Landbou
Die storie van 'n familieplaas
Deur MARLEEN SMITH

Soggens is dit nog donker as Michael Eby melkstal toe stap om sy dagtaak op sy plaas in Pennsilvanië te begin. Dan sien hy die vertroude buitelyne van die drieverdiepingskuur uit die diep skemer opdoem. Net soos sy pa, sy oupa en sy oupagrootjie voor hom.

Die reuse-skuur is al 250 jaar lank die middelpunt van die daaglikse bedrywighede op Pequea Farm, tussen die dorpe Intercourse en Paradise in Pennsilvanië se geskiedkundige Lancaster-distrik.

Die skuur toring oor die res van die buitegeboue soos 'n hen wat oor haar kuikens waghou. In die klipmuur is die name van Michael se voorvaders uitgekerf - vyf van hulle. Hulle het oor 180 jaar die een ná die ander 'n lewe uit die omliggende grond gemaak voordat Michael agt jaar gelede die boerdery se leisels oorgeneem het.

Een verskriklike herfsnag drie jaar gelede het die skuur met 30 Holstein-koeie, omtrent 2 000 hooibale en 'n klomp plaastoerusting afgebrand. Dit sou dalk makliker gewees het om die klipmurasie wat ná die brand staande gebly het, plat te stoot en van voor af 'n nuwe, kleiner skuur te bou. Maar daardie uitgekerfde name het die deurslag gegee: "My oor-oupagrootjie het sy naam in 1869 op daardie muur gelaat. Dis iets wat nie vervang kan word nie," het Michael destyds aan die plaaslike koerant gesê.

Honderde vrywilligers, die meeste Amiese boere van plase in die omgewing, het die volgende week uit die bloute opgedaag om die skuur op sy oorspronklike klipmure te help herbou. Die vroue van die omgewing het gehelp om die bouers elke dag op tafels buite kos te gee.

Die Ebys sê hulle sal altyd onthou hoe Amiese bure die oggend ná die brand van alle kante oor die omringende lande en weikampe aangestap gekom het om gratis hulp te kom aanbied. (Die Amiese geloof verbied die gebruik van enjins. Amiese mense gebruik nie voertuie nie; as dit te ver is om te stap, ry hulle perdekar of skopfiets.)

Binne weke was die herboude skuur weer 'n baken op die skilderagtige plaaslandskap - grootliks danksy die ruimhartige buurmanskap en meesterlike houtwerk waarvoor die Amiese mense bekend is.

Lancaster is een van Amerika se vrugbaarste landboustreke. Dit is ook 'n bastion van familieboerdery, dalk 'n laaste een.

In 'n tyd waarin korporasies en die skaalekonomie al hoe meer familieboerderye elders in Amerika tot 'n val bring, word meer as 99% van Lancaster se sowat 5 300 plase nog deur families besit en bewerk. Honderde is al geslagte lank in dieselfde familie se besit. Dié boere is dikwels Amiese Doopsgesindes of Mennoniete, die twee tradisievaste geloofsgroepe waarvoor Lancaster bekend is, en wat dié landskap oor drie eeue gevorm het.

Duitse immigrante op soek na godsdiensvryheid het in die vroeë 1700's dié wêreld begin bewerk. Die Ebys, wat Mennoniete is, se stamvader was een van hulle.

Die immigrante se besonderse boerderyvaardighede, die vrugbare grond en die gematigde klimaat was 'n doeltreffende kombinasie.

Twee eeue gelede het Lancaster al as die Tuin van Amerika bekend gestaan en vandag is dit steeds die produktiefste nie besproeide streek in die hele Amerika.

Die onderverdeelde plase is veel kleiner as honderd jaar gelede - die gemiddelde grootte is maar sowat 32 ha. Dit is amper raaiselagtig hoe meer as 5 000 boeregesinne dit regkry om in 'n era van kwynende boerderywinste steeds op daardie lappies grond 'n behoorlike bestaan te maak. (Amper net so ongelooflik soos om te sien hoe die Amiese mense met hul perdekarretjies en handploeë steeds soos in die 1800's leef.)

Die mense van Lancaster werk hard om hul familieplase teen die genadelose aanslae van die moderne landbou-ekonomie te bewaar. Plaaslike inwoners het die Lancaster Farmland Trust, 'n organisasie sonder winsoogmerk wat deur vrywilligers bestuur word, tot stand gebring om landbougrond teen ontwikkeling te beskerm.

