Erfopvolging behels 'n hele aantal aspekte en die besluitneming en beplanning daar rondom beïnvloed baie mense se lewens. Daarom is erfopvolging meer as net die opstel van 'n testament, die uitneem van lewenspolisse of die oprigting van 'n trust.
Erfopvolging gaan oor die vrywillige oorgee van die boerdery vanaf die huidige eienaar na 'n volgende eienaar op 'n voorafbepaalde tydstip. Die veronderstelling is gewoonlik dat die nuwe eienaar die boer se kind of kinders is en dat die boer nie voortydig te sterwe gaan kom nie. Gevolglik is hierdie oorgang aan spesiale en soms unieke voorwaardes of reëlings onderhewig wat normaalweg nie by 'n gewone koop- en verkooptransaksie gevind word nie.
Die beplanning vir erfopvolging moet betyds gedoen word met inagneming van die hele familie (ouers, minderjarige kinders, meerjarige boerende kinders en nie boerende kinders) se lewensbehoeftes, die uittredende geslag se aftreeplanne en ook die oorgangsmaatreëls wat gevolg gaan word. Om dit te kan doen is daar verskeie aspekte wat gedurende die beplanning en die uitvoering van die planne aandag moet geniet. Die familie se emosies en persoonlike behoeftes speel 'n belangrike rol by erfopvolging. Dit beteken dat die samewerking van al die familielede 'n belangrike aspek van 'n goeie erfopvolgingsplan is. Dit is die familielede wat uiteindelik die plan moet implementeer en wat tevrede met die uitkoms daarvan moet wees. Die effektiwiteit van die erfopvolgingsplan uit 'n besigheids- sowel as 'n familieperspektief, hang dus af van mense se bereidwilligheid om in 'n unieke situasie saam te werk.
Dit is belangrik dat daar tussen die drie begrippe van erfopvolging, vererwing en aftrede onderskei moet word. Erfopvolging is die proses wat op die oordrag van bestuursbeheer en kontrole betrekking het terwyl vererwing bloot die oordrag van rykdom en eienaarskap is.
Aftrede fokus weer op die jare na die aktiewe werk op die plaas. Die ideale oordrag is een waar die verantwoordelikheid geleidelik vanaf die vader na die seun verskuif. Dit kom daarop neer dat die seun eers vir die pa werk, dan saam met sy pa werk en dat die pa uiteindelik vir die seun werk. Daar is verskeie faktore wat die tydstip en omvang van die bestuursoordrag beïnvloed.
'n Billike verdeling is uniek aan die boer se eie omstandighede. Dit sal baie van sy familie se samestelling afhang en sterk beïnvloed word deur sy eie persoonlike voorkeure. Die erfopvolgingsplan van een boer sal uiteindelik dus wesentlik van sy buurman s'n verskil, al is hulle omstandighede baie dieselfde.
Suksesvolle erfopvolging kan net gebeur as daar goeie beplanning plaasgevind het en indien al die betrokkenes gemotiveerd is om die plan uit te voer. 'n Erfopvolgingsplan betrek gewoonlik die hele familie en daarom moet al die betrokkenes tevrede wees met hulle rol binne hierdie plan.
17 Augustus 2007