Suid-Afrika stuur op 'n baie ernstige brandstof- en voedselkrisis af indien die Regering nie dringende stappe doen om dit af te weer en betyds vir baie meer realistiese en selfs dramatiese ekonomiese scenario's tussen 2012 tot 2015 te beplan nie, sê mnr. Fanie Brink, besturende direkteur van Biofuels Industry Development (Pty) Ltd.
"Daar behoort nou vir 'n ru-olieprys van $150 per vat en 'n swakker wisselkoers van tussen R10 en R12 teenoor die Amerikaanse dollar tussen 2012 en 2015 beplan te word wat brandstofpryse van tussen R12 en R15 per liter of meer tot gevolg kan hê."
Brink het gereageer op die eerste aanduidings hierdie week dat die petrolprys in April met soveel as 70 sent per liter en die dieselprys met R1,30 per liter kan styg. Die 6 sent per liter verhoging in die belasting en die verhoging in die heffing vir die Padongeluksfonds van 5 sent per liter wat op 2 April in werking tree, is hierby in berekening gebring.
"Die tyd net ook nou aangebreek dat die kleinhandelsprys van diesel, net soos petrolprys, beheer word aangesien net die maksimum groothandelsprys van diesel op die oomblik aan prysbeheer onderhewig is. Veral nou dat diesel al meer vir kragopwekking aangewend word en 'n dreigende tekort die land in die gesig staar."
Hy het op 'n voedselkonferensie in Kaapstad gesê die enigste moontlike oplossing is om meer landbouprodukte en brandstof in Suid-Afrika te produseer en nie om meer en meer van invoere afhanklik te raak nie. Bio-etanol kan teen ongeveer R6 per liter geproduseer word, selfs al verhandel mielies teen R2000 per ton. Suid-Afrika kan baie meer mielies, graansorghum en oilesade produseer om meer as 'n miljard liter brandstof per jaar te vervaardig en selfs baie meer as bio-etanol ook uit plantaardige materiaal (sellulose) vervaardig word.
Die algemene verwagting is dat die vraag na ru-olie in lande soos China en Indië, wat teen 2030 net soveel ru-olie as die VSA en Japan sal gebruik, die prys na hierdie vlakke kan verhoog.
Voedselpryse sal verder styg omdat die vraag na landbouprodukte vir die vervaardiging van biobrandstof verder sal verhoog soos wat die ru-olieprys styg, die wêreld se afhanklikheid van ru-olie meer krities raak en aardverwarming toeneem.
"Die enkele grootste struktuurverandering in die geskiedenis van die landbou het oor die afgelope 4 tot 5 jaar in die wêreld plaasgevind. Die vervaardiging van biobrandstof het 'n nuwe mark en baie groter aanvraag vir grane en oliesade geskep as wat 10 jaar gelede verwag is. Hierdie ontwikkeling kan nie weg gewens en gepraat word nie en dit het uit die aard van die saak 'n baie groot invloed op die voedsel- en veevoerbedryf. Veral in Afrikalande, soos Suid-Afrika, wat nie aan hulle eie binnelandse behoeftes van byvoorbeeld koring en plantaardige proteïen kan voorsien nie."
Pres. George Bush van Amerika het dit ook verlede jaar duidelik laat blyk dat die VSA nie langer landbouprodukte aan Afrika gaan skenk nie, maar eerder geldelike hulp sal verleen sodat die lande in Afrika self meer kan produseer en voedsel tussen mekaar kan verhandel. Amerika verkies om sy surplus grane en oliesade eerder self vir die vervaardiging van biobrandstof te gebruik. Hierdie stap sal die voedselkrisis in Arika vererger as die regerings in Afrika nie hul landboubeleid drasties hersien om die maksimale produksie van voedsel so gou as moontlik aan te moedig nie.
Die inflasiekoers sal verder styg omdat hoër rentekoerse in Suid-Afrika geen invloed op hierdie internasionale fundamentele faktore wat brandstof- en voedselpryse verhoog het nie. Daarom kan die Reserwebank maar van sy onrealistiese en uitgediende inflasieteikens afsien wat net die koste van kapitaalinvestering vir verhoogde produksie, wat die enigste manier is om die vraaggedrewe prysstygings te verlig, benadeel.
