Landbou
Silosertifikate: Die waarde en gevare
JAN GROBBELAAR en KOBUS VAN DEN BERG

Nadat graanmarkte in die negentigerjare gedereguleer is, is graansilosertifikate ontwikkel en gebruik om graanverhandeling tussen verkopers en kopers moontlik te maak. Gedurende die afgelope paar jaar het verskeie dispute ontstaan met betrekking tot die hantering van graansilosertifikate en die regte wat in 'n silosertifikaat beliggaam word. NWK was ook direk deur een van hierdie dispute geraak en in die proses is verskeie regsmenings oor graansilosertifikate bekom.

Die doel van hierdie artikel is om gebruikers van silosertifikate kortliks in te lig oor die aard, hantering en gebruike van graansilosertifikate in die Suid-Afrikaanse graanmark. Sodoende kan gebruikers van silosertifikate 'n beter insig kry met betrekking tot die waarde en gevare van silosertifikate en die prosedures wat gevolg moet word tydens die verhandeling daarvan.

Wat is 'n graansilosertifikaat?
'n Graansilosertifikaat is 'n dokument wat op versoek van 'n klant wat oor graanvoorraad in 'n silo beskik (eienaar van die graan), deur 'n silo-eienaar uitgereik word as 'n bewys dat die betrokke persoon of instansie 'n vorderingsreg het op 'n spesifieke hoeveelheid graan van 'n spesifieke kwaliteit wat by 'n spesifieke graansilo namens die eienaar opgeberg word. 'n Silosertifikaat het 'n unieke nommer en maak voorsiening daarvoor dat dit van een persoon of instansie na 'n volgende oorgedra kan word. Die laaste oordragnemer van die silosertifikaat is geregtig om die onderliggende produk in ontvangs te neem, mits die oorspronklike silosertifikaat aangebied kan word.

'n Graansilosertifikaat is nie 'n finansiële instrument nie en word nie deur 'n spesifieke wet gereguleer nie. 'n Graansilosertifikaat is dus nie, soos dikwels verkeerdelik aangevoer word, 'n verhandelbare dokument nie, maar eerder 'n simbool of instrument vir doeleindes van konstruktiewe lewering volgens die gemenereg. Op die voorkant en rugkant van 'n silosertifikaat is daar gewoonlik verskeie voorwaardes gespesifiseer wat die hantering van die sertifikaat rig en reël.

Daar is twee tipes graansilosertifikate, naamlik 'n Safex-sertifikaat (ook genoem 'n oordraagbare silokwitansie) wat bedoel is vir lewering van graan teen 'n termynmarkposisie, en 'n silosertifikaat wat deur 'n silo-eienaar uitgereik word vir die normale verhandeling van graan of vir sekuriteitsdoeleindes. Safex-sertifikate word ook algemeen gebruik vir graanverhandeling buite die termynmark. Die voorwaardes vir die hantering van 'n Safex-sertifikaat is nie volledig op die voorkant en rugkant van die sertifikaat vervat nie en word vervat in die reëls wat deur die JSE neergelê word.

Safex-sertifikate kan in papier- of elektroniese formaat uitgereik en verhandel word.

Uitreiking van 'n silosertifikaat
Die eienaar van graan vra 'n graansilosertifikaat skriftelik of telefonies by die silo-eienaar aan. Die sertifikaat word teen 'n vasgestelde tarief (tans R1,70 per ton) uitgereik en alle opgehoopte silokoste op die graan is betaalbaar voordat die sertifikaat aan die eienaar oorhandig kan word. Die sertifikaat dra vanaf die datum van uitreiking daarvan silokoste op 'n daaglikse basis teen die toepaslike tarief (tans 40c/ton/dag vir mielies), ongeag wie die vorige eienaar van die graan was en die omvang van opbergingskoste wat reeds ten opsigte van die graan betaal is. Die opgehoopte silokoste ten opsigte van 'n silosertifikaat word deur die silo-eienaar te boek gestel. Hierdie koste is betaalbaar deur die laaste oordragnemer van die silosertifikaat voordat die onderliggende voorraad deur die silo-eienaar vrygestel sal word. Die laaste oordragnemer kan ook die aanvanklike eienaar wees vir wie die silosertifikaat uitgereik is. Silosertifikate word slegs uitgereik vir graan wat namens die aansoeker opgeberg word. Silosertifikate vir fiktiewe voorraad kan en mag nie deur 'n kommersiële silo-eienaar uitgereik word nie.

