Landbou
Is sellulose-etanol die toekoms?
Deur MARLEEN SMITH

Regverdig of te nie, etanol, spesifiek uit mielies, se reputasie het binne 'n jaar van held na skurk verval.

Dis omtrent net die etanolvervaardigers self wat nog volhou dat kos- en voerpryse wat die hoogte in skiet, nie hul skuld is nie. Selfs pres.GeorgeW. Bush,wat etanol twee jaar gelede nog as wonder-geneesmiddel vir Amerika se verslawing aan buitelandse olie voorgehou het, het sedertdien tot ander insigte gekom.

"Ons het 'n probleem met hernieubare brandstof. Die mielieprys begin voedselkoste beïnvloed en dit maak die varkboere en 'n klomp ander ouens seer," het Bush onlangs op 'n mediakonferensie erken. Dit is dieselfde Bush wie se wetgewing van mandate, belasting-toegewings en invoertariewe die afgelope twee jaar 'n kunsmatige mark geskep en die mielie-etanolstormloop in Amerika ontketen het.

Uit groen kringe is die kritiek teen mielie- etanol deesdae so fel dat 'n mens amper begrip kan hê vir die etanol-manne se aantyging dat 'n georkestreerde smeerveldtog teen hulle gevoer word.

Kenners meen dat daar eenvoudig nie genoeg landbougrond en water is om in die bedryf se groeiende dors na mielies te voorsien nie, in elk geval nie genoeg om die Amerikaanse regering se vereiste van 163 miljard liter (36 miljard gelling) binnelandse verbruik teen 2022 (omtrent vyf keer meer as nou) te haal nie.

Daar is reeds oproepe uit die etanolbedryf dat plaasgrond wat kragtens 'n bewaringsprogram van die Amerikaanse departement van landbou aan gewasproduksie onttrek is, weer vir verbouing beskikbaar gestel moet word. Elders in die wêreld, soos in Brasilië, is daar kommer oor grootskaalse ontbossing om vir nuwe graanlande plek te maak.

In 'n onlangse studie is bevind dat etanolproduksie uit voedselgewasse uiteindelik eerder vir 'n toename as 'n afname in kweekhuisgasse kan sorg as nuwe lande omgeploeg word om aanplantings uit te brei.

Die etanolkamp se teenargument is dat die doeltreffendheid van gewas- én etanolproduksie vinnig genoeg aan die verbeter is om dit te keer.

Mnr. Mark Stowers, ondervoorsitter van Poet, Amerika se grootste etanol-vervaardiger, voorspel dat dié land se etanolproduksie binne die volgende agt jaar tot sowat 4 091 liter (900 gelling) per 0,4 ha (1 akker) mielies gaan verbeter. Dit sal 'n verdubbeling vanaf die huidige sowat 2 045 liter (450 gelling) per akker wees.

Mnr. Bob Dinneen, hoof van die Renewable Fuels Association, wat die bedryf in Washington DC verteenwoordig, sê mielieoeste gaan danksy tegnologiese vordering verdubbel "lank voordat dit nodig sal wees om 'n stootskraper met 'n permit vir biobrandstof- produksie in die nasionale Yellowstone- park in te stuur."

Dinneen noem die kritici 'n "kwetterende klomp ongelowiges wat verandering vrees". Die debat oor voedsel teenoor brandstof (waarin die gebruik van voedselgewasse vir brandstof bevraagteken word) maak hy as " 'n bedrogspul" af.

"Asof ons móét kies (tussen kos en brandstof); asof boere nie daartoe in staat is om in die groeiende vraag na kos, vesel en brandstof te voorsien nie," sê Dinneen. Die kritici ignoreer die feit dat etanol-aanlegte brandstof én voer produseer,meen hy.

Nóg 'n stemwerwer vir etanol, mnr. Doug Durante, hoof van die Clean Fuels Development Coalition in Washington, kla dat die bedryf onder 'n onregverdige las ly omdat etanol aanvanklik as 'n wondermiddel voorgehou is. Nou word hulle gekritiseer omdat dit nie die oplossing vir alle probleme blyk te wees nie, is sy teorie.

Dinneen, Durante en kie voer op hul beurt 'n ywerige veldtog teen wetenskaplikes wat graan-etanol se omgewingsvriendelikheid bevraagteken. Maar die kritici se vrese vind nogtans weerklank in Wall Street.

Die meeste beleggers het die afgelope jaar ten minste op papier geld verloor, sê mnr. Vincent Andrews, 'n ontleder van Morgan Stanley. Terwyl etanolproduksie met 20% gegroei het, was winsgroei maar 1%.

Etanol se Amerikaanse markwaarde het vanaf 'n hoogtepunt van sowat R28 miljard ($3,5 miljard) tot omtrent R16 miljard ($2 miljard) nou geval, bereken Andrews. Hy wys daarop dat ses biobrandstof-maatskappye van 2005 tot 2007 op Wall Street genoteer is, maar nog nie een sedert Junie 2007 nie.

