Landbou
Punteplan kan grondpaaie red
Deur THEUNS BOTHA (landbou@mweb.co.za)

Oral in Suid-Afrika is grondpaaie wat feitlik onbegaanbaar is en die landbou knel. Daar is egter 'n oplossing. Doen die herstelwerk volgens 'n puntestelsel aan die hand van die waarde van die produkte wat op die betrokke pad vervoer word.

Dit was 'n moedelose mnr. Daan Landman (50) van die plaas Bergsig in die Tsitsikamma wat Landbouweekblad onlangs gevra het om self te kom kyk hoe die paaie in sy omgewing lyk waarop duisende liters melk daagliks vervoer moet word.

Met die besoek twee weke later, verstaan 'n mens hoekom hy so beswaard is oor die toestand van die Klipdriftpad. Dit het die vorige nag 6 mm gereën en dit verg groot inspanning om te keer dat die motor op die glyerige sinkplaatpad nie in 'n sloot beland nie. Om sake te vererger, is 'n groot melktenkwa met sy vrag op pad na George teen die opdraande teëgekom. Gelukkig hou die bestuurder van die tenkwa kop en verminder spoed en kan rakelings by hom verbygery word.

Wat Landman die meeste kwel, is dat sedert hy 15 jaar gelede op Bergsig begin boer het, baie min aandag gegee is aan die Klipdriftpad van 21 km waarop 85 miljoen liter melk per jaar vervoer word. Ook duisende liters diesel en honderde tonne kunsmis en kragvoer word maandeliks op dié pad vervoer.

In teenstelling daarmee word die Eersterivierpad net langsaan, wat 'n vakansieoord en gholflandgoed bedien, dikwels opgeknap. En dit bloot omdat die gebruikers elke keer as die pad in 'n swak toestand is, hul misnoeë duidelik te kenne gee. "Die boodskap wat ek al deur middel van 'n kontrakteur oor die instandhouding van die Klipdriftpad gekry het, is dat ons boere hier die 'nice guys ' is.

Dit kwel Landman dat die owerhede net reageerwanneer die publiek forums stig en hulle tot die media wend. "Die herstelwerk aan die pad na Oesterbaai is 'n sprekende voorbeeld van vinnige reaksie nadat die gebruikers daar hul stem dik gemaak het."

Hy sê 'n medeboer, dr. Ross Naudé, het nadat boere en vakansiegangers 'n paar jaar gelede haaks was oor wie die paaie die meeste verniel, met 'n puntestelsel vorendag gekom om geld in 'n fonds te stort sodat die pad opgeknap kon word. Elkeen se bydrae is volgens die hoeveelheid passasiers in 'n motor en die waarde van die produkte wat boere vervoer, bereken. "My vraag is of so 'n puntestelsel nie op die hele land van toepassing gemaak kan word nie? Die jaarlikse toedeling van geld deur die Departement van Vervoer kan dan hiervolgens aangewend word om die plaaspaaie te herbou en in stand te hou.

"Ek glo nie in 'n proteskultuur nie. Boere en alle gebruikers kan in komitees georganiseer word en met die samewerking van die betrokke departement aanbevelings oor die instandhoudingswerk doen.

"Die huidige reëling is 'n resep vir konflik. Toekennings word soms aan kontrakteurs gemaak en jy wonder of die geld altyd oordeelkundig gebruik word. Hier was voorheen 'n kontrakteur wat 'n paar hopies gruis op die pad gegooi het. Hy het dit nie eers behoorlik plat geskraap nie en het net verdwyn.

"As ons geweet het dat daar R100 000 aan hom toegeken is, maar dat hy net argumentsonthalwe R40 000 se werk gedoen het, kon hy verkla word. Die inspekteurs is mense wat nie 'n groot salaris verdien nie en bes moontlik deur die kontrakteurs omgekoop kan word om die werk af te teken sonder dat dit behoorlik gedoen is."

Landman, wat die afgelope 13 jaar self die 3km tussen sy opstal en die Klipdrifpad in stand gehou het, sê hy is nooit daarvoor vergoed nie. "Ons betaal almal ons deel aan die belastinggaarder. Al wat ons vra, is 'n billike bedeling. Dit maak 'n mens bitter as jy hoor hoeveel miljoene vir die herstel van paaie in die provinsie bewillig word, maar wat dan weens 'n gebrek aan kapasiteit nooit in 'n boekjaar gebruik word nie."

