Landbou
Denkskuif oor SA landbou
Deur JEAN DU PREEZ

Belangwekkende uitsprake wat die afgelope tyd uit invloedryke kringe gemaak is, dui op 'n denkskuif oor die belangrikheid van die landbousektor wat tans in Suid-Afrika aan die posvat is.

Die sneller vir hierdie verwikkeling is ongetwyfeld die internasionale voedselkrisis, en stappe wat regerings wêreldwyd doen om voedselsekuriteit in hul lande te verseker.

Waarskynlik die belangrikste wending in dié verband in Suid-Afrika, is die Minister van Finansies, mnr. Trevor Manuel, se erkenning dat die Regering die afgelope dekade te min aandag aan landboubeleid geskenk het.

Ewe insiggewend is sy opmerking dat die Regering sal moet uitvind hoekom boere nie in verhoogde landbou-produksie belê nie.

Dié stellings, wat Manuel in ANC Today en die Sunday Times gemaak het, volg kort op die hakke van SA voedselreuse se waarskuwing verlede week aan die Regering dat hy 'n meer landbouvriendelike beleidsrigting sal moet inslaan om voedselproduksie aan te moedig en voedselsekuriteit te verhoog.

Dit is die eerste keer in Suid-Afrika se demokrasie dat die land se voedselsektor hom so eenparig oor 'n gunstiger landboubeleid uitgespreek het, en het gespruit uit 'n Nedlac-vergadering waar die land se grootste voedselwerkingsmaatskappye die erns van hoë voedselpryse indringend bespreek het. Onder hulle tel swaargewigte soos Astral Foods, Foodcorp, McCain Foods, Pioneer, Premier, Rainbow Farms, Tiger en SA Brouerye.

Pas het die Centre for Development and Enterprise (CDE) in sy jongste verslag oor Suid-Afrika se grondhervormingsproses ook gewaarsku dat die toekoms van Suid-Afrika se kommersiële landbousektor nou op die spel is. Op 'n nuuskonferensie het die CDE se me. Ann Bernstein gesê die Departement van Grondsake se onvermoë en die gevolglike gesloer met grondhervorming is nie alleen 'n bedreiging vir landelike ekonomiese ontwikkeling nie, maar ook vir die land se vermoë om homself te voed.

"Die ekonomiese lewensvatbaarheid van baie landelike gebiede is onder bedreiging, en kan tot ernstige negatiewe gevolge vir die breër ekonomie en die samelewing lei. Dit als gebeur te midde van internasionale stygings in voedsel- en kommoditeitspryse."

Bernstein sê Suid-Afrika se grondhervormingsbeleid is uit pas met die werklikhede van die internasionale en plaaslike landbousektor.

Maar veral Manuel se uitlatings dui sterk op 'n denkskuif oor landbou in regeringskringe. Hy het gesê dis 'n bron van kommer dat Suid-Afrika 'n netto invoerder van produkte soos koring, rys en vleis geword het. "Vir 'n groot deel van die afgelope dekade is te min beleidsaandag gefokus op hoe ons landbouproduksie kan verhoog. Hoewel produksie aan die kommersiële kant hierdie seisoen verhoog het, is dit kommerwekkend dat beleggings in die kommersiële landbousektor oor 'n lang tyd gedaal het. Dis belangrik om uit te vind hoekom boere nie belê om produksie te verhoog nie."

In landboukringe self is hieroor geen onduidelikheid nie. Prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, sê vir lank was daar min sakevertroue om in die SA landbousektor te belê. Dit was hoofsaaklik weens swak regeringsbeleid, asook inmenging in die landbou. "Om beleggings te lok, moet sentimente jeens die landbou ook verander, want boere is sat vir onsinnige kritiek en roekelose politieke uitsprake. Tot nou toe was daar min tekens van 'n gefokusde landboubeleid wat ware vertroue kon wek."

Kirsten sê die werklikheid daaroor is egter nou besig om pos te vat deurdat voedselpryse besig is om buite beheer die hoogte in te spiraal. Daar is reeds ernstige tekorte - veral met die groei in China en Indië, asook die feit dat tradisionele voedselsoorte soos graan nou tot bio-brandstof verwerk word. "Dit dien as' t ware as 'n wekroep dat die landbou baie belangriker is as wat tot nou toe geag is," sê Kirsten.

  • Klik hier om die volledige verslag van die CDE se bevindings te lees. Dit is in PDF-formaat.

    7 Mei 2008