Landbou
Beste bestuurspraktyke (4): Bemarkingsbestuur
Dr. PHILIP THEUNISSEN

"Die uitsluitlike doelwit van produksie is verbruik". Hierdie woorde het die welbekende ekonoom, Adam Smith, al in 1776 in sy boek The Wealth of Nations gesê. Hy het bygevoeg dat die produsent se belang slegs sover moet gaan om die verbruiker se belange te bevorder. Later het ander ekonome Smith se siening verder gevoer en bemarking gedefinieer as 'n reeks dienste wat die produk vanaf die punt van produksie tot by die punt van verbruik laat beweeg.

Tot sowat 'n dekade gelede is die meeste landbouprodukte deur iemand anders namens die boer bemark. Koöperasies en beheerrade het die bemarkingsfunksies vir boere behartig maar sedert Suid-Afrika se landbou na 'n vrye mark oorgeskakel het, moet boere hierdie funksie self hanteer. Dit het uiteraard nie sonder pyn en leiding gebeur nie en baie boere is nog steeds produksiegeöriënteerd en neem nie in ag wat die verbruiker wil hê nie. Die duur les is dat die boerdery se hele voortbestaan van die verbruiker se behoeftes afhang. Bemarking (wie gaan die produkte koop?) behoort dus die fokus van die boerdery te wees en daarna kom produksie (hoeveel gaan hulle koop?) en dan finansiële bestuur (hoe gaan ek die produksieproses finansier?). 'n Boer wat hierdie volgorde verkeerd het, gaan nie sy boerdery baie lank kan volhou nie.

Die natuurlike en dalk ook ekonomiese geaardheid van boere is om die beste prys vir hul produkte te kry, ongeag die volume wat geproduseer word. Die produkte "beweeg" nou egter van die plaas af deur sekere kanale tot by die verbruiker. Vervaardigers, wat die produk van die boer af ontvang, wil weer 'n produk van goeie gehalte teen lae koste bekom sodat hy die verwerkte produk teen 'n mededingende prys kan verkoop. Daarna wil die handelaars weer goeie kwaliteit produkte teen konstante verskaffing beskikbaar hê. Laaste in die ketting wil die verbruiker ook goeie kwaliteit produkte maar teen lae prys kan koop.

Dit is duidelik dat daar botsende uitgangspunte in die bemarkingsproses is. Die literatuur verwys na hierdie botsende belange as die "marketing mix" of dan die bemarkingsmengsel. Hierdie mengsel bestaan uit die vier veranderlikes van produk, prys, plek en promosie (die vier P's). Die formule vir suksesvolle bemarking is gebaseer op die optimale kombinasie van hierdie vier veranderlikes. As enigeen van hierdie veranderlikes oorbeklemtoon word, gaan die ander negatief daardeur beïnvloed word. 'n Lae prys sal uiteraard tot goeie verkope lei maar as die produk se kwaliteit daaronder lei of dit word op die verkeerde plek aan die verkeerde mense verkoop, is die mengsel skeef getrek.

Ongelukkig is die vier P's veranderlik en sal dit noodwendig beteken dat as die regte formule een keer bereik is, dit nie vir altyd sal geld nie. Soos wat ekonomiese, politieke en ongewingsomstandighede voortdurend verander, so gaan die optimale mengsel ook aanhoudend verander.

Hierin lê die uitdaging dus vir die boer: Om 'n totale kopskuif weg van 'n produksiegeöriënteerde na 'n markgerigte benadering te volg deur op die vier P's te fokus. Geproduseerde produkte alleen gaan nie die langtermyn lewensvatbaarheid van die boerdery waarborg nie terwyl verkoopte produkte dit wel sal doen.

  • Geskryf deur dr. Philip Theunissen. Sy webwerf is: www.computus.info

    17 April 2007


       - Kan jy nie oopmaak nie? Kry Excel Reader