chris sr. is baie opgewonde oor die kitsgrasafdeling (400 hektaar kikoejoe en Cynodon onder besproeiing). Dit hou 'n lae risiko in omdat dit nie deur hael beskadig word nie en min besproei word. Verder lewer dit 'n konstante inkomste.
Die gras word met mis uit die hoenderhuise bemes. Hulle bespaar dus op misstof en raak sinvol van afvalstowwe uit die hoenderhuise ontslae. Die gras kry net een keer per jaar chemiese kunsmis.
Hulle oes tans een keer per jaar grassooie van 'n land, maar mik vir drie oeste in twee jaar ter wille van groter kostedoeltreffendheid.
Die grassooie word met werktuie geoes wat die gras onder die grond afsny en in ewe groot sooie verpak.
Met gemiddeld 12 000 m2 kitsgras per dag is die Rossouws een van die grootste verskaffers in die land. Dit lewer 'n beter netto wins as mielies, waarvan die produksiekoste by hulle R5 500 per hektaar en die langtermynopbrengs 6 ton per hektaar is.
Weens die stygende produksiekoste is die gelykspeelpunt besig om nader aan 5 ton mielies per hektaar te kruip. Daarteenoor kan hul kitsgrasproduksie met 'n mielie-oes van meer as 10 ton per hektaar vergelyk word.
By die kitsgras speel bemarking en bestuur 'n geweldige groot rol, aangesien dié bedryf hoogs gespesialiseerd en mededingend is.
Tafeldruiwe en sitrus verdien valuta
Toe die Rossouws van Delmas en Groblersdal
besluit het om ook met tafeldruiwe
en sitrus te boer, was dit om produkte te
produseer wat hulle kan uitvoer ten einde
buitelandse valuta te verdien.
Só vertel mnr. Charles Rossouw sommer met die intrapslag met Landbouweekblad se besoek aan die plaas by Groblersdal waar hy in beheer is. Aanvanklik het hulle net lemoene geproduseer, maar later ook tafeldruiwe bygevoeg. Daar is nou ook 175 hektaar mielies onder besproeiing.
Hy sê met vrugteboerdery gaan dit soos in sport: 'n Mens moet langer as jou teenstander kan uithou, dan kom jy bo uit. Net so poog hy om uit 'n situasie van deurlopende pryssensitiwiteit weg te kom.
Sporadies hoë pryse is nie 'n boer se poort tot sukses nie. Rossouw volg eerder 'n model waarmee hy deurgaans 'n gesonde kontantvloei het.
Daarmee saam gaan hoë produktiwiteit, die doeltreffende gebruik van hulpbronne en die verlaging van risiko's. Met byvoorbeeld haelversekering, die bou van damme, die sink van boorgate en die plant van kultivars wat puik vrugte lewer, haal hy baie risiko's uit die boerdery sodat hy meer aandag aan produksie, bestuur en bemarking kan gee.
Nóg 'n manier om risiko's te verminder, is om hom te skaar by ander mense wat al lank in die bedryf is, soos uitvoerders met afsetgebiede in die buiteland. "Die boer kan alles op die plaas doen om 'n goeie produk te lewer, maar hy moet ook seker maak die produk loop daarna die regte pad," sê hy.
Die Rossouws voer druiwe na die Verre- Ooste en Brittanje uit en sitrus na die Verre- en Midde-Ooste, Brittanje, Europa en Kanada. Hulle versprei hul risiko's verder deur ook vrugte aan plaaslike supermarkte te lewer.
Rossouw sê 'n groot deel van sy sukses is sy werkers. Hy het vertroue in elkeen. Hulle lewer op hul beurt 'n goeie diens, want hy sorg dat hulle deeglik opgelei is en hy bestuur hulle goed.
As 'n bestuurder nie die vermoë het om opdragte sinvol aan werkers oor te dra nie of hy kan bloot nie met mense werk nie, glip die klein jakkalsies by die wingerd in en veroorsaak dit probleme en skade. Daarom het Rossouw 'n bestuurstelsel ontwikkel om sy werkers só te bestuur dat hy volle vertroue in hulle het, veral in sy bestuurders.
'n Boer wil graag hê sy werkers moet hul take net so goed uitvoer as wat hy dit self sou doen. Rossouw maak gevolglik seker hy stel mense met die regte eienskappe en vermoëns aan, veral in bestuursposte. Hy het elf blanke en vier swart bestuurders, met twee blankes en twee swartes op senior vlak.
Hulle bepaal self die werkers se inkomste volgens 'n bepaalde struktuur, aangesien die boerdery nie vaste salarisse (minimum lone) betaal nie, maar vergoeding volgens stukwerk geskied. Hoe harder 'n werker werk en sy dagtake volgens die beplanning uitvoer, hoe groter is sy inkomste.
Rossouw maak egter sélf seker foute sluip nie in nie, want ongeskoolde werkers kan dit nie self doen nie.
Die bestuurders doen ook alle aanstellings en ontslaan mense wat nie meer hul plek in die boerdery verdien nie. Mnr. Ranald Matlou, 'n oud-onderwyser, is die verhoudingsbestuurder. Hy bestuur konflikte en is vir opleiding verantwoordelik.
Rossouw het die verantwoordelikhede duidelik afgebaken. Elke bestuurder weet presies wat sy take en verantwoordelikhede behels en is ook geleer om planne te beraam as dinge skeefloop.
"Ek boer nie met vrugte nie, maar bestuur mense. Wanneer ek beter pryse beding, baklei ek ook vir my werkers. Almal trek voordeel uit die voorspoed. Gevolglik is my bestuurders ook op doeltreffendheid ingestel en stel hulle slegs goeie werkers aan. Dit laat die boerdery klopdisselboom loop," sê Rossouw.
Boerdery is hoogs gediversifiseerd
Die Rossouw-groep bestaan uit die volgende filiale:
Landbouweekblad, 29 Februarie 2008