Die verwagting oor die volgende 3 tot 4 jaar is dat die prysstygings van grane en oliesade sal begin afplat en stabiliseer. Hierdie verwagting sal slegs realiseer indien die totale produksie van grane en oliesade dramaties verhoog word. Die landboubeleid in feitlik alle lande in Afrika sal 'n totale gedaanteverwisseling moet ondergaan omdat dit oor en oor bewys is dat die grootste enkele rede vir hongersnood in Afrika aan politieke beleidsmislukkings toegeskryf kan word. Dieselfde bedreiging staar Suid-Afrika in die gesig veral indien die land meer en meer van invoere afhanklik raak.
Die grootste bedreiging vir toekomstige voedselsekuriteit in Suid-Afrika en die res van Afrika het ongelukking saam met die styging in die ru-olieprys tot die huidige vlakke ontwikkel. Benewens die groter vraag na alle produksie-insette wat deur die hoër vraag en hoër pryse van landbouprodukte aangespoor word, het die internasionale pryse van kunsmis, landbou-chemikalieë, saad en masjinerie die hoogte ingeskiet. Suid-Afrika voer minstens 75% van hierdie insette van die buiteland af in met die gevolg dat die pryse van insette oor die volgende paar jaar baie vinniger as die produsentepryse van landbouprodukte sal styg.
Graan- en oliesadeprodusente sal hierdeur gedwing word om hul doeltreffendheid verder te verhoog deur nuwe tegnologie in te span en om produksie verder af te skaal deur net die beste potensiaal landbougrond vir voedselproduksie aan te wend. Teen die hoër insetkostevlakke sal die risiko in swak seisoene dramaties toeneem. Die totale aanplanting van mielies sal ook verder afgeskaal moet word tot die vlak waar die risiko van surplusproduksie en gevolglike laer produsentepryse in bogemiddelde reënvalseisoene sover as moontlik uitgeskakel word. Dit sal ongelukkig voedselsekuriteit ernstig bedreig omdat dit moeiliker gaan raak om voedsel in te voer in swak reënvaljare.
Die finale biobrandstofstrategie wat bedoel was om die ontwikkeling en vestiging van 'n plaaslike biobrandstofbedryf te stimuleer, is totaal ontoereikend. Dit is onwaarskynlik dat opkomende boere op voorheen onbenutte grond waar die risiko om grane en oliesade suksesvol te produseer, heeltemal te groot is, oor die volgende 10 jaar enigsins 'n bydrae tot die vervaardiging van hernubare brandstof sal kan maak.
"Die Kabinet is totaal deur die Departement van Minerale en Energie mislei en het alles moontlik gedoen om die belange van die plaaslike petroleumbedryf te beskerm. Nie een van die doelwitte soos om Suid-Afrika minder afhanklik van ru-olie te maak, werkskepping en armoedeverligting te bevorder, of om 'n mark vir ontwikkelende swartboere in die graanbedryf te skep, sal deur hierdie strategie bereik word nie."
Die besluit van die Kabinet om hierdie strategie, wat duidelik teenstrydig is met sekere belangrike bepalings van die Wet op Mededinging, vorige Kabinetsbesluite, asook die Regering se eie ekonomiese doelwitte, is totaal onverstaanbaar, sê Brink.
"Om aan produsent voor te skryf waar en watter graangewasse aangeplant en vir watter markte hulle mag produseer, is 'n geweldige ernstige ingryping deur die regering in die vrye markstelsel wat in die landbou bestaan en laat gevaarligte flikker van 'n groter sentraalgeleide ekonomiese stelsel en staatsinmening in die ekonomie. Hierdie stap hou die gevaar in dat politici die landbou in Suid-Afrika totaal kan vernietig, soos in die meeste Afrikalande gebeur het.
"Die Regering sal met sy transformasiebeleid klaarblyklik die land eerder in 'n ernstige brandstof- en voedselkrisis dompel as om toe te laat dat kommersiële boere voordeel uit nuwe markte vir grane en oliesade trek."
20 Maart 2008