In besigheidsterme word produksiebestuur beskryf as die middelfase in die drieledige basis van enige onderneming, naamlik finansieel, produksie en bemarking. Hulpbronne moet bymekaar gekry word, goedere moet daarmee geproduseer word en dan moet dit verkoop word.
Produksiebestuur gaan dan oor die bestuur van die middelste aktiwiteit. Die produksiebestuurder is direk verantwoordelik vir die vervaardiging van die regte hoeveelheid produkte op die regte tyd waartoe die bemarkingsbestuurder die onderneming verbind het. Binne die breë vlak van produksie sal hy dus verskeie besluite moet neem rakende wat om te produseer, wanneer om te produseer, hoe om te produseer en hoeveel om te produseer.
Die boer as produksiebestuurder het twee nadele ten opsigte van produksie. Eerstens is die produksieproses redelik lank en vanaf planttyd tot strooptyd kan die markfaktore baie verander. Tweedens is die uiteindelike opbrengs ook aan klimaatsfaktore onderworpe en daaroor het die boer geen beheer nie. Die produksieresultaat is dan meer dikwels nie dit wat die boer by die aanvang van die proses in gedagte gehad het nie.
Dit bied egter nie aan boere 'n verskoning om nie ag te slaan op die finansiële en bemarkingsarea van die besigheid nie. Die drie, asook ander aspekte binne die boerdery, affekteer mekaar onderling en die verskillende bestuursareas kan dus nie in afsondering van mekaar bedryf word nie. Wat dus in die een afdeling verander lei noodwendig tot 'n verandering in 'n ander afdeling.
Landbou het ook die nadeel dat produkpryse op 'n gegewe tydstip vir alle produsente dieselfde is. Dit is so dat Safex wel die geleentheid aan boere bied om die prys op ander tye vas te maak en dit is ook 'n feit dat 'n stoetteler 'n premie op kwaliteit kry. Die slotsom is egter dat 'n boer nie sommer sy medeboer by die markpunt kan klop nie omdat hulle produkte meestal identies is. Produksie is dus die maklikste punt om meer mededingend te kan wees. Beter produktwiteit en beter produksieprosesse lei noodwendig tot laer koste. Wins is die verskil tussen inkomste en uitgawes en uiteindelik is die beter boer die een wat sy produkte teen dieselfde produksievlakke en dieselfde prysvlakke maar teen laer produksiekoste as sy medeboer kan verskaf.
In gewone besighede moet die bestuur eers die toekomstige vraag na 'n produk bepaal alvorens daar geproduseer kan word. In boerderye is daar ongelukkig 'n kultuur dat daar in meeste gevalle eers geproduseer word en dan gekyk word hoe die produkte verkoop gaan word. Hoe moeilik dit ookal vir 'n boer is, is die basiese uitgangspunt van produksie dat dit markgedrewe moet wees. Die mark laat hom nie deur produksie dryf nie en reageer gewoonlik daarop deur middel van lae pryse.
17 April 2007