Die doel van aankoopbestuur is om te verseker dat daar altyd genoeg voorraad beskikbaar is sodat die aktiwiteite van die boerdery uitgevoer kan word. So dit is 'n baie eenvoudige bestuursarea: koop een keer per jaar die een helfte van die stoor vol saad, kunsmis en onkruiddoder en die ander helfte vol voer, lekke en veemedisyne en fokus die res van die jaar op die ander bestuursareas! Of is dit regtig so eenvoudig?
Nee, dit kos geld om 'n stoor vol voorraad aan te koop. Die goedere in die stoor kan beskadig raak, verval of gesteel word. Dit is dus beslis nie ekonomies of wenslik om een keer per jaar al die voorraad vir die hele jaar aan te koop nie. So, die aankoopfunksie beteken dat die regte hoeveelheid van die regte produk of diens op die regte tyd op die regte plek teen die regte prys vir die boerdery beskikbaar moet wees. Die boerdery het hierdie insette nodig om self weer 'n produk te kan vervaardig en uiteraard moet die aankoop van die voorraad gefinansier word.
Dit klink nog steeds dalk redelik eenvoudig maar die aankoopfunksie het 'n direkte invloed op die produksieproses. As enige voorraaditem ontbreek, staan die produksieproses stil. As daar nie diesel is nie kan die trekkers nie loop nie. Al staan die trekkers van opgewondenheid en bewe op die wenakker kan hulle nie begin as daar nie saad en kunsmis in die planter is nie. En natuurlik gaan die bulle nie die koeie dek as hulle die hele dag vir kos moet staan en bulk nie.
Die slotsom is dat die produksieproses tot stilstand kan kom as daar nie voorraad is om mee te produseer nie. As die produksieproses skade lei gaan die bemarkingsproses plat val en uiteindelik gaan die kontantvloei van die boerdery opdroog. Soos met enige van die ander bestuursareas die geval is, moet die aankoopfunksie doeltreffend bestuur word sodat dit 'n positiewe bydrae tot die sukses van die boerdery te maak. Dit beteken dus dat die taak van aankoopbestuur ook aspekte soos beplanning, organisering, koördinering en kontrole sal insluit. Hierdie aspekte moet noodwendig met die ander bestuursareas van die boerdery gesinkroniseer word.
Die volgende aktiwiteite vorm deel van aankoopbestuur: .
Die verskillende aktiwiteite van aankoopbestuur vind nie in afsondering plaas nie. Hulle vorm almal deel van 'n geïntegreerde aankoopfunksie waarin elke aktiwiteit 'n spesiale rol speel om die oorhoofse doelwitte van die boerdery as 'n geheel te kan bereik.
4 Junie 2007