Landbou
Beste bestuurspraktyke (2): Finansiële bestuur
Dr. PHILIP THEUNISSEN

Die bestuur van 'n boerdery se finansies begin met die opstel van 'n kontantvloeibegroting. Dit gee 'n aanduiding van wanneer kontant ín die boerdery gaan vloei (inkomste) en wanneer daar weer kontant uit die boerdery gaan vloei (uitgawes). Deur die maandelikse verskil tussen die kontant in- en uitvloeie te bereken, kan daar vasgestel word wanneer die boerdery kontanttekorte of -surplusse gaan ondervind.

Die kontantvloeibegroting, tesame met die boer se jongste balans- en inkomstestaat, kan nou gebruik word om 'n kontanttekort te ontleed. Die belangrikste aspek wat uit hierdie drie state bepaal moet word is of die boerdery winsgewend is of nie. 'n Winsgewende boerdery, selfs een wat 'n korttermyn konttanttekort ondervind, sal in staat wees om met sy inkomste sy uitgawes te dek, sy eienaar se privaatuitgawes te dek en om sy paaiemente op sy lenings te kan betaal.

'n Boerdery wat se inkomste nie hierdie drie areas van verpligtinge kan dek nie sal eers 'n voortslepende kontanttekort ondervind en daarna sy solvabiliteit begin opgebruik totdat dit op 'n punt kom waar dit insolvent is en uitverkoop moet word. Die mate waarin die boerdery daarin slaag om hierdie drie areas te dek kan gemeet word in doeltreffendheid, skaal van die boerdery en die skuldstruktuur.

Doeltreffendheid
Doeltreffendheid meet die uitgawes se vermoë om inkomste te genereer. Indien 'n boerdery 60 sent se uitgawes vir elke R1,00 se inkomste het, is dit baie doeltreffendheid. Daar bly 40% van die inkomste oor nadat produksie-uitgawes betaal is wat dan beskikbaar is om privaat uitgawes en leningspaaiemente mee te betaal.

'n Boerdery met 'n doeltreffendheid van 10% sal nie in staat wees om hierdie uitgawes te betaal nie. Lae doeltreffendheid kan die gevolg van 'n swak oes wees. Dit kan ook die gevolg wees van te hoë uitgawes. In die eerste geval is die kontanttekort tydelik en sal dit deur 'n beter seisoen reggestel kan word.

  • Geskryf deur dr. Philip Theunissen. Sy webwerf is: www.computus.info

    17 April 2007


       - Kan jy nie oopmaak nie? Kry Excel Reader