Die werklikheid is dat beleggers deesdae veel meer aan die ander kant van die waardeketting verdien - met beleggings in maatskappye, soos Monsanto en John Deere, wat produksiemiddele aan boere verkoop. Dit is omdat boere danksy die hoë kommoditeitpryse veel meer geld in die sak het.

Andrews sê een van die beleggers se grootste bekommernisse is dat daar nie genoeg landbougrond ter wêreld is om in opkomende markte se groeiende vraag na proteïene en die ontwikkelde wêreld se behoefte aan biobrandstowwe te voorsien nie.

Volgens sy beramings kan 75 miljoen akker vir gewasproduksie geskep word as die res van die wêreld se gemiddelde mielieopbrengs tot dieselfde as Amerika s'n verhoog kan word, maar dan sal biotegnologie op groter skaal in die res van die wêreld benut moet word. As Amerikaanse opbrengste boonop met die hulp van biotegnologie tot 200 skepels per akker kan verbeter, sal dit nog 29 miljoen "virtuele" akker skep, reken hy.

Nóg 'n onsekerheid wat aan beleggers knaag, is of die etanolbedryf op eie bene sal kan staan sodra die Amerikaanse regering sy aansienlike politieke en finansiële steun onttrek.

Die regering se Renewable Fuel Standard (RFS), wat vereis dat sowat 164 miljard liter (36 miljard gelling) biobrandstof teen 2022 in Amerika verbruik moet word, is 'n kritieke steunpilaar. Andrews sê die debat onder beleggers is deesdae egter nie meer wanneer die RFS verhoog gaan word nie, maar wanneer dit afgeskaf gaan word.

Hulle wonder ook wat van hul beleggings gaan word as die subsidies aan etanol-vervaardigers afgeskaf word. Die belastingtoegewing van sowat R4 per 4,5 liter (51 sent per gelling) vir vermengers benadeel die bedryf se status onder beleggers, meen Andrews. Dit skep 'n wanbalans tussen vraag en aanbod en sorg vir wisselvallige pryse en winste.

Ondanks al die probleme is etanol 'n bedryf wat gekom het om te bly, al is dit net om die eenvoudige rede dat fossielbrandstowwe nie volhoubaar is nie. Daarom tuur almal, van beleggers tot boere, in die kristalbal om te probeer sien watter nuwe pad biobrandstof die toekoms in gaan loop.

Toe Bush twee jaar gelede in sy staatsrede verklaar het Amerika het 'n ernstige probleem - sy olieverslawing - het dit die fondament gelê vir 'n omwenteling wat sedertdien die aansig van die wêreld se landbou-ekonomie drasties verander het.

Terugdraai is nie moontlik nie, maar daar is redelike konsensus dat die klem na ander grondstowwe, die sogenaamde tweedegeslag-biobrandstowwe, gaan verskuif.

Sellulose-etanol is hoog op almal se agenda, selfs dié wat reeds etanol uit mielies vervaardig. Heelwat tegnologiese ontwikkeling sal nog gedoen moet word om dit kommersieel vatbaar te maak, maar Dinneen meen dis nader as wat die meeste mense dink.

Hy sê 'n aanleg in Wyoming produseer reeds etanol uit houtafval. Ander bestaande etanol-vervaardigers het belowende tegnologieë ontwikkel.

"Namate die bedryf groei, sal ons na nuwe grondstowwe kyk. Ons besef ons moet verby grane beweeg om te kan groei. Ek kan nie sê wat die uiteindelike sellulosegrondstof van keuse gaan wees nie, maar dit (sellulose-etanol) gáán kom. As ons ooit olie met biobrandstowwe wil vervang, sal ons die kode vir sellulose-etanol moet ontrafel, ons besef dit, sê hy."

Stowers, van Poet, meen die produksie van sellulose-etanol sal met mielies begin, uit die stronke en vesel wat agterbly as mielie-etanol geproduseer word. Die bestaande mielie-etanolprodusente sal waarskynlik ook met sellulose-etanol die voortou neem, meen hy.

Amerika: Nuwe minister se groot planne
Die nuwe Amerikaanse landbouminister, mnr. Ed Schafer, het groot planne en 'n onbenydenswaardige taak, maar hy is 'n man wat 'n plan kán maak.

'n Paar jaar gelede het dié gryskop-politikus aan die werklikheidsprogram "Junkyard Wars" op televisie deelgeneem. Hy en sy span moes masjiene uit skrootmetaal aanmekaarslaan om hul teenstanders se ingenieursvernuf te troef. Kaptein Ed en sy High Flyers het onder meer 'n kontrepsie uit ou vragmotorvere gebou wat 'n wasmasjien 21 meter ver geslinger het. Later was dit 'n stootskraper uit 'n oorlede kampeerwa en 'n ploegskaar -om 'n kamma-verkeersknoop van motorwrakke op te ruim.