Die trust betaal plaaseienaars wat 'n onderneming teken om hul grond vir altyd vir landbougebruik te behou.

So 'n beskerming van landbougrond teen ontwikkeling is ook elders in Amerika algemeen. Lancaster se trust is so suksesvol dat Lancaster pas die Amerikaanse distrik geword het waar die meeste plaasgrond (amper 'n vyfde van die totale landbouoppervlakte) deur so 'n permanente bewaringsooreenkoms beskerm word.

Die trust word op kreatiewe maniere gefinansier. Die Strasburg-stoomtreinmaatskappy, wat toeriste op 'n skommelende reis tussen die historiese Lancaster-plase deur neem, betaal 'n persentasie van elke kaartjie aan die Farmland Trust oor. Turkey Hill, 'n plaaslike suiwelfabriek wat sy produkte in etlike Amerikaanse state verkoop, skenk 'n deel van sy inkomste uit roomys aan die trust.

Die familieboere het elke ekstra hupstoot nodig, want ondanks die gunstige boerderytoestande voer boere soos Michael Eby 'n voortdurende bestaanstryd.

Toe hy destyds besluit het om die boerdery by sy pa, Melvin, oor te neem, was hy 'n suksesvolle KI-agent in 'n betalende beroep en met 'n jong gesin. Sy pa se raad was dat hy dit nie vir die boerdery moet laat vaar nie, maar Michael se gene het waarskynlik harder as sy eie beterwete en sy pa se raad gepraat.

Michael en sy vrou, Lynette, het in 1999 met drie klein kinders (die kroos het intussen vier geword) in die rooibaksteenopstal agter die skuur, aan die Pequea-stroom, ingetrek. Sy oor-oupagrootjie het die huis in 1814 gebou.

Michael se pa en ma het hul aftreehuis 'n ent met die pad af gebou, en sy pa het sy werk as KI-agent oorgeneem om die huishouding se geldsake te laat klop.

Michael huur sedertdien die plaas van sy pa. Hy het oor die afgelope sewe jaar koei vir koei die melkkudde van sy pa gekoop. Sy jaarlikse wins is egter nie genoeg om eens belasting te betaal nie; wat beteken hy en sy gesin kom nie in aanmerking vir lidmaatskap van Medicaid, die staatsgesubsidieerde mediese fonds, nie. Hy betaal ten duurste vir die mees basiese mediese versekering - 'n uitgawe wat al hoe minder Amerikaanse middelklas-gesinne, ook dié met 'n goeie salaris, deesdae kan bekostig.

Lynette bedryf steeds die een helfte van die plaashuis as 'n gastehuis, soos wat haar skoonma veertig jaar gelede begin doen het. Dié inkomste sorg in die meeste maande vir kruideniersware en dinge soos Kers- en verjaardaggeskenke.

Michael behartig op sy eie die melkery van 52 Holstein-koeie,wat hy twee keer per dag melk. Naweke help Lynette hom in die melkstal. In die week onderrig sy self hul vier kinders.

Michael sê self hy doen die werk van een en 'n halwe man. Om 'n ekstra werker in diens te neem, sal hy die melkstal wat vir 52 koeie ingerig is,moet vergroot - iets wat hy nie nou kan bekostig nie.

Hy erken ruiterlik die regeringsubsidies waarvoor Amerika om internasionale onderhandelingstafels gekasty word, het hom al minstens een keer van ondergang gered. Dié subsidies,wat aan boere betaal word as die produsenteprys vir 'n bepaalde tydperk onder 'n voorgeskrewe vlak val, het voorkom dat hy in 2003 moes uitverkoop.

"Natuurlik sou ek graag wou sê die subsidies moet afgeskaf word, maar daarsonder sou ek nie meer hier gewees het nie," sê Michael.

Sy seun, Jackson, is 'n sewejarige haasbek wat waarskynlik dieselfde liefde vir die grond geërf het. As Michael gevra word of hy meen Jackson sal eendag wil boer, sê hy die mannetjie is nog jonk, dis te gou om nou al te weet. Hy dink 'n bietjie langer oor of daar vir Jackson, as hy sou wou, 'n toekoms as die sewende Eby op Pequea Farm sou wees: "As ek régtig eerlik moet wees, nee." Dis duidelik dat hy ook nie meen een van Jackson se drie sussies sou die familieboerdery kon voortsit nie, al wou hulle.

'n Mens kan maar net hoop dat Michael Eby hieroor verkeerd is.

Landbouweekblad, 25 April 2008