Landbou
Landbou reik uit na nuwe boere
Deur ISABEL STOLTZ (istoltz@landbou.com)

Politici beskuldig die georganiseerde landbou dikwels daarvan dat hy niks doen om nuwe toetreders tot die landbou te help nie, sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Agri SA se bedryfskamer.

Agri SA het 'n opname onder geafilieerde bedrywe gedoen om vas te stel wat die georganiseerde landbou tot die ondersteuning van nuwe boere bydra om dié beskuldiging te weerlê.

Dit blyk uit die opname dat kommersiële landboubedrywe se besteding aan dienste ter ondersteuning van swart boere van meer as R11,5 miljoen in 2002/'03 tot meer as R52,3 miljoen in 2006/'07 gestyg het.

Vraelyste is aan 27 bedrywe gestuur, waarvan 19 terug ontvang is. Bedrywe wat nie gereageer het nie, verteenwoordig hoofsaaklik kleiner vertakkinge, wat uiteraard beperkte finansiële vermoëns het.

Mnr. Johan Pienaar, adjunk uitvoerende direkteur van Agri SA, sê bedryfsorganisasies is by 93 verskillende projekte betrokke - 'n gemiddelde van vyf projekte per organisasie. Die organisasies staan altesame 87 personeellede aan die projekte af, terwyl 'n verdere 23 vennote en 31 konsultante daarby betrokke is.

Die opname toon dat in 2002/'03 meer as R1,9 miljoen per bedryf aan boerontwikkeling bestee is. Dié syfer het in 2006/'07 tot meer as R3 miljoen per bedryf geklim.

Die opname was gemik op steundienste wat gelewer word om nuwe toetreders tot die landbou in staat te stel om suksesvol en volhoubaar te boer. Grondhervorming was nie ter sprake nie.

Die programme skenk veral aandag aan:

  • Kommersiële lewensvatbaarheid.
  • Opleiding en die oordrag van kennis ook ten opsigte van uitvoer.
  • Produksieverbetering.
  • Die verskaffing van produksiemiddele en infrastruktuur (byvoorbeeld skure).
  • Mentorskappe.
  • Bevordering van bemarkingsgeleenthede.
  • Inskakeling van nuwe boere by bestaande strukture en studiegroepe.

    Dit blyk uit die terugvoer dat boerontwikkeling 'n voorrangsaak vir die meeste bedrywe is - 13 beskou dit as 'n integrale deel van die organisasie.

    Van die vermelde projekte vaar 75% goed, 22% presteer gemiddeld en 3% vaar swak.

    Tien bedrywe wat gereageer het op 'n vraag oor die finansiële en volhoubare sukses van projekte, het aangedui dat van die projekte waarby hulle betrokke is, finansieel beter daaraan toe is ná die georganiseerde landbou se toetrede. Vyf het gesê hul projekte sal onafhanklik en volhoubaar kan voortgaan.

    Kommentaar oor 20 programme wat nuut (2008) of reeds afgehandel is, is nie ontvang nie.

    Redes wat aangevoer word vir die welslae van projekte is die afwesigheid van politieke kwessies en die betrokkenheid van alle begunstigdes en belangegroepe, vennootskappe met landboubesighede, 'n kommersiële fokus, tegniese ondersteuning, studiegroepe, hulp met marktoegang en vaardigheidsoordrag met behulp van mentorskappe.

    Deur middel van die projekte is studiegroepe gestig, funksioneel doeltreffende strukture tot stand gebring en kommunikasie, produktiwiteit en produksie verbeter. Op sosiaal-ekonomiese vlak het begunstigdes se inkomste begin styg en 'n sakekultuur is gevestig.

    Swak vertonings word gekoppel aan regeringsrompslomp, groot groepe begunstigdes, 'n gebrek aan 'n geheelplaas-benadering, gebrekkige bestuursvermoë, 'n gebrek aan kapitaal en markfokus en ingewikkelde sakeplanne.

    Knelpunte wat na vore gekom het, is voorligtingsbeamptes se beperkte kennis en praktiese ervaring, onrealistiese verwagtinge en begunstigdes wat nie in boerdery hoort nie, grondbesit en logistieke probleme, betrokkenes wie se pogings ongekoördineerd is en opkomende boere wat ongeorganiseerd is, die koste van kapitaal, leierskapgebreke en afwesige kommunikasiestrategieë.

    Ferreira sê die opname sal in die toekoms gereeld herhaal word om dit te verfyn en vordering te meet.

    Die TLU SA het nie 'n amptelike boerontwikkelingsprogram nie en sy standpunt is dat die vestiging van nuwe boere nie die koste en verantwoordelikheid van kommersiële boere is nie, sê mnr. Bennie van Zyl, hoobestuurder van die TLU SA.

    Tog word boereverenigings aangemoedig om daarby betrokke te raak. Opleiding in verskillende boerderyvertakkings word veral deur studiegroepe aangebied, sê Van Zyl.

    Die TLU SA Noord is betrokke by opleiding en die bemagtiging van plaaswerkers deur middel van verskeie kursusse in onder meer dieregesondheid, insekmonitering, toesighouding, besproeiing, masjinerie-operateurs, gesondheid, noodhulp en veiligheid.

    Landbouweekblad, 28 Maart 2008