Landbou
Beste bestuurspraktyke (8): Risikobestuur
Dr. PHILIP THEUNISSEN

Risiko word gedefinieer as die moontlikheid van 'n onverwagse uitkoms. In die geval van 'n boerdery is die risiko's waarskynlik groter as vir 'n gewone besigheid omdat klimaat 'n wesentlike invloed op die finansiële resultate het. Die verskil tussen sukses en mislukking kan dus op die einde aan risikobestuur toegeskryf word.

Risikobestuur is die proses van identifisering, meting en bestuur van onsekere gebeurtenisse. Die basiese uitgangspunt is dus dat die doelwitte wat in die nabye toekoms bereik wil word eers deur middel van 'n begroting geantisipeer word. So 'n begroting is dus 'n aanduiding van wat bereik kan word indien toestande normaal verloop. Die volgende stap is om dan te bepaal wat alles verkeerd kan loop wat die boerdery sal verhoed om sy doelwitte te kan bereik. Daarna moet die risiko's bestuur word.

Die bepaling van risiko behels drie stappe. Eerstens moet die verskillende risiko's geïdentifiseer word. Daarna moet die impak van elke risiko in finansiële terme gemeet word. Laastens moet die risiko's in prioriteits-volgorde gerangskik word.

Wanneer die risiko's gekwantifiseer is, moet daar besluit word hoe dit bestuur gaan word. Die boer het drie keuses hoe hy die risiko's kan bestuur. Eerstens kan hy 'n bepaalde risiko vermy deur sy doelwitte te verander sodat die risiko geëlimeneer word. Tweedens kan hy die risiko aanvaar en dit dan dienooreenkomstig bestuur. Derdens kan hy die risiko deel of verplaas deur homself daarteen deur middel van versekering te beskerm.

Versekering kan verskeie vorme aanneem. Dit kan direk by 'n versekeraar verseker word. Die boer kan sy risiko met 'n medeboer deel deur byvoorbeeld bates gesamentlik aan te koop of hy kan prysrisiko byvoorbeeld op SAFEX verskans.

Hoe om te begin:

  • Sit eers die omvang van die ontleding uiteen. Besluit of die boerdery as geheel ontleed moet word, of slegs een vertakking ontleed moet word en of slegs een proses binne 'n vertakking ontleed moet word.
  • Identifiseer die riskante gebeurtenisse wat moontlik 'n negatiewe uitwerking op die boerdery as geheel, of dan die spesifieke gedeelte van die boerdery, se vermoë kan hê.
  • Bepaal die risiko op grond van die waarskynlikheid dat dit kan voorkom en ook die impak wat dit op die boerdery kan hê.
  • Rangskik die risiko's volgens hulle relatiewe belangrikheid vir die boerdery en besluit of elke risiko aanvaarbaar is of nie.
  • Ontwikkel bestuurstrategieë wat of die moontlike voorkoms van 'n risiko of die impak daarvan kan verminder.
  • Herhaal die hele oefening nadat die bestuurstrategieë ontwikkel is om opnuut die boerdery se blootstelling aan risiko te bepaal en om te bepaal of die strategieë wat in plek is aanvaarbaar is.

    Klik op die Excel-ikoon hieronder om jou vaardigheid te toets.

  • Geskryf deur dr. Philip Theunissen. Sy webwerf is: www.computus.info

    16 Junie 2007


       - Kan jy nie oopmaak nie? Kry Excel Reader