Een van Suid-Afrika se invloedrykste boere, mnr. Charl Senekal, aan die sy van seker die invloedrykste politikus, mnr. Jacob Zuma, op Graan Suid-Afrika se jaarlikse kongres het vrae oor hul betrokkenheid by mekaar laat ontstaan.
Landbouweekblad het Senekal uitgevra oor sy betrokkenheid by Zuma, voorsitter van die ANC, wat geoormerk is om Suid-Afrika se volgende staatshoof te word asook hoe hy Zuma se gesindheid jeens die landbou opsom.
Senekal is 'n groot suikerriet- en wildboer van Mkuze in KwaZulu-Natal en was in 2002 Suid-Afrika se Boer van die Jaar. Hy is ook verlede jaar tydens Landbouskrywers SA se jaarlikse toekenningsgeleentheid aangewys as voorsitter van 'n vereniging wat voormalige nasionale wenners verteenwoordig.
Senekal sê die saadjie vir hul vriendskap is in Desember 1999 geplant toe hy en sy vrou, Elize, na 'n toespraak van Zuma, toe Suid-Afrika se Adjunkpresident, geluister het. Hy het oor basiese dienste en die opheffing van gemeenskappe gepraat. "Ons het gevoel ons wil 'n bydrae in ons gebied lewer en het sy kantoor gebel. Groot was ons verbasing toe Zuma ons binne twee dae self terugbel. Ons het mekaar drie dae later by St. Lucia ontmoet," vertel Senekal.
Daar was dadelik 'n sinergie tussen hulle. Hulle het oor skole, paaie, klinieke, die landbou en water gesels. 'n Paar dae later was Zuma se raadgewer, dr. Bongani Khumalo, by die Senekals en dinge het begin gebeur. "Byna alles wat ek aan hulle genoem het, het blitsvinnig aandag geniet.
"Ook die 10,5 km lange waterpypleiding van die Pongolapoortdam af na ons suikerrietplantasies is goedgekeur. Vandag voorsien ons plaas water aan ongeveer 250 000 mense, wat water vroeër 10 km ver moes aanry. Die Zoeloelandse Waterraad is nou besigmet verdere uitbreidings van ons pypleiding af om nóg 100 000 mense van water te voorsien," sê hy. Senekal en Zuma is nou baie goeie vriende en skakel gereeld met mekaar.
Hoekom was hy op die kongres aan die ANC-leier se sy? Senekal sê Graan SA het hom gevra omte reël dat Zuma die kongres toespreek. Hy het so gemaak en Zuma op die kongres bygestaan om hom gemaklik te laat voel op sy eerste kennismaking met landbouleiers.
Zuma was opgewonde om die boere te ontmoet en toe te spreek. "Ek het hom slegs as vriend bygestaan, maar ook die geleentheid gebruik om hom oor kwellinge in die landbou in te lig," aldus Senekal.
Hy sê Zuma is sélf 'n beesboer en het sowat 150 Ngunibeeste in Nkandla, naby Eshowe in die hartjie van Zoeloeland. Hy is op 'n plaas gebore en het as plaasseun grootgeword. Daarom stel hy baie belang in die landbou.
Zuma,wat al 50 jaar lank lid van die ANC is, staan in Zoeloegeledere as Msholozi bekend.
Dit is 'n erenaam wat sy oupagrootjie as vernuftige Zoeloekryger verwerf het. Toe Zuma as seun by die inisiasieskool was, het sy behendigheid die leiers só beïndruk dat die naam ook aan hom toegeken is. Zoeloetradisies is baie belangrik vir hom.
Zuma se landbou-agtergrond sal dit ook vir die landbou makliker maak om met 'n toekomstige regering te onderhandel. Die ANC-leier het op die kongres duidelik gesê hy wil nie hê boere moet Suid-Afrika verlaat nie, want die land het hulle nodig. Ná die kongres het hy ook die vakbond Solidariteit toegespreek. Daar het hy gesê Suid-Afrikaners moet hier bly sodat "ons jul probleme kan oplos"; ook dat Afrikaners 'n spesiale plek in die land het. Hulle het die land gemaak wat dit is en het 'n verfrissende, reguit en eerlike benadering.
Regstellende aksie is nié 'n poging om blankes of hul regte te verwyder nie.
Senekal sê hy glo hierdie uitsprake toon Zuma se gesindheid en dit sal onwys van die landbousektor wees "as ons nie sy hand van vriendskap stewig vat nie. Onderhandelinge is vir Zuma belangrik en hy wíl met die boere gesels. Hy het vir ons 'n 'oop deur'-beleid aangebied en wil nader aan die landbou beweeg as sy voorgangers.
"Op Graan SA se kongres kon ek sien die gaping tussen Zuma en die georganiseerde landbou is klein. Boere het aandagtig geluister en sy toespraak minstens vier keer met applous onderbreek. Ná sy toespraak het hy 'n staande applous ontvang.
Hy het vraestellers met waardigheid geantwoord." Senekal sê as Zuma president word, sal die land 'n méér "mens-mens" as staatshoof kry as wat sy voorganger is. Zuma hou van mense, hy lag graag en hou van goeie kos.
