Landbou
Gewillige verkoper, onbevoegde koper
CAREL NEL

Ek het al só baie briewe geskryf en by al wat leef en beef gekla oor die staat se onvermoë om grondeise te finaliseer dat ek skaars die moed by mekaar kan skrap om dié brief te tik.

Ek het my plaas in Hazyview al in Januarie 2004 as te koop aan die staat aangebied. Sówat van smeek om die transaksie afgehandel te kry, is ondenkbaar.

Intussen het ons nog 'n plaasaanval/huisbraak ervaar om als te kroon. Die gevolg is dat my vrou weier om op die plaas te bly. Ek het derhalwe die staat (Deptartement van Grondsake op Nelspruit) gevra om die transaksie as dringend te beskou en te finaliseer. Ek kry net beloftes.

'n Jaar en 'n half later is die plaas gewaardeer vir 'n uiters swak prys, maar ons wou weg en het die prys aanvaar. Daar het dit gebly. Mnr. Moses Modise, die bestuurder van die Dept. van Grondsake (Nelspruit) het beloof om weekliks 'n e-pos-vorderingsverslag deur te stuur, maar hy het helaas op lang verlof gegaan en ons geïgnoreer.

Die agbare Minister, die DG, mnr. Glen Thomas, asook die nasionale grondeisekommissaris, mnr. Tozi Gwanya en sy persoonlike assistant, me. Ntombenhle het my blatant geïgnoreer.

Die DA het darem beloof om in die Parlement vrae aan die Minister te stel, maar ek het tot op hede geen terugvoering ontvang nie.

My punt is as die staat dan nie die kennis of wil het om die transaksie te finaliseer nie, waarom kan ek nie vrygestel word van die transaksie nie? Ek het ook verpligtinge en wil die plaas verkoop. Ek moes aandbiedinge noodgedwonge van die hand wys a.g.v. die grondeis.

Intussen gaan ek finansieël agteruit en kan nie meer bekostig om te wag vir een of ander amptenaar wat ondanks dié dringendheid op verlof gaan.

Wanneer gaan die staat se slapgattigheid einde kry? Wanneer gaan boere vereis dat hulle liewer onteien moet word want dan hoef jy jou nie aan hulle te steur tot en met die geld (volgens 'n markverwante waardasie) in jou rekening is nie?

Carl Nel - carladnel@yahoo.com

13 Junie 2006