Landbou
Beste bestuurspraktyke (5): Personeelbestuur
Dr. PHILIP THEUNISSEN

In enige besigheid, ongeag die grootte, is daar altyd take wat rondom menslike hulpbronne uitgevoer moet word. Dit geld beslis vir 'n boerdery waar arbeid redelik noodsaaklik is. Dit is meestal nie geregverdig om 'n menslike hulpbronbestuurder vir 'n boerdery aan te stel nie omdat dit kostegewys nie die moeite werd is nie. Gevolglik moet die meeste boere self hierdie bestuurstaak verrig. Omdat die ander bestuursareas reeds soveel van die boer se bestuur in beslag neem, word hierdie area gewoonlik maar afgeskeep, op 'n ad hoc- basis uitgevoer en is daar meestal nie 'n langtermyn beleid daarvoor nie.

Op die oog af kan dit voorkom of menslike hulpbronbestuur 'n afsonderlike bestuursarea is maar dit verskil van die ander areas omdat dit onvermydelik deel is van elke ander area. Daar is immers mense by elk van die ander areas betrokke en hierdie mense moet bestuur word. Hoewel die boer daagliks by die organisering en motivering van sy personeel betrokke is, is daar tog spesifieke take wat in sy hoedanigheid as menslike hulpbron-bestuurder uitgevoer moet word. Die vernaamste hiervan is werwing, onderhoude, bekendstelling en opleiding, evaluasies, griewe en dissipline asook arbeidsverhoudinge.

'n Boerdery is 'n aaneenlopende besigheid wat baie keer oor geslagte heen voortgesit word. Die menslike hulpbronbestuurder moet dus verseker dat die regte hoeveelheid mense met die regte opleiding deurlopend vir die uitvoering van die boerdery se take beskikbaar is. Dit lê ook in die area van menslike hulpbronbestuur om te sorg dat die werkers doeltreffend en produktief werk en dat hulle per slot van sake gemotiveerd en gelukkig in hulle werk is.

Dit is klaar 'n mondvol om net aan 'n boerdery se bestaande behoefte van menslike hulpbronne te kan voldoen. Soms beoog die boer ook om die boerdery uit te brei. Dan moet bykomende werkers met ander vaardighede gewerf en opgelei word. Gevolglik moet die menslike hulpbronbestuur tesame met al die ander bestuursareas bestuur word.

Die doel van menslike hulpbronbestuur binne 'n boerdery is nie net om personeel te werf, te selekteer en in diens te stel nie, dit behels ook die ontwikkeling en opleiding van personeel. In sommige gevalle gaan dit selfs oor die opvoeding van personeel. Die verdere ontwikkeling van personeel is belangrik sodat werkers tot hulle volle potensiaal binne werksverband aangewend kan word.

Die hele indiensnemingsproses, waarby ontwikkeling ingesluit is, kos geld, verg mannekrag en neem baie tyd in beslag. Die bestaande menslike hulpbronne binne die boerdery moet dus as 'n belegging beskou word en as sulks na gekyk word. Die menslike hulpbron is dus die belangrikste produksiefaktor binne die boerdery. 'n Hoë personeelomset is gevolglik skadelik vir enige besigheid in terme van indiensnemingskoste en ook verlies aan kontinuïteit binne die boerdery.

Die aktiwiteite van 'n menslike hulpbronbestuurder kan nie gekwantifiseer word nie. Dit is dus moeilik om 'n geldwaarde aan hierdie area van bestuur te koppel. Dit behoort egter duidelik uit die bespreking te wees dat menslike hulpbronbestuur in elke ander bestuursarea 'n rol speel omdat daar mense in elke afdeling teenwoordig is. Die produktiwiteit van elke ander bestuursarea sal dus afhang van hoe goed die boer se menslike hulpbronbestuur is.

  • Geskryf deur dr. Philip Theunissen. Sy webwerf is: www.computus.info

    25 Mei 2007


       - Kan jy nie oopmaak nie? Kry Excel Reader

  • * Die jongste landbounuus is op jou selfoon beskikbaar. Klik hier.