"Hy het vir my gesê hy sal hom slegs deur die beste raadgewers en deskundiges laat voorskryf. Ek verwag 'n baie beter verhouding met landbouers en dit sal ook die swak gees waarbinne grondhervorming plaasvind, verbeter."
Senekal sê dit is lekker om by die invloedrykste man in Suid-Afrika te hoor sy regering gaan ons nodig hê.
Nie almal is vol moed nie
"Miskien moet 'n mens nie te veel in mnr. Jacob Zuma, ANC-leier,
se besoek aan Graan SA se kongres lees nie. Die politiek in die land
is baie vloeibaar en daar moet baie water in die see loop voor ons
by die einde van die verkiesing kom." Dít was die versigtige reaksie
van prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie,
voorligting en landelike ontwikkeling aan die Universiteit
van Pretoria.
Mnr. Harald Pakendorf, 'n senior konsultant van Meropa Kommunikasie in Gauteng, stem saam met Kirsten se siening. Hy sê die kans dat Zuma die president van die land gaan word, is uiters skraal en die ANC het waarskynlik reeds 'n plan B gereed.
Pakendorf het op 'n boeredag op Bathurst in die Oos-Kaap gesê Zuma verskyn op 14 Augustus vanjaar in die hof. "As gekyk word hoeveel regters al gesê het dat hy by omkopery betrokke was, is daar nie 'n manier waarop hy die regbank sal kan vryspring nie."
Zuma kan dalk 'n pleitooreenkoms in die hof aangaan. As hy wel in Augustus skuldig bevind word, gaan die ANC hom eenkant toe skuif.
Pakendorf sê die vraag is of Zuma regtig konsekwent is. Hy het byvoorbeeld al verskeie uitsprake oor die doodstraf gemaak, maar dit dae daarna weer ontken. "Zuma probeer 'n gawe kêrel wees. Hy vertel vir almal hulle moenie bekommerd wees nie, alles gaan dieselfde bly."
In teenstelling met Mbeki wat sê: "I am an African", weet Zuma hy is een. Hy het niks om te bewys nie. Daarom kan hy ewe lekker saam met Afrikaners vleis braai en boere toespreek. "Maar kyk net watter foute hy al gemaak het: Anti-gay-uitsprake, hy sing oor masjiengewere, maak ongehoorde uitsprake oor vroue en hoe om van MIV-vigs ontslae te raak."
Pakendorf het benadruk dat mense nie net negatief moet wees nie. Daar moet na die groter prentjie in die land gekyk word. Ondanks 14 jaar van demokrasie is daar nog geen aanduiding dat die Regering die Grondwet van die land wil verander nie. Hoewel die ANC die mag het om dit met sy tweederdemeerderheid te doen, het dit nog nie plaasgevind nie.
Gesprek met ANC se leier verwelkom
Graanboere wil bekostigbare voedsel winsgewend produseer en
sal enige poging van enige politieke party steun wat dit vir hulle
moontlik maak om hierdie doel te bereik.
Dít is in 'n neutedop graanboere se reaksie op die gesprek met mnr. Jacob Zuma, ANC-leier, op Graan SA se onlangse kongres by Bothaville.
Mnr. Louw Steytler, ondervoorsitter van Graan SA, sê hy is versigtig optimisties oor die ontmoeting. "Die feit dat hy verskeie kere gesê het hy is 'n voorstander van 'n oop verhouding en gesprekvoering was vir my baie gunstig. Al wou hy nie 'n sterk standpunt inneem oor beginsel van 'n gewillige verkoper en 'n gewillige koper by grondhervorming nie, het hy dit ten minste as 'n netelige kwessie erken en gesê daar moet daaroor gepraat word."
Hy sê Zuma se bereidwilligheid om hom teen misdaad uit te spreek, was ook bemoedigend omdat dit 'n probleem is wat die hele demokrasie bedreig.
Dr. Kobus Laubscher, hoofbestuurder van Graan SA, sê die terugvoer van boere was baie goed. Hulle was verras dat Zuma gekom het en ook oor sy uitlatings oor die belangrikheid van die landbou.
"Boere se missie is om bekostigbare voedsel aan Suid-Afrika, en waar moontlik aan ander mense in die res van die wêreld te verskaf, maar hulle moet dit winsgewend kan doen om dit volhoubaar te maak. Al wat hulle van politici vra, is om te help om dit moontlik te maak."
Hy sê Zuma se versekering dat daar nie van die bestaande landboubeleid afgewyk sal word nie, was ook bemoedigend. Graan SA se lede het daarvan gehou dat hy van die grondvlak af boontoe verteenwoordig het omdat die bedryfsorganisasie op dieselfde manier sy lede verteenwoordig.
Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, het ná Zuma se toespraak gesê ál die kwessies wat Zuma geopper het, word in die Strategiese Plan vir die Landbou vervat. Graan SA wil hom hierdie jaar op die toepassing van die plan toespits.
Zuma het gevra dat hy 'n afskrif van die plan kry sodat hy "op die regte tyd" kan kyk wat daaromtrent gedoen kan word.
Landbouweekblad, 4 April 2008