Verhandeling en oordrag
Die vorderingsreg wat die aanvanklike eienaar van die onderliggende graan deur middel van 'n uitgereikte silosertifikaat ontvang, kan na 'n volgende party oorgedra word. Daar word algemeen verwys na die verhandeling van graan deur middel van silosertifikate. Die oordragte word deur die oordraggewer en oordragnemer op die silosertifikaat aangeteken. Omdat hierdie oordragte nie by die silo-eienaar geregistreer hoef te word nie, bestaan daar geen metode of verpligting by die silo-eienaar en/of oordragnemer om die geldigheid van vorige oordragte te verifieer nie. Slegs 'n hofbevel kan verdere oordragte of vrylating van die onderliggende graan aan die laaste oordragnemer verhoed.

Met die uitsondering van Safex-sertifikate het silosertifikate normaalweg 'n vervaldatum en die sertifikaat moet voor hierdie datum vir lewering aangebied word. Oordrag van sertifikate waarvan die vervaldatum verstreke is, is riskant. Soos aangedui in die voorwaardes op die silosertifikaat, besit die silo-eienaar die reg om die onderliggende graan ná die vervaldatum te verkoop om opgehoopte silokoste te dek. In gevalle waar opgehoopte silokoste die waarde van die produk oorskry, het die silo-eienaar die reg om die produk te verkoop ten einde uitstaande silokoste te dek. 'n Silo-eienaar kan derhalwe nie voorraad onbepaald opberg nie.

'n Graansilosertifikaat kan nie deur die silo-eienaar gekanselleer word sonder dat die oorspronklike silosertifikaat ingedien word nie. Indien 'n silosertifikaat verlore sou raak, kan 'n plaasvervangende silosertifikaat nie uitgereik word nie, tensy die persoon of instansie wat vir die vervanging van 'n sertifikaat aansoek doen, bevredigende waarborge en skadeloosstelling aan die silo-eienaar kan verskaf. Die persoon of instansie wat die kansellasie vereis en die skadeloosstelling voorsien het, sal dan verantwoordelik wees om die silo-eienaar te vergoed vir skade wat hy sou ly indien die oorspronklike sertifikate vir lewering aangebied word. 'n Dubbele leweringsverpligting ten opsigte van dieselfde produk ontstaan dan vir die silo-eienaar.

Handelsgebruik en status
Graansilosertifikate word merendeels uitgereik om verhandeling (oordrag van graan) te fasiliteer. Dikwels word bestaande silosertifikate ná verhandeling by die silo-eienaar ingedien met die versoek om plaasvervangende silosertifikate uit te reik of om die voorraad in 'n opbergingsrekening by die silo-eienaar te plaas.

Graansilosertifikate word ook as sekuriteit vir finansiering gebruik. In hierdie geval word die silosertifikaat deur die finansier in veilige bewaring gehou totdat die krediet wat verleen is, afgelos is. Die finansier kan, indien hy kan bewys dat hy die laaste oordragnemer is, op die onderliggende produk aanspraak maak indien die kredietopnemer nie sy verpligtinge nakom nie.

Graansilosertifikate se status in die RSA het sodanig ontwikkel dat die persoon of instansie wat in besit van 'n silosertifikaat is, dit as voldoende bewys van sy reg (eienaarskap of vorderingsreg) tot die onderliggende graan beskou. Kopers, graanhandelaars, finansiers en produsente beskou ook die fisiese oordrag van 'n graansilosertifikaat na of vanaf 'n ander party as die oordrag van sy reg (eienaarskap van) tot die onderliggende graan.

Samevatting
NWK is reeds verskeie kere gekonfronteer met situasies waar die oorspronklike eienaar wat die silosertifikaat aangevra het, aanspraak maak op "eienaarskap" van die graan. Daar was onder meer aansprake dat die sertifikaat verlore geraak het, dat die oorspronklike eienaar nie betaling vir die onderliggende graan gekry het nie en dat sy handtekening op die oordragregister vervals is. NWK is selfs versoek om die sertifikate te blok en om lewering te weier indien die sertifikaat wel vir lewering aangebied word. Sulke versoeke bedreig silosertifikate se status.

Rolspelers in die graanmark vereis dat die status van silosertifikate onaangetas bly en dat die wettige oordrag van silosertifikate van een party na 'n volgende in stand gehou word. Gebruikers van silosertifikate moet ten volle op hoogte wees van alle voorwaardes en vereistes met betrekking tot graansilosertifikate. 'n Graansilosertifikaat is 'n waardevolle dokument en moet altyd met groot sorg hanteer word, veral as die persoon of instansie in wie se naam die sertifikaat uitgereik is, die sertifikaat as oordraggewer geteken het. In hierdie geval is 'n sertifikaat so goed soos kontant!

Meer besonderhede oor silosertifikate kan bekom word by die Departement Graandienste by NWK se hoofkantoor, tel 018 633 1001.

Geskryf deur Jan Grobbelaar, direkteur: Graanbedryf, en Kobus van den Berg, bestuurder: Graandienste, NWK

21 April 2008