Landbou
Nat kole en die kragkrisis


Nat steenkool hét 'n rol gespeel in die kragkrisis, maar ander faktore, soos 'n besluit om koste te bespaar deur die steenkoolvoorraad in 2001 te verminder, tesame met Eskom se uitbreidende SEB-aankopebeleid, is in 'n wesentlike risiko in 2007 omskep, sê 'n groep forensiese rekenmeesters.

In 'n verklaring sê Forensies.com toe dr. Steve Lennon, Eskom se direkteur van korporatiewe dienste, in Januarie verklaar het dat nat steenkool die oorsaak van die kragkrisis was, is hy met groot skeptisisme bejeën deur dié mense wat deur die kragonderbrekings geraak was.

Dit reën immers elke somer in Mpumalanga so hoekom moet 2007/08 se somer dan anders wees?

Wanneer steenkool nat word, bemoeilik dit die hantering by die kragstasies. Dit is geneig om geute tussen vervoerbande te blokkeer en dit veroorsaak opeenhopings by bunkers wat verhoed dat die kole vrylik kan vloei. Die primêre gevolg is dat dit die kragstasie se opwekkingsvermoë belemmer terwyl die sekondêre gevolg is dat dit uitermatig hoë slytasie op die aanleg veroorsaak.

Volgens forensies.com het Eskom ook probleme met die kwaliteit van sy steenkool ondervind as gevolg van swak verkrygingsbestuur. Die daling in voorraad, die toename in SEB-verskaffers en -vervoerkontrakteurs en die wegbeweeg van langtermyn-kontrakte na ope markaankope het ook 'n rol gespeel. Dit het bygedra dat die tradisionele steenkoolverskaffers verkies om nou voordeel uit die hoë internasionale steenkoolpryse te trek deur hulle steenkool ten koste van Eskom uit te voer en eerder die gepaardgaande boetes aan Eskom te betaal.

Eskom moet nou 45 miljoen ton se steenkool bo en behalwe sy normale jaarlikse 125 miljoen ton aankoop. Die addisionele steenkool moet oor die volgende twee jaar bekom word om voorraadvlakke tot 20 dae te herstel. Die uiteindelik doelwit is om weer 35 dae, oftewel 12 miljoen ton, se voorraad beskikbaar te hê. Slegs 13 dae se voorraad was in Februarie 2008 beskikbaar. Plaaslike myne sal waarskynlik nie in hierdie vraag kan voldoen nie en daarom mag dit vir Eskom nodig raak om duur steenkool in te voer om die tekort mee aan te vul.

Die rekeninge vir hierdie herstelpoging gaan na Eskom se kragverbruikers uitgestuur word in die vorm van 'n voorgestelde 60% verhoging in elektrisiteitstariewe. Eskom se bestuur gaan waarskynlik met prestasiebonusse beloon word vir die beraamde R12 miljard se netto wins wat hulle moontlik in die proses gaan genereer.

  • Lees die volledige verslag op www.forensies.com se webwerf.

    14 Mei 2008