Die volhoubaarheid van 'n besigheid hang af van sy regenereringsvermoë. Dit is 'n lang woord met 'n biologiese betekenis wat eintlik net op lewende wesens betekking het. Dit beteken dat 'n lewende organisme in staat is om homself te vernuwe deur middel van veroudering en voortplanting ("regenerate") sodat dit kan bly voortbestaan.
So, wat het 'n plaas met biologie te doen? Hoewel die regenereringsvermoë as metaforiese beeld gebruik is, bestaan 'n plaas wel uit biologiese komponente. Daar groei gras en graan en daar is diere op die plaas. As die boerdery self nie 'n lewende organisme is wat homself kan regenereer nie, behoort die boer dit ten minste so te bestuur dat die komponente daarvan, wat wel lewende organismes is, hulself kan regenereer. In kort: Die plaas moet produksie kan volhou vir geslagte wat nog gaan kom en moet dus nie degenereer in die proses nie.
Volhoubare produksie beteken dat die plaas as 'n geheel op 'n effektiewe wyse bestuur moet word. Die boer moet voortdurend die boerdery-aktiwiteite só organiseer dat verskillende vertakkings, boerderypraktyke en bestuursmetodes oor tyd die effektiwiteit waarmee die onderlinge komponente met mekaar saam werk kan bevorder, sonder dat die hulpbronne in die proses vernietig word.
Volhoubare bestuur lyk op die oog af baie uitdagend en ingewikkeld maar dit is eintlik baie logies. Die boer moet 'n deeglike begrip hê van die doel van die plaas as 'n organisasie en die beginsels waarvolgens dit moet funksioneer. Die belangrikheid van doel en beginsel in volhoubare bestuur kan nie onderskat word nie. As basis moet die plaas gedefinieer word in terme van die kwaliteit van lewe wat dit ekonomies, sosio-ekonomies en ekologies kan verskaf. Dit moet dan die fundamentele wette van die natuur, insluitende menslike natuur, insluit wat nie verbreek kan word sonder dat die plaas se volhoubaarheid in die gedrang gaan kom nie. Die beginsels van volhoubaarheid is dus gebou op basiese fisika, biologie en sielkunde, maar is in wese eintlik net logika.
'n Verdere aspek is dat die boer 'n deeglike begrip van die boerdery as 'n geheel moet hê. Daarmee word bedoel dat hy moet verstaan hoe die verskillende vertakkings en ook sy boerderypraktyke onderling in mekaar skakel en wat die verwantskap tussen hulle is. Elke aktiwiteit op die plaas is verwant aan mekaar, of dit die boer se intensie is of nie, en uiteindelik kan hierdie verwantskap positief of negatief op mekaar inwerk. Die belangrikheid van volhoubare boerdery gaan dus oor baie meer as bloot die somtotaal van die produksie van die plaas.
Die finale stap in volhoubare bestuur is om balans in netto ekonomiese, netto sosiale en netto ekologiese wins te bewerkstellig. Ongelukkig kan die totale wins van al drie saam nie in randwaarde bereken word nie omdat die voordeel oor 'n lang termyn bereken moet word. Daarmee saam kan 'n verandering aan ekonomiese wins 'n onsigbare invloed op totale volhoubare wins hê wat baie jare later eers waarneembaar gaan wees. Elke besluit moet dus voortdurend gemonitor word om moontlike onverwagse negatiewe gevolge te kan vasstel. Die deurslaggewendste beginsel van volhoubare bestuur is om die boerdery in verhouding tot sy doel en beginsels te bestuur, om foute vinnig reg te stel en om die plaas as 'n regenererende organisme te beskou.
24 Julie 2007