Landbou
Buurstate kry Eskom-krag teen kosprys
Deur JAN BEZUIDENHOUT

Luidens 'n nuusverklaring deur Forensies.com, 'n onderneming van forensiese rekenmeesters, verkoop Eskom krag teen 'n verlies aan industrieë en buurlande, terwyl krag teen minder as 5% se opmerk aan herverspreiders en die myne verkoop word. Forensies.com het 'n voorlegging aan NERSA, die nasionale elektrisiteitsreguleerder, gedoen.

"Eskom se berekende bruto wins uit kragverkope vir 2007 beloop R4,29 miljard. Daardie aankopers wat 88,4% se krag teen minder as 5% se opmerk, of dan teen 'n verlies koop, dra gevolglik slegs R230 miljoen tot die bruto wins by. Die oorblywende 11,6% se verkope beloop R4,06 miljard. Dit beteken dat die herverspreiders, industrieë, myne en buurlande 5,4% tot Eskom se bruto wins bydra, terwyl huishoudings, landelike gebruikers, handelsbesighede en treine 94,6% bydra."

Volgens dr. Philip Theunissen, 'n landbou-ekonoom en een van die vennote in Forensies.com, kan Eskom sy voorgestelde verhoging van 60% maklik bereik deur die prys van die groot gebruikers tot tussen 55% en 60% te verhoog van die prys wat huishoudelike gebruikers betaal.

Só kan Eskom steeds 'n doeltreffende verhoging van 60% in sy inkomste behaal, terwyl huishoudings se tariewe slegs met 20% verhoog, insluitend die 14% wat reeds in 2007 geïmplimenteer is.

Theunissen sê dat Eskom se aansoek ver te kort skiet om werklik die meriete van 'n hoër tarief te kan bepaal. "Eskom speel rond met algemene indekse van brandstof- en steenkoolpryse in plaas daarvan dat hy met werklike syfers aandui hoe hy by 'n 60% verhoging uitkom. Dit maak dit moeilik om die meriete van die verhoging te bereken." Volgens Forensies.com se eie aannames benodig Eskom ongeveer 'n 40% verhoging om die skade te herstel wat oor 'n aantal jare deur Eskom se bestuur aangerig is."

Theunissen sê ook dat dit onregverdig sal wees om 'n verhoging van hierdie omvang gelykmatig op al die kategorieë van kragverbruikers toe te pas. "Eskom verkoop die grootste gedeelte van sy krag (39,8%) aan herverspreiders terwyl industrieë en myne saam 42,3% koop. Krag word egter teen 'n verlies aan industrieë en die buurlande verkoop terwyl dit teen minder as 5% se bruto wins aan herverspreiders en die myne verkoop word.

Met die eerste oogopslag kan dit lyk of die verkope aan buurlande (teen 'n verlies) polities gemotiveerd is. Hoewel hierdie verkope tot 'n mate deur ingevoerde krag vanaf Cahora Bassa aangevul word, gaan die grootste hoeveelheid van die uitgevoerde krag na Suid-Afrikaans gebaseerde nywerhede en myne in die omliggende lande. Dit sluit BHP Biliton se Mozal aluminium-smelter in Mosambiek, Anglo se Skorpion-myn in Namibië en die Namdeb-diamantmyn van De Beers, ook in Namibië, in.

Die beweerde " goedkoop" krag van Suid-Afrika is beslis nie op huishoudings en handelsbesighede van toepassing nie, of hulle dit nou direk van Eskom of by herverspreiders koop. Dit geld slegs groot aankopers wat dit bykans teen kosprys kry. Daar moet ook in gedagte gehou word dat 14% se BTW nog by kragtariewe gevoeg word wat by die eindverbruiker ingevorder word. Huishoudelike gebruikers kan nie die BTW terugeis nie terwyl die meeste ander kragkopers dit wel kan doen.

Volgens nog 'n forensies rekenmeester van Forensies.com, mnr. Wicus van der Merwe, kan die 60% verhoging wat Eskom aanvra, hetsy geregverdig of nie, maklik bereik word deur die prys van die groot gebruikers tot tussen 55% en 60% te verhoog van die prys wat huishoudelike gebruikers betaal. "Op hierdie wyse kan Eskom steeds 'n effektiewe verhoging van 60% in sy inkomste behaal terwyl huishoudings se tariewe slegs met 20% verhoog, insluitende die 14% wat reeds in 2007 geïmplementeer is."

Forensies.com het ook aan NERSA voorgestel dat Eskom sy korporatiewe kultuur saam met sy kragopwekkingskapasitiet behoort te herstel. Dit geld spesifiek vir die primêre karaktertrekke van deursigtigheid, rekenskap en verantwoordelikheid. Die kraggebruikers het Eskom nodig maar Eskom het hulle ook nodig om deur die krisis te kan kom. Eskom behoort dus, by monde van sy aandeelhouer, direkteure en bestuur, te erken dat hy wesentlike foute gedurende die afgelope paar jare gemaak het. As hy rekenskap daarvoor aanvaar en verskoning vir die publiek vra sal die kraggebruikers dalk net meer bereidwillig wees om aan besparingsmaatreëls deel te neem en om die aansienlike verhoging in kragtariewe te aanvaar.

  • Lees meer hieroor op forensies.com se webwerf: www.forensies.com

    5 Mei 2008