Landbou
Alternatiewe energie: Ken jou stelsel
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

Prof. Paul Wessels van die plaas Krapfontein, buite Bloemfontein, weet presies wat in sy son- en windkragstelsel aangaan. Hy staan soggens om 05:00 op, maak vir hom 'n koppie koffie (met 'n elektriese ketel danksy krag uit die batterye wat met son- en windkrag gelaai is) en stap dan uit na die kampie waar sy windlaaier en sonpanele opgerig is.

Daar skryf hy vyf verskillende syfers in 'n logboek neer - hoeveel krag sy windlaaier asook sy sonpanele die afgelope 24 uur opgewek het, die balans in sy batterybank en die minimum en maksimum volt (die stroomspanning) in die battery.

"Dit is absoluut ál wat nodig is om te sien dat jou stelsel elke dag perfek werk. Maar jy móét dit doen, anders is alles verlore," sê mnr. Nelson Adams van Kaapstad. Hy is een van Suid-Afrika se voorste kenners van alternatiewe krag.

Hy glo vas in die ou gesegde dat jy moet meet om te kan weet en uiteindelik te kan bestuur. Anders tas jy ook maar net in die donker rond.

Wessels word met 'n Penta DC-meter in sy taak bygestaan. Adams is die ontwikkelaar en patenthouer van dié toestel, wat 'n voltmeter, ampère-meter en 'n ampère-uurteller is. Dit toon ook die hoogste en laagste stroomspanning in die batterye.

Adams sê baie mense is aanvanklik skepties oor die meter en beskou dit as 'n mors van tyd en - teen sowat R2 500 stuk - 'n vermorsing van geld. Maar, soos Wessels gou uitgevind het en nou onomwonde erken, sonder die meter "is jy in dieselfde gemors as wat Eskom nou is".

Talle gebruikers van groen energie weet nie hoeveel energie hul sonpanele en windlaaiers opwek nie. Hulle weet ook nie hoeveel elektrisiteit hul toestelle gebruik en hoeveel krag in hul batterye oor is nie. Adams verduidelik: "Veronderstel jou battery se stroomspanning mag nooit minder as 31 V wees nie en nooit meer as 43 V nie. As ek oor drie maande by jou kom en jou vra wanneer jou battery onder 31 V was, sal jy my nie kan sê nie. Die enigste uitweg is om daagliks of minstens weekliks die data neer te skryf.

"Met hierdie syfers het jy bewyse ingeval van 'n waarborg-eis as jou batterye voortydig ingee. Met die Pentameter is dit ook baie maklik om 'n ontlaaitoets te doen en só die houvermoë en dus gehalte van jou batterye te bepaal.

"Deur elke oggend op 'n spesifieke tyd, verkieslik voor sonop, die 24 uur-lesings af te skryf en permanent op rekord te hou, sal jy gou agterkom wat in die stelsel aangaan," is sy raad.

Die belangrikste voordeel van die meter en noukeurige rekordhouding is doeltreffende bestuur. "Hoe kan jy jou krag bestuur as jy nie weet hoeveel ingaan en hoeveel onttrek word nie?" wil Adams weet.

In sy eie huis is hy fanaties oor kragbestuur. Hy skryf elke oggend die eenhede neer. Deur sy groot vries- en yskas met 'n energiebesparende kombinasie-yskas te vervang, kon hy sy eie gemiddelde energieverbruik van 11 kW-uur per dag tot net 6 kW-uur per dag verminder. Boonop het die yskas hom net R2 500 gekos. 'n Sonverwarmer sorg vir genoeg warm water.

"Om 'n sukses van 'n alternatiewe energiestelsel te maak, het jy nie spesialiskennis nodig nie. Jy moet net die basiese toestelle kry wat in jou spesifieke omstandighede die beste sal werk ('n omsetter, batterye, sonpanele en 'n windlaaier). Dan moet jy by die basiese reël hou: Jy kan nie meer onttrek as wat jy insit nie.

"En sonder die Pentameter is daar geen manier om dit te doen nie en sal jy vir altyd in die donker rondploeter," sê Adams.

Dit help jou ook om uit te werk hoe lank 'n kragopwekker moet loop wanneer jy nie op wind- en sonenergie kan staatmaak om die batterye te herlaai nie.

Elke plaas kry verskillende hoeveelhede son en wind. Daarom is dit onmoontlik om 'n stelsel te standaardiseer, sê Adams. "Jy het gewoonlik sewe uur tot tien uur sonlig per dag. Die wind waai wanneer hy wil, so sterk as wat hy wil. Jou kraggebruik wissel deur die dag en verskillende toestelle gebruik verskillende hoeveelhede krag. Dit alles verskil van plaas tot plaas. Hoe kan dit in balans gebring word as jy nie meet wat daar aangaan nie?"

Hy is bekommerd oor die regulering van batterye in Suid-Afrika. "Dit is skokkend om te sien dat son- en windlaaiers afgeskakel word lank voordat die batterye volgelaai is. In sommige gevalle word 'n verwarmer op die battery neergesit om die stroomspanning af te bring.

"Met die Pentameter is dit maklik om hierdie euwel hok te slaan en die lewe van batterye met jare te verleng. Die enigste aanvaarbare manier om 'n battery te laai, is soos met 'n karbattery: Bring die stroomspanning tot by die vol-merk en hou dit daar, al ry jy ook Kaïro toe en terug. Klein verstellings is vir spesifieke batterye nodig, maar die laaiproses is altyd dieselfde."

Adams is oortuig daarvan dat die sukses van enige son- en windkragstelsel afhanklik is van die eienaar se kennis daarvan en betrokkenheid daarby.

Suid-Afrika is ver agter
Suid-Afrika is sowat 250 jaar agter die res van die wêreld wat alternatiewe energie betref, sê mnr. Nelson Adams, 'n kenner van alternatiewe energie.

As 'n jarelange lid van onder meer die internasionale sonenergie-vereniging en die Amerikaanse sonenergie-vereniging, weet hy wat in die buiteland aangaan.

"Die kennis is beskikbaar en Amerikaners is nie bang om dit vir jou te gee nie. Hulle kry egter astronomiese subsidies. Vir elke windlaaier wat in Suid-Afrika verkoop word, word minstens 1 000 in Amerika verkoop. Met sonpanele is dit dieselfde.

"Duitsland kry gewoonlik 2,5 uur tot 3 uur sonlig per dag. Kaapstad kry 5 uur tot 6 uur en Upington 8 uur. Suid- Afrikaners het dus tot vier maal meer energie tot hul beskikking, maar doen niks daarmee nie."

Landbouweekblad, 7 Maart 2008