Bevindings van 'n navorsingsverslag wat pas vrygestel is, weerlê die gewilde beskuldiging dat die georganiseerde landbou traag is om by die opheffing van voorheen benadeelde gemeenskappe in die landbousektor betrokke te raak.
Luidens 'n nuusverklaring het Agri SA se bedryfskamer het die opname onder bedryfsorganisasies gedoen met die doel om die vordering en die omvang van boerontwikkelingsprojekte te meet waarby voorheen benadeelde gemeenskappe betrokke is.
Die vraeboog is aan 27 geaffilieerde bedryfsorganisasies gestuur, wat verteenwoordigend is van die akkerbou-, tuinbou- en diereproduksiegroeperings. Sewentien vraelyste is terug ontvang. Dié wat nie gereageer het nie, verteenwoordig hoofsaaklik kleiner bedryfsvertakkinge.
Die vraelys het nie met grondhervorming as sodanig gehandel nie, maar met steundienste om nuwe toetreders tot die landbou in staat te stel om wel suksesvol en volhoubaar te kan boer.
Van die belangrikste bevindinge dui daarop dat die meeste bedryfsorganisasies by boerontwikkelingsprojekte betrokke is, aangesien 17 organisasies dit as 'n prioriteit uitgesonder het. Bedryfsorganisasies is by 97 verskillende projekte betrokke wat dui op 'n gemiddelde van 6 projekte per organisasie. Die kritiese prestasie-areas dui daarop dat die projekte in volgorde van prioriteit daarop fokus:
Die suksesrekord, soos aangedui deur die respondente van hierdie projekte, dui daarop dat 71% goed verloop, 24% gemiddeld en 3% swak vertoon. Die totale besteding aan die projekte in randwaarde toon 'n stygende neiging.
Daar is aanvanklik R11,5 miljoen in 2002/03 aan die projekte spandeer teenoor die R52,4 miljoen in 2006/07 aangewend. 'n Gemiddelde bedrag per bedryfsorganisasie van nagenoeg R1,9 miljoen en R3,1 miljoen is respektiewelik in die betrokke jare bestee.
Die interne personeel van bedryfsorganisasies wat aan die projekte toegewys is beloop 87. Daar is onderskeidelik 23 vennote en 31 konsultante by dié aksies betrek.
Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Agri SA se bedryfskamer sê dat 'n verslag oor die betrokke opname nou voltooi sal word, terwyl dit ook gereeld herhaal sal word om vordering te bepaal.
7 Maart 2008