Hy meen dit kan selfs op lang termyn vir die owerhede baie minder kos as die besigste melkroetes, soos in Nieu-Seeland, in 'n smal baan geteer word. Grondpaaie, veral waar die reënval soos in die Tsitsikamma, meer as 1 000 mm per jaar beloop, verg voortdurende instandhouding.

Op Ida in die Noordoos-Kaap sit mnr. George Pansegrauw van Treurfontein met dieselfde probleem. "Ek sit nou al weke lank op die telefoon en het almet die hoogste amptenare in Bisho gepraat. Niemand het nog opgedaag om self te sien in watter toestand die paaie hier is nie," kla hy.

Pansegrauw was al verskeie kere met mnr. Mbulelo Sonquishe, padingenieur van die Chris Hani-munisipaliteit op Queenstown, in verbinding. "Ek het ook op die 14de, 18de en 21ste Februarie met verskeie amptenare in Bisho en Queenstown gepraat en gevra of daar nie iets is wat iemand aan die paaie kan doen nie."

Ná 'n storm wat Ida vroeg in Februarie getref het, toe 50 mm reën binne 'n paar uur uitgesak het, is die brug by sy plaas met boomstompe oorspoel. Omdat geen voertuig oor die brug kon ry nie, het hy en 'n buurman met hul trekkers die stompe weggesleep.

"Dit is nie die eerste keer wat die brug toespoel nie. In die verlede kon jy die telefoon optel en was hier binne dae mense om die brug skoon temaak. Die brug wat meer as 90 jaar gelede gebou is, het reeds gate in. As dit nie reggemaak word nie of as die brug wegspoel, beteken dit 'n ompad van meer as 80 km om net aan die oorkant van die rivier te kom," sê Pansegrauw.

Mnr. Mzwanele Batatu van Scalpa op Ida, wat kinders na die skool vervoer, sê dit het 'n nagmerrie geword om die pad aan te durf. "Vra asseblief dat iemand kom kyk in watter haglike toestand die pad hier is. Dit het 'n gevaar geword om hier te ry en ons voertuie is besig om uitmekaar te skud," pleit hy.

Landman se plan het meriete
Die voorstelle van mnr. Daan Landman van die plaas Bergsig in die Tstsikamma oor 'n puntestelsel vir herstelwerk aan paaie het verdienste, sê mnr. Marius Keyser, distrikspadingenieur vir die Cacadu-streek. Dit sal egter net werk as betroubare inligting verkry kan word.

Dit sal ook verdiskonteer moet word teenoor die belange van toerisme en plaaslike dienste, soos skole, klinieke, polisiëring en toegang vir die landelike gemeenskappe. "Dit sal 'n hoogs gekompliseerde model wees wat al bogenoemde faktore in ag moet neem om by 'n werkbare resultaat uit te kom."

Keyser wys daarop dat die besteding van geld aan 'n padnetwerk volgens 'n klassieke model geprioritiseer word. Dit sluit in die roetine-onderhoud en herbou van teer- en gruispaaie wat die einde van hul funksionele lewe bereik het.

"Wanneer na die onderhoud van gruispaaie in besonder gekyk word, is dit duidelik dat die herbegruising 'n groot agterstand ontwikkel het. 'n Gruisverlies van sowat 10 mm tot 15 mm per jaar is taamlik algemeen. Dit beteken dat die standaardslytlaag van 150 mm ongeveer elke vyf tot ses jaar vervang moet word. Teen die huidige koste van sowat R300 000 per kilometer, kom dit op 'n uitgawe van R550 miljoen per jaar vir die Cacadu-streek alleen met sy 11 000 km gruispaaie te staan.

Dit is onhaalbaar en derhalwe moet daar prioritisering wees. Tans word sowat 100 km per jaar in Cacadu hergruis. Dit is hoofsaaklik in die intensiewe landbougebiede, soos die Gamtoosvallei, die Sondagsriviervallei en die melkroetes. Die plaaslike transportforums doen die aanbevelings.

"Wat die betrokke melkroete in die Tsitsikamma (die Klipdrift- en die Kaaps Drift-pad) betref, waarna in die artikel hiernaas verwys word, is daar inderdaad goeie nuus. 'n Kontrak van R6,4 miljoen is reeds toegeken. Ons vertrou dat Landman en sy bure se probleme met 'n onrybare pad eersdaags iets van die verlede sal wees," het Keyser gesê.

Landbouweekblad, 4 April 2008