Landbou
Lesse uit die Eskom-debakel
Deur JOHAN COETSEE (jcoetsee@landbou.com)

Meer as 27 jaar gelede het een van Suid-Afrika se bekendste sakeleiers, dr. Anton Rupert, al gewaarsku dat 'n land se ekonomiese welvaart nie bepaal word deur die beskikbaarheid van energiebronne nie, maar wel deur die korrekte aanwending daarvan. Daardie profetiese waarskuwing van 1981 het duidelik op dowe ore geval, want Suid-Afrika steier vandag onder die gevolge van juis dit: Die gebrekkige bestuur van sy energiebronne.

Om veranderings te verstaan en te bestuur en om strategieë te formuleer en toe te pas om 'n mededingende voordeel te kry in 'n hoogs veranderende wêreld, hang uitsluitlik af van 'n regering, organisasie of individu se leierskapvermoëns. Só het adv. Frans Stroebel, bekende sakeman en direkteur van verskeie maatskappye, asook gewese besturende direkteur van die eertydse Stellenbosch Boerewynmakers en persoonlike assistent van dr. Rupert, op Worcester gesê waar hy die genooide spreker op die skou was.

Stroebel het gesê daar is dalk een goeie uitvloeisel van die kragkrisis. Dit is dat pres. Thabo Mbeki die sklud daarvoor op sy Regering gelaai het. "Dalk het ons nou 'n nuwe fase betree: Nie alles wat verkeerd is, is noodwendig apartheid se skuld nie."

Hy meen die krisis sal oorkom word. Die Chinese woord vir krisis beteken immers ook geleentheid. Om die geleentheid binne hierdie krisis te benut, moet meer "leiers" as "bestuurders" gevestig word.

Leiers doen die regte dinge en bestuurders doen dinge reg. Meer mense is nodig wat die regte dinge met visie kan doen, pleks van om net dinge reg te doen.

Visie en leierskap is nodig om veranderings te bestuur. Wanneer veranderinge plaasvind, kan 'n goeie leier onderskei of die verandering siklies of struktureel van aard is. "Siklies beteken jy moet jou spelpatroon aanpas; struktureel beteken jy moet 'n ander sport beoefen," het hy gesê.

Die politieke veranderinge in die 1970's en 1980's was siklies, en ná 1994 was dit struktureel. Dít waardeur Eskom nou gaan, het sikliese én strukturele implikasies. Die sikliese is dat almal op kort termyn hul spelpatroon moet aanpas totdat Eskom weer genoeg krag kan verskaf, soos met die oliekrisis in die vroeë 1970's toe almal vinnig daarby moes aanpas. Toe die krisis oor was, het almal bloot teruggekeer na hul ou gewoontes.

Die strukturele implikasies is egter meer beduidend.

Stroebel sê die meeste Eskomkrag kom van natuurlike hulpbronnemet 'n beperkte leeftyd. Steenkool gaan nie vir ewig hou nie. Dalk gaan mense met dié krisis besef hoekom bewaringskundiges pleit dat spaarsaam met die omgewing gewerk word.

'n Les is dat die nuwe gewoontes wat mense nou verplig om krag te bespaar, nie weer eenkant gegooi moet word sodra die ergste verby is nie.

Om te bewaar het sinvolle morele,wins én plesierredes. Morele redes sluit in om reusebedrae geld te bestee om mensgemaakte skatte te bewaar. Stel jou voor vandale vernietig jaarliks 'n paar werke van Rembrandt en VanGogh. Watter reaksie sal dit ontlok? Maar dit is presies wat die mensdom jaarliks met die Godgegewe wonders van die natuur doen, en dikwels sonder om daaroor na te dink.

Hy sê hele biblioteke bestaan oor geld en ekonomie, maar bykans niks word geskryf oor die "ekonomie van die natuur" nie. Deur bloot "lief te wees vir diere", is geen plaasvervanger vir die hele konsep en werking van die natuur- en ekostelsels van die wêreld nie.

'n Boer kyk na sy grond, hy sorg dat hy genoeg saad oorhou vir die volgende jaar se oes. Hy hou genoeg koeie, ooie en sôe aan om mee voort te boer. Hy respekteer só die natuurlike stelsel en verseker 'n volhoubare stelsel. Dít is die grondslag van die "ekonomie van die natuur", het Stroebel gesê. Geen menslike aktiwiteite kan in isolasie van die natuur en natuurlike wêreld geskied nie.

Ondanks die mens se tegnologiese vaardighede, is dit onmoontlik om te bestaan op die planeet sonder die natuur en die ondersteuning wat dit bied.

Wat hou die toekoms in?

Meer mense - 'n werklikheid. Meer vír elke mens - 'n verwagting. Beperkte bronne - 'n feit, sê Stroebel. Daar is bloot nie genoeg vir almal nie: Nie genoeg staal vir 6,5 miljard mense om 'n motor te besit nie, en as daar was, is daar nie genoeg olie om hulle te laat ry nie, en as daar was, is daar nie genoeg atmosfeer om die planeet om die hitte en gasse van die uitlaatpype te absorbeer nie.

Voorbeelde van die rol wat plante in die daaglikse lewe speel, is dat dit die meerderheid medisyne vir mense verskaf. Net 1% van plantsoorte wat in tropiese reënwoude voorkom, is al wetenskaplik ondersoek. Altesame 40% van alles wat in 'n apteek gekoop word, kom van daardie minder as 1% af. Tog word tropiese reënwoude op groot skaal vernietig. Aspirien is ontwikkel uit die bas van 'n wilgerboom en die "pil" uit 'n bedreigde Mexikaanse plantsoort.

Hy sê plante verteenwoordig 'n nywerheids- en kommersiële oerwoud. Plante word gebruik elke keer as 'n mens sy hare was, son-olie aansmeer, 'n gholfbal slaan, 'n motor bestuur en 'n inspuiting kry. In die Kaap is 10% van die plantsoorte bedreig. "Hoeveel van hulle is nie u toekomstige mediese redding nie?"

Hoe meer krag gebruik word, hoe meer steenkool moet verbrand word om dit op te wek, en hoe meer koolsuurgas word in die atmosfeer vrygestel, wat weer die natuurlike omgewing soos plantegroei beïnvloed.

"Verander en beoefen 'n nuwe leefstyl. Miskien kom hier meer goeds vir ons kinders en kleinkinders uit as die sleg wat ons nou op kort termyn moet verduur. In 2007 is ons as die wêreldkampioen van rugby gekroon. Kom ons word van 2008 en vorentoe die wêreldkampioen van leefstyl-verandering wat lei tot 'Kampioen van die Aarde'," het Stroebel gepleit.

Landbouweekblad, 21 Maart 2008