Op watter vlak is jou bestuursvermoë? 'n Bekende landbou-ekonoom skryf 'n reeks artikels oor bestuurspraktyke in boerdery. Ná die lees van elk van dié 12 artikels kan 'n mens jou bestuursvermoë toets én jy kan die uitslag sien. Ekonomies gesproke is 'n goedbestuurde boerdery een wat konstant 'n groter wins as soortgelyk gestruktureerde boerderye in dieselfde geografiese omgewing maak.
Omdat eksterne makro-ekonomiese faktore, soos prys, dikwels 'n totale bedryf affekteer, is dit belangrik dat 'n boerdery se wins relatief tot 'n bedryf vergelyk moet word en nie net op 'n individuele vlak beoordeel word nie. Sodoende kan individuele bestuursvaardighede gedurende uitsonderlik voorspoedige én swak tye geïdentifiseer word.
Winsgewende boere bou hulle boerderye op rondom suksesvolle bestuurspraktyke eerder as suksesvolle boerderypraktyke. Daar is 'n egter belangrike verskil! Meeste boere het merkwaardige vordering gemaak ten opsigte van operasionele effektiwiteit. In die meeste gevalle het die bestuurspraktyke egter nie in pas met die operasionele vordering gebly nie.
In hierdie reeks artikels sal aangetoon word hoe die beproefde bestuurspraktyke sistematies in boerderye aangewend kan word met die oog op die verbetering van winsgewendheid. Daar is beduidende verskille tussen winsgewende en nie-winsgewende boere. Sommige verskille is in areas waar daar wel veranderinge aangebring kan word terwyl ander verskille nie maklik verander kan word nie. Suksesvolle boere is denkende boere. Dit verg die vermoë om obserwasie in inligting, inligting in kennis, kennis in begrip en begrip in wysheid te omskep. Met behulp van die wysheid kan die beste bestuurspraktyke op die plaas geïmplimenteer word.
Areas van bestuur
Vir 'n boer is die algemeenste areas van bestuur algemene bestuur, finansiële bestuur, produksiebestuur, bemarkingsbestuur, menslike hulpbronbestuur, aankoopsbestuur, meganisasiebestuur, risikobestuur, administratiewe bestuur, volhoubare bestuur, erfopvolgingsbestuur en dan bestuursinligting.
In elk van hierdie areas sal die boer, in sy hoedanigheid as bestuurder, doelwitte moet beplan, sy arbeid moet organiseer, almal se aktiwiteite moet koördineer en uiteindelik die hele operasie moet kontroleer. As die kontroleringsmaatstawwe tekortkominge of afwykings ten opsigte van die doelwitte toon, moet die boer as bestuurder weer beplan, organiseer, lei, koördineer en uiteindelik weer kontroleer. Boerderybestuur is dus 'n voortdurende proses as gevolg van die veranderinge wat in die ekonomie en ook in individuele besighede plaasvind. Dit dwing die boer om nuwe doelwitte te identifiseer waarheen die boerdery bestuur moet word.
Die area van algemene bestuur gaan oor die opstel van doelwitte, beplan hoe om dit te bereik, organiseer en lei van arbeid ter bereiking van die doelwitte, koördinering van al die aktiwiteite en om die vordering en uitkoms ten opsigte van die doelwitte te kontroleer. Onthou dus: jy sal nie daar kom as jy nie weet waar "daar" is nie!
So, definieer jou doelwitte en kom "daar".
17 April 2007