Landbou
Nuttige leesstof vir boere


The Ostrich Farm - how to get started
Skrywer: Petro Strydom
Uitgewer: Procure, Capricorn Square Kaapstad
Resensie: THEUNS BOTHA

Uiteindelik! 'n Praktiese handleiding waarin daar stap vir stap verduidelik word hoe om klein volstruisies suksesvol groot te maak.

Hierdie boek is iets waarna mense wat die kuns wil bemeester, seker al jare lank uitsien. Diegene met kennis wil nie maklik hul geheime verklap nie. Trouens, toe Landbouweekblad enkele jare gelede 'n artikel by mev. Brenda van Gend oor dieselfde onderwerp gedoen het, is ons maande lank daarna met navrae oorval. Nou het Strydom,met 15 jaar se ervaring op die gebied van kuikens grootmaak, en toevallig ook 'n goeie vriendin van Van Gend, die handleiding die lig laat sien.

In die boekie van 64 bladsye en 16 hoofstukke dek sy vele aspekte van volstruisies.

Dit sluit in hul verspreiding, anatomie, gedrag, rantsoene, die grootmaakhokke, hoe om 'n onderneming met hulle te begin asook algemene boerderywenke.

Sy glo byvoorbeeld nie aan sementvloere en verwarmers nie en gee raad oor hoe die volstruisies in koue weer versorg moet word.

Dit is egter die hoofstuk oor gesondheidsorg, algemene siektes en die behandeling daarvan wat vir die voornemende entrepreneur goud werd sal wees. Sy verklap nie net haar jogurt-resep om die kuikens se immuniteit op te bou nie, maar ook hoe die aalwynplant ( Aloe ferox ) nét die ding is om volstruisies gesond te hou.

Die inhoud spreek van jare se praktiese ervaring oor die onderwerp. Nogtans doen Strydom haar nie as 'nwetenskaplike voor nie. Daarvoor het sy die hulp van drs. Dirk Verwoerd van Pfizer-dieregesondheid en Adriaan Olivier van die Klein Karoo Kooperasie ingeroep om die inhoud tegnies na te gaan.

Die handleiding is ryklik geïllustreer en bevat verskeie kleurfoto's van die inwendige organe.

In die laaste twee hoofstukke raak sy die toekoms van die bedryf en swart ekonomiese bemagtiging aan.

Die handleiding kos R250 en kan regstreeks van die skrywer bestel word.

  • Navrae: Petro Strydom, Posbus 1235, Jeffreysbaai 6330. Sel 082 659 2529 of e-pos: houtboschbay@absamail.co.za.

    The Damara of Southern Africa
    Redakteur: Dawie du Toit
    Prys: R200. Sagteband (128 bladsye op glanspapier, met kleurfoto's).
    Uitgewer: Dawie du Toit, Posbus 141, Prieska 8940. Epos: mwdatru@iafrica.com of sel 083 444 3822.
    Resensie: THEUNS BOTHA

    Wat 'n voorreg om 'n boek van hierdie gehalte te resenseer. Sommer met die eerste deurblaai is dit duidelik dat die redakteur, self 'n boer, passievol oor die Damaraskaap is. Die boek, wat ses hoofstukke beslaan, bevat sowat 300 voortrefliike kleurfoto's wat die Damara in sy ryke kleursamestellings uitbeeld.

    Gesoute boere sou redeneer dat dit nie die kleur van die huid is wat 'n dier voortreflik maak nie, maar dat dit wat onder die vel is, die geld in jou sak sit. Nogtans vertel die kleur, soos by die Nguni-beesras, 'n mens iets van die teelmateriaal en herkoms van dié besonderse skaapras.

    In hoofstuk 6 van die boek wy die Nieu-Seelandse navorser Roger Lundie breedvoerig uit oor die kleursamestelling van die skape wat hy met 'n besoek aan Suid-Afrika in 2005 teëgekom het en hoe sekere kleurpatrone moontlik kon ontstaan het.

    Daar is ook verwysings na ander gekleurde skaaprasse oor die wêreld heen. Lundie gee egter toe dat sy waarneming bloot op fenotipe gegrond is en nie as wetenskaplike feite geboekstaaf kan word nie. Maar sy boodskap aan Damara-telers is: Koester die ryke kleurverskeidenheid van die ras.