Dít was alles vir die pret, anders as kaptein Ed se jongste missie. As die nuwe grootbaas van Amerika se magtige departement van landbou rus 'n ernstige taak op Schafer se skouers - om 'n nuwe "Farm Bill" deurgevoer te kry. Hiervoor sal nie net die kibbelende politici op Capitol Hill tevrede gestel moet word nie, maar ook pres. George Bush, wat al maande lank dreig om die wet te veto, en die miljoene gewone Amerikaners wat 'n regstreekse belang by dié wet het.

In sy nuwe rol as politieke bemiddelaar sal Schafer skeppend moet dink, want die Farm Bill is 'n omstrede omnibus wat 'n magdom uiteenlopende stukke wetgewing omvat en waarby 'n swetterjoel botsende belange betrokke is - huidiglik belange ter waarde van so R2 286 miljard ($286 miljard) oor vyf jaar.

Een goeie teken vir dié wat op hervorming hoop, is dat Schafer 'n uitgesproke voorstander van kleiner regering is, waarskynlik een rede waarom Bush hom in hierdie kritieke tye opgekommandeer het. Schafer was vroeër vir twee termyne goewerneur van die boerderystaat Noord-Dakota. Toe hy einde Januarie ingehuldig is, was die vooruitsigte op 'n nuwe Farm Bill reeds droewig. Dit was veronderstel om al in 2007 deurgevoer te word. Dele van die 2002-wet moes einde verlede jaar dringend verleng word om nóg 'n paar maande te geld.

Die huis van verteenwoordigers en senaat het in die afgelope paar maande twee uiteenlopende weergawes van die wet aanvaar. 'n Komitee met lede uit albei huise moet nou aan die verskille skaaf om 'n konsensus-weergawe op te stel. As dié klaarblyklik onmoontlike wel behaal word, moet Bush dit ook nog aanvaar.

Hy eis egter dat subsidies vir kommoditeite met miljoene dollar meer besnoei word as wat enige van die twee huise se voorgestelde wette doen. Dié subsidies word aan Amerikaanse boere uitbetaal wanneer die markprys onder produksiekoste val. Dit verteenwoordig maar sowat 15 % van die Farm Bill-besteding, maar is die mees omstrede komponent.

Bush meen voorts die twee huise se konsepwetgewing hef nuwe belastings om uitbetalings te finansier, iets wat hy weier om goed te keur.

Met die lente hier is Amerikaanse boere moedeloos oor die politieke skaakmat. Hulle moet besluit wat en hoeveel om te plant, maar weet nie watter subsidie-bedeling gaan geld nie.

Schafer som sy onbenydenswaardige posisie goed op: Hy moet 'n Farm Bill aanvaar kry wat 'n sterk genoeg veiligheidsnet vir boere bied, maar die subsidie-bedeling terselfdertyd betekenisvol hervorm, sonder om nuwe belastings te hef. Dit moet alles binne minder as 'n jaar gebeur, want as 'n nuwe president teen vroeg volgende jaar in die Wit Huis intrek, sal Schafer ook sy kabinetspos kwyt wees. Dis geen geringe taak nie, maar hy kan hom daaraan troos dat hy die stuurstokke in 'n tyd van ongekende voorspoed in Amerika se landbou oorneem. Die bedryf is finansieel die sterkste nóg, met rekorduitvoer, rekordplaasinkomste en sterk vooruitsigte van voortgesette groei.

Dis dalk waarom Schafer nie bang is om nog hooi op sy vurk te neem nie. Hy het pas 'n tweede missie vir sy beperkte termyn aangekondig - om bekostigbare breëband-internet tot op die verste dorp en plaas te neem.

As Noord-Dakota se goewerneur het Schafer toegesien dat bykans 200 afgeleë gemeenskappe in daardie staat aanlyn gebring word. Later, nadat hy as goewerneur uitgetree het, was hy medestigter van die maatskappy Extend America, wat hom ten doel stel om breëbandtegnologie na afgeleë gebiede in vyf Midde-Westelike state te neem.

Hy meen hoëspoed-internet is onontbeerlik vir die 60 miljoen Amerikaanse plattelanders en veral vir boere wat lankal nie meer blouboordjie-werkers is wat net kan ploeg en plant nie. "Die internet is vir ons eeu wat die spoorweë vir die vorige eeu was," het Schafer onlangs op 'n konferensie in Washington DC gesê.

Met Job se geduld, Salomo se wysheid en 'n goeie skoot geluk sal hy dalk in sy paar maande as minister 'n belangrike wa vir die Amerikaanse landbou deur die drif kan trek. As hy wel 'n Farm Bill deurgevoer kry, kan dit broodnodige subsidiehervorming behels, wat die internasionale speelveld vir boere in lande, soos Suid- Afrika en Australië, effens gelyker sal maak.

As Schafer nie die Farm Bill-klip uit die pad gerol kry nie, maar selfs net die grondslag vir breëband-uitbreiding na die platteland gelê kry, sal dit nogtans die welkome begin van 'n nuwe era vir die Amerikaanse landbou inlui.

Landbouweekblad, 21 Maart 2008