Die monitering van 'n boerdery is nie net 'n oefening wat aan die einde van 'n finansiële jaar gedoen moet word nie. Die boer moet gereeld akkurate en tydige inligting kry.
Die monitering van 'n boerdery is nie net 'n oefening wat aan die einde van 'n finansiële jaar gedoen moet word nie. Dit behels eerder dat die boer 'n gereelde vloed van akkurate en tydige inligting beskikbaar moet hê sodat hy in beheer van sy boerdery kan bly. Goeie inligting gaan nie opsigself die boerdery se sukses bepaal nie. Dit kan foute beperk, die omvang van afwykings bepaal en die boer op die oorsake, eerder as die simptome, laat fokus. In die meeste gevalle word bestuursinligting as voorsorgmaatrëel gebruik sodat daar betyds 'n koers-aanpassing gemaak kan word.
Te veel boerderye se finansiële rekordhouding en bestuursinligtingstelsels is ontoereikend en die meeste bestuursbesluite is dan ook net soveel werd soos die inligting waarop dit gegrond is. Die resultaat is dat meeste van die beplannings en ontledings wat deur die boer gedoen word in rekenaarterme as "gemors in, gemors uit" beskryf kan word. Die boer moet besef dat hy op baie meer inligting moet steun as dit wat sy bank of koöperasie en die Ontvanger van Inkomste van hom vereis. Hy benodig waarskynlik tien keer meer soveel inligting om sy boerdery suksesvol te kan bestuur. Om finansiële inligting dus slegs saam te stel wanneer hierdie instansies dit aanvra gaan nie aan die boer se bestuursbehoeftes voldoen nie.
Die totale pakket van bestuursinligting moet die boerdery se finansiële posisie kan bepaal, die finansiële prestasie kan aandui en die toekomstige finasiële posisie kan projekteer. Dit behels dus dat die boer vanaf 'n uitgebreide begroting moet werk, ag moet slaan op eksterne inligting wat aantoon dat daar bedreigings of geleenthede vir die boerdery bestaan, interne inligting moet ontleed wat op die boerdery se sterk- en swakpunte dui en advies moet vra waar daar bevestiging van die bestaande roete gekry moet word of wanneer daar 'n nuwe koers ingeslaan moet word.
Bestuursinligting is onderhewig daaraan dat dit help om die regte vrae te vra maar nie noodwendig die regte antwoorde verskaf nie. Goeie oordeel en gewone logika moet daarmee saam gebruik word. 'n Norm moet vasgestel word om die boerdery se prestasie intern te meet, oor tyd te meet en teen 'n industrie te meet. Dan kan die boerdery se bestemming gereeld vasgestel word en die roete om daar uit te kom, bepaal word.
Die ruggraat van bestuursinligting is 'n kontantvloeibegroting. Op sy eie is dit ook nie meer voldoende nie en die kontantvloei behoort uitgebrei te word na 'n bestuursbeplanning wat die volgende kan weergee:
Bestuursinligting moet akkuraat en tydig wees. Berekeninge en ontledings moet konstant op dieselfde wyse gedoen word sodat dit telkens dieselfde meetbare resultaat sal oplewer. Inligting wat nie hieraan voldoen nie is misleidend en kan tot swak besluite lei.
21 Augustus 2007