Landbou
Werp lig op grondwater
Deur THEUNS BOTHA (landbou@mweb.co.za)

Boere se samewerking word gevra om inligting oor grondwaterbronne in Suid-Afrika in te samel. Die inligting is noodsaaklik om dié bron te beskerm en só die volhoubaarheid daarvan te verseker. Daar is al hoe meer druk op die natuurlike hulpbronne in Suid- Afrika. Daarom het die Departement van Waterwese en Bosbou vier jaar gelede met 'n ambisieuse projek begin om belangrike data rakende die grondwaterbronne in die Oos-Kaap in te samel.

Daar word gehoop dié lewensnoodsaaklike hulpbron sal meer oordeelkundig gebruik word wanneer die projek teen 2010 voltooi is.

As grondwater noukeurig bewaar en bestuur word, kan dit 'n wesenlike watervoorsieningsbron op lang termyn wees. Die probleem is dat dit sommige grondwaterbronne jare kan kos om te herstel as dit oorbenut word, terwyl besoedeling dit in baie gevalle onherstelbaar kan beskadig.

Om die nodige inligting te bekom, het die departement 'n groep grondwaterkonsultante aangestel om hom te help met 'n projek, wat as Grip (Groundwater Resource Information Project) bekend is. Inligting wat met die projek verkry word, behoort te help met die ontwikkeling, bestuur en bewaring van die hulpbron. Dié projek in die Oos-Kaap vorm deel van die nasionale inisiatief van die departement.

Mnr. Jan Myburgh, die Grip-projekbestuurder, sê die oogmerk met die projek is om betroubare inligting oor die grondwaterbronne in die Oos-Kaap in te samel om sodoende die Nasionale Grondwaterdatabasis (NGDB) te versterk vir toekomstige verwysing en gebruik. "Ons wil ook die inligting sentraliseer om duplisering te vermy. Ook om die beste praktyke te benut vir die vaslegging, opberging en beskikbaarstelling van die data."

Volgens hom is reeds ver gevorder met die invordering van historiese grondwaterdata, soos vervat in onder meer geohidrologiese verslae. Dit was die hooffokus van die eerste fase waarmee in 2004 begin is. Alle inligting wat op grondwater as sodanig betrekking het, soos die gehalte en hoeveelheid, asook spesifieke inligting aangaande ontrekkingspunte, waarvan boorgate die algemeenste is, word ingesamel.

Stelsels is reeds ontwikkel vir die verifiëring en opberging van die data. "Wanneer volledige, betroubare inligting beskikbaar is, kan dit verwerk word om die departement te help met die regulering van die gebruik en die toekomstige ontwikkeling van die bronne. Talle ander vrae rakende die aanvraag, dienste, leemtes in die beskikbare data, bronbewaring en omgewingsimpak sal beter beantwoord kan word as die opnames voltooi is."

Veldopnames (hidrosensusse) sal in bepaalde gebiede gedoen word en veldspanne moet spesifieke data by boorgate insamel. "Dit behels tipies die diepte en deursnit van boorgate, watervlakke, boorgat- en pomptoerusting asook waarnemings aangaande die geologie en moontlike besoedelingsbronne."

Hy sê alle boorgate en prominente fonteine sal tydens die veldopnames gemerk en genommer word volgens 'n provinsiale stelsel van die departement. Plaatjies wat die nommers aandui, word aangebring by alle boorgate waar veldbesoeke gedoen is.

Die projekspan het die versekering gegee dat die inligting wat ingesamel word, vrylik beskikbaar sal wees aan waterdiensteverskaffers, verbruikers asook instansies en individue vir wie grondwaterinligting van waarde kan wees. "Dit is belangrik vir Jan en alleman om ingelig te wees aangaande grondwater sodat almal die belangrikheid van hierdie projek en soortgelyke navorsing kan verstaan. Alle verbruikers van grondwater het 'n belangrike rol in die bestuur en benutting van die land se grondwaterbronne. Dit is 'n bron waarby 'n verskeidenheid verbruikers kan baat vind as dit verantwoordelik ontwikkel en bestuur word,"sê Myburgh.

Hy benadruk dat die Departement van Waterwese en Bosbou, in vennootskap met die Grip-projekspan, met alle belanghebbendes wil saamwerk sodat die departement met verantwoordelikheid die gebruik van grondwater kan reguleer. "Enige vrae van verbruikers kan aan die departement gerig word om te verseker dat daar geen skeptisisme of verkeerde aannames oor die doelwitte van die projek gemaak word nie. Verbruikers het die verantwoordelikheid en voorreg om die bron te benut en te beskerm om die volhoubaarheid daarvan te verseker,"sê die projekspan.

Die Grip-span, onder leiding van die hoofkonsultant, Ages SA (Edms.) Bpk., het 'n beroep op alle grondwaterverbruikers in die Oos-Kaap gedoen om aan die projek deel te neem deur die beskikbaarstelling van data en deur toestemming te gee dat die nodige opnames op hul plase gemaak kan word.

  • Nog inligting oor Grip in die Oos-Kaap kan by www.gripec.co.za bekom word.

    Oorbenutting kan waterdraers vernietig
    Slegs 2,5% van alle water op aarde is vars water. Hiervan is 68,7% in gletser-ys opgesluit, terwyl minder as 1% as oppervlakwater, soos mere en riviere, voorkom. Grondwater beslaan die oorblywende 30% vars water.

    Reën, sneeu en hael wat op die aarde val, syfer in die grond in en vorm ondergrondse bronne, wat as waterdraers bekend staan. 'n Waterdraer is die ondergrondse formasie van deurdringbare rots of los materiaal wat bruikbare hoeveelhede grondwater kan oplewer as dit deur middel van 'n boorgat of 'n put ontgin word. Hierdie akwifere kan klein wees en net een of twee hektaar beslaan of dit kan duisende hektaar beslaan.

    Water versamel in oop ruimtes tussen gronddeeltjies, asook in die skeure in verweerde rots. Die boonste deel van 'n versadigde akwifeer word die watertafel genoem. Die diepte van die watertafel kan aansienlik wissel. Ofskoon grondwater verspreid onder die grond lê, bevat dele van die versadigde sone meer water as ander.

    Twee derdes van Suid Afrika se oppervlakwater word uit grondwater aangevul. Lae reënval en min standhoudende riviere in sekere dele van die land maak grondwater 'n uiters waardevolle bron. Die oorbenutting van grondwaterbronne kan tot die vernietiging van akwifere lei.

    Grondwater kan besoedel word wanneer skadelike stowwe van die oppervlak deursyfer en die akwifeer bereik. Bronne van besoedeling is meestal vloeistowwe soos olies en skadelike oplosbare minerale. Mikrobiologiese besoedeling weens onvoldoende sanitasie, stortingsterreine, begraafplase en hoëdigtheid-veeboerdery kan ook tot besoedeling bydra.

    Landbouweekblad, 28 Maart 2008