Landbou
Daar's lewe ná Eskom
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

Son- en windkrag kan huishoudings van krag voorsien, maar dan moet die stelsel reg ontwerp wees. Die aanvanklike koste is hoog, maar dit kan binne vyf jaar tot tien jaar afbetaal word. Daarna het 'n mens nie 'n sent se uitgawes aan lopende koste nie en is jou elektrisiteit gratis.

Net soos e-pos- en SMS-grappies oor Eskom se onbevoegdheid nou heen en weer vlieg, het Montagu se inwoners agter hul hande gelag vir die "mal" nuwe intrekker met sy sonpanele en windlaaier.

Maar wie laaste lag, lag nie verniet die lekkerste nie, want vir mnr. Ludwig van Heerden en sy gesin is "kragonderbrekings" en "beurtkrag" betreklik onbekende begrippe.

"Ek hoor soms die kragopwekker by die nabygeleë hospitaal dreun, dan weet ons Montagu se krag is weer af. Of as ons nie gesien het die straatligte is af nie, dan sou ons nie eers geweet het daar is 'n kragonderbreking in die dorp nie," vertel hy.

Van Heerden is 'n siviele ingenieur wie se belangstelling in sonenergie geprikkel is deur sy tesis oor sonkragpompe. Sowat drie jaar gelede kon hy sy droom bewaarheid om 'n huis te bou wat deur son- en windenergie van krag voorsien word. Die Van Heerdens het meer as twee jaar laas krag van die nasionale elektrisiteitsnetwerk getrek.

Sonkrag is gewis Van Heerden se passie. "As jou huis son- of windkrag-gedrewe is, hoef jy nie Eskom-krag te hê nie."

Hy het sowat 11 jaar gelede 'n ekstra inkomste begin verdien deur sonkragpompe op plase te installeer. Later het hy ook in die behoefte aan sonkragstelsels begin voorsien. Vandag wil hy mense meer bewus maak van sonkrag, sê hy oor sy onderneming Van Heerden Solar Power.

Sy huis in Cochmanslot, Montagu, is van meet af aan sonder Eskom-krag gebou. Altesame vier sonkragpanele van 75 watt elk het drie batterye gelaai. Daarmee het hulle geboor, gebreek en gepleister. 'n Omsetter van 2 000 watt is vir die bouproses gebruik, want die Van Heerdens se buurman het oor die kragopwekker se gedreun gekla.

Mettertyd is 'n windlaaier en nóg sonpanele bygevoeg sodat die gesin van ses hul twee energiebesparende yskaste, een vrieskas, geiser, mikrogolfoond, elektriese ketel, televisie, DVD-speler, CD-spelers, wasmasjien, haartange "en die kinders se ghetto- blasers" kan gebruik.

Die nuwe sonpanele is netjies en taamlik onopsigtelik op 'n afdak geïnstalleer. Hierdie agt panele wek elk 150 watt op. In die Van Heerden-huishouding word dus altesame 1 780 watt se energie met sonpanele opgewek.

Die windlaaier voorsien sowat 1 kW se krag per uur as die wind teen 12 meter per sekonde oftewel 46,8 km per uur waai. Dit begin reeds die batterye laai as die wind teen 2,5meter per sekonde waai.

"Die duiwel was los toe ek die windlaaier opgerig het. Dit was 12 meter hoog, maar volgens die munisipale regulasies mag dit nie hoër as 9 meter wees nie."

Van Heerden het toe die windlaaier, wat hy tweedehands in die hande gekry het en self herstel het, korter gemaak.

'n Windlaaier is veral nuttig in die Karoo waar die wind in die namiddag opsteek. Dan kan jy die batterye selfs ná sononder aanvul. Volgens VanHeerden is daar net een geheim aan 'n goeie son- en windkragstelsel. "Jou stelsel moet só ontwerp wees dat jy genoeg krag het om die batterye vol te laai terwyl jy ook deur die dag krag trek. Indien jou batterye pap raak sodra die son ondergaan, is die stelsel nie reg ontwerp nie.

Die loodsuur-batterye moet dus in die dag energie voorsien en genoeg opberg om steeds genoeg krag te hê om toestelle aan die gang te hou wanneer die son nie skyn nie. "Die truuk is om die batterybank se grootte uit tewerk volgens die stelsel wat jy verlang en die hoeveelheid toebehore wat jy met die krag laat loop. Jy moet die ontwerp só doen dat alles 24 uur per dag kan loop, maar jy moet jou krag kan bestuur," sê Van Heerden.

Wanneer hy stelsels vir klante installeer, maak hy dit duidelik dat hullemoet vergeet van ondervloerse verhitting en lugreëlaars. As iemand 'n stoof wil hê, moet dit 'n gasstoof wees. Van Heerden beveel ook energiebesparende gloeilampies en yskaste aan. Yskaste van Bosch en Ardo se A++-model is goeie opsies. Sodra die yskasdeur oopgaan, skakel die yskas se motor outomaties af om krag te spaar.Hierdie yskaste kos R6 500 tot R8 000.