    Hoofstuk 5, deur die Amerikaanse genetikus dr. D. Phillip Sponenberg, handel ook oor die genetiese aspekte van kleur. Dit is egter meer op die punt af en beter georden as dié van Lundie.

    Die eerste hoofstuk, waarin Du Toit 'n historiese oorsig van die Damara in Suider- Afrika gee, is boeiende leesstof. Ook die nostalgiese foto's uit die versameling van die Suid-Afrikaanse Biblioteek en ander afbeeldings van die Himba-stam is 'n fees vir die oog.

    Benewens 'n kort hoofstuk oor die bewaring van die Damara (ook deur Sponenberg) bespreek Du Toit ook kommersiële boerdery met die ras, die plek wat dit tussen ander gekleurde skaaprasse in die wêreld inneem en die toekoms daarvan.

    Die boek het toevallig sy ontstaan gehad toe Du Toit in 2004 'n wêreldkongres oor gekleurde skape in Nieu-Seeland bygewoon het.

    Daar het hy met Sponenberg en Lundie kennis gemaak. Hulle het Suid-Afrika kort daarna besoek om meer van die Damara te wete te kom.

    Vir enigeen wat deur die inheemse skaaprasse van Afrika betower word, is hierdie boek 'n mó ét koop. Dit sal ewe goed op 'n koffietafel as in die studeerkamer werk en jy sal weer en weer daardeur wil blaai net om die foto's te geniet. Dit sal ook 'n ideale verjaardagpresent wees.

    Stud Breeders' Manual/ Handleiding vir Stoettelers
    Skrywer: Charl Hunlun
    Uitgewer: Picasso Headline, Hat.eldstraat, Kaapstad
    Resensie: JOHAN NORVAL

    Die lank beloofde Handleiding vir Stoettelers, wat onder die beskerming van die SA Stamboek- en Diereverbeteringsvereniging uitgegee word, is uiteindelik beskikbaar. Dit is volgeprop met praktiese wenke en begrippe oor die stoetbedryf en is onontbeerlik vir enige boer.

    Een van die lesers wat vol lof vir die boek is, is mnr. Chris Els, die bestuurder van die Sekretariaat, 'n organisasie wat sekretariële dienste aan 20 telersgenootskappe lewer. Benewens die gebruikswaarde van die handleiding, is hy beïndruk met die verskeidenheid onderwerpe wat behandel word.

    Hy geniet ook die gemaklike, verstaanbare taal waarin dit tegelykertyd in Afrikaans en Engels aangebied word.

    Els sê hoewel die inligting teoreties aangebied word, het dit praktiese waarde wat deur die boer en byvoorbeeld studente gebruik kan word.

    Die handleiding word reeds deur die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit landbou vir sy vee en wildkunde-studente voorgeskryf en daar is belangstelling van verskeie ander tersiêre instellings om dieselfde te doen.

    Die onderwerpe in die handleiding sluit in die werksaamhede van SA Stamboek, die Intergis (Geïntegreerde Registrasie en Genetiese Inligtingstelsel), die rol van telersgenootskappe, wetgewing, die administrasie van 'n stoetery en diereaantekening.

    'n Groep wetenskaplikes van die Landbounavorsingsraad het 'n bydrae oor prestasie-aantekening gelewer, terwyl dr. Helena Theron genetiese evaluasie behandel.

    Joel Mamabolo, Registrateur van Diereverbetering, het ook 'n bydrae gelewer.

    Praktiese onderwerpe sluit in stoetveebemarking, opgradering in stoetteling, kunsmatige inseminasie en embriooorplasing, invoer en uitvoer asook veilings en skoue.

    Die handleiding kos R75, BTW en posgeld uitgesluit. Dit kan regstreeks by die SA Stamboek- en Diereverbeteringsvereniging bestel word.

  • Navrae: Elsa van den Berg, SA Stamboek, Posbus 270, Bloemfontein 9300. Tel. 051 448 9347 of e-pos: elsa@ studbook.co.za

    Landbouweekblad, 22 Februarie 2008