Die regte dikte draad (volgens die afstand tussen die batterye en die grootte van die sonkragpanele en die windlaaier) moet gebruik word om spanningsverlies te verhoed en sodoende energie by die batterye te kry.

'n Noodsaaklike toestel in 'n son- en windkragstelsel is die ladingsverligting-reguleerder. As die windlaaier die batterye te vol laai,word die energie na dié reguleerder gelei om dit as hitte te verloor. In die Ceres- Karoo is 'n boer wat dié oortollige energie inspan om sy waterpomp te bedryf.

Die enigste bedreiging vir die son en- windkragstelsel is bewolkte dae. Van Heerden gebruik in dié toestande 'n klein kragopwekkertjie om hul waterverwarmer en batterye 'n hupstoot te gee.

Hoeveel kos só 'n spulletjie 'n mens? "As jou huis sê maar R2 miljoen werd is, dan kos die stelsel gewoonlik R160 000 tot R200 000 - dus rofweg 10% van jou huis se waarde," sê Van Heerden.

Die batterybank maak sowat R48 000 van hierdie bedrag uit. 'n Sonkrag-waterverwarmer met 'n vermoë van 150 liter kos sowat R11 500 (installasiekoste en BTW ingesluit). Vir 'n groter model van 200 liter sal 'n klant ongeveer R12 500 opdok.

Weens die Eskom-krisis is rugsteun-stelsels (R35 000 tot R40 000) deesdae baie gewild. Met dié stelsel kan jou ligte, televisie, CD- en DVD-spelers en rekenaar werk.

"Jy het nie 'n sent se uitgawes aan lopende koste nie. 'n Stelsel van R160 000 tot R200 000 sal voorkom dat Eskom se probleme jou raak. Dit duur gewoonlik nege jaar tot elf jaar om só 'n stelsel 'af te betaal', maar weens die Eskom-debakel kan jy dit nou binne vyf jaar 'afbetaal'. Die argument is dat Eskom-krag baie duurder gaan raak omdat daar te min krag beskikbaar is."

Van Heerden verduidelik: Om 'n dieselkragopwekker sowat agt uur per dag te laat loop, kos sowat R4 500 per maand net aan brandstof. Dit bring die jaarlikse rekening op R50 000 te staan.

"Die koste van die son-en-windkragstelsel, insluitend 'n klein kragopwekkertjie, is dus byna gelykstaande aan die bedryf van 'n diesel-kragopwekker vir 'n tydperk van drie jaar. En dit is hoogs onwaarskynlik dat Eskom binne die volgende sewe jaar 'n haas uit die hoed gaan trek, want hy is reeds 13 jaar agter met sy beplanning," meen Van Heerden.

Pasop vir minderwaardige panele
As 'n mens sonpanele wil koop, is daar sekere dinge waarop jy moet let, sê mnr. Ludwig van Heerden van Montagu.

"Indien die prys (rand per watt) buitengewoon laag is, is die panele óf B-graad óf nie-standaard," skryf hy op sy webwerf.

"Met 'n B-graad-paneel bedoel ek dat die paneel nie die algemene standaarde gehaal het nie. Dan sal die plakker met die tegniese gegewens 'B-ware' aantoon of daar sal geen plakker wees nie. Daar kan ook lugblasies tussen die glas en die paneel wees of die tetlar aan die agterkant van die paneel kan los wees. Die selle is dan reeds besig om te verweer.

"Daar is egter B-graad-panele wat net visuele defekte het. Daar is selfs A-graad-panele waarvan die selle nie almal in 'n reguit lyn op die paneel is nie. Dit hang van die koper af of hierdie visuele defekte hom gaan pla of nie."

Van Heerden waarsku egter teen 'n nie-standaard-paneel. "Dit beteken dié paneel moes byvoorbeeld 75 watt se krag gelewer het, maar nou kan die kraglewering so min as 40 watt wees."

Hy raai voornemende kopers aan om nie bloot die goedkoopste paneel te koop nie, maar navraag te doen oor die paneel se verwagte leeftyd. Die koper moet ook uitvind of dit 'n mono- of 'n poli-kristallyne paneel is.

"Panele word aangekoop op grond van hul leeftyd. Niemand kan 'n waarborg op die panele gee nie, maar wel aantoon dat die verwagte leeftyd 20 jaar tot 25 jaar is."

Die internasionale standaard oor haelbestandheid is dat 'n haelkorrel nie die paneel se glas moet beskadig as die korrel 'n deursnee van 25 mm het en dit die paneel teen 'n hoek van 45 grade en 'n snelheid van 1 meter per sekonde tref nie.

"Pasop vir 'n verskaffer wat jou 'n 10 jaar-waarborg op sekere soorte panele verskaf. In die Karoo of Namakwaland se son is sommige van daardie panele se leeftyd nie eens sewe jaar nie," sê Van Heerden.

Landbouweekblad, 21 Maart 2008