Landbou
'Dié ouens gaan landbou soos 'n mielie eet!'
RIAAN MOUTON

Ek sien briewe doen nou weer die ronde oor Siener se verhale - die nag van die lang messe, ens, ens. Ons mense gryp aan dinge, glo in dinge, bekommer hulle oor dinge en dit is al wat nodig is vir die Regering om sy doel te bereik. Verwarring en benoudheid, leuens en propaganda.

Die helfte van ons mense sal op die ou end van hul plase wegstap sonder dat n skoot klap of 'n mes gesteek het a.g..v die volgende dinge:
1) Oningelig te probeer lewe.
2) Skuld - die lekker lewe van nuwe bakkies, trekkers, en fancy huise.
3) Morele waardes - dis mos lekkerder om in die kroeg te sit of onder jou lapa as om op die land self die trekker te bestuur of n gat te grawe.
4) Verwaandheid - ons is mos slim - weet meer as al die slim mense daar buite.
5) Agterbaksheid - doen gou vir Ben in, ek het in alle geval nie sy vriendskap nodig nie - die tipe van ding.
6) Doelwitloos

Vriende, hierdie outjies gaan ons eet soos 'n geelmielie as ons nie ons huis in orde kry nie. Hierdie dinge het die val van ons voorvaders ook gekos - Van oom Piet Retief tot oom Paul tot oom PW.

Toe ek in die weermag was net voor Suidwes afgestaan is en Namibia geword het, staan ons op uitpaseer-parade daar bokant Windhoek - daar word vertel SA sal NOOIT SWA afstaan nie - 4 maande later en hy is onafhanklik en die Switserse girls jaag in hul UN Mercs rond - die manne dink dis koel en die lewe gaan honkie-dorie voort.

In 1991 bly ek in by 'n gesin met die pa hoog op in die Polisie se Onluste-tak. Ons gesels, ek is maar dom en naïewe student, hy vertel my SA sal nooit oorgegee word nie. Ha-ha, 1994 hou ons verkiesing. Vriende, dis nie wat ons wil nie, dis wat die wêreld wil - tye het verander, as ons dink ons kan 'n indruk maak op wat die res van die wêreld dink van ons moet ons begin praat met een stem - tans klink dit soos n kinderparty met kleintjies wie se ma's hul hande moet hou. Ons het talle landbou unies elk met sy eie idees, agendas, visies en doelwitte.

Ek luister maar hoe die Aussies en Kiwi's oor ons dink - hulle voel vir ons niks. Dis nie hulle saak nie, ons is steeds Japies en ons sal dit bly. Ons is die onderdrukkers van alle tye - en nou kom ons terug by die politiek van die dag. Ons het nie meer die Smutse en Bothas en Krugers wat vir ons dink nie - wat vir ons besluite kan neem nie.

Gesels nou die dag met 'n doktersvriend - heelwat ouer as ek - hy se 'n waar ding. Ons voorouers het Afrikaans omskep in 'n taal waarin ons wetenskap kan beskryf, bedink en bedryf. Ons het as Afrikaners selfs beroemd geword daarvoor.

Wel, ons is vandag besig om dit vinnig om te keer. Tog interessant hoe 'n volk altyd eers tot op sy knieë moet gaan voor hy weer opstaan. Ek wonder of ons nou al in hurkende posisie is? Of dalk hurk party van ons terwyl die ander bo-op klim om die vrugte van welvaart gou te pluk voor dit vrot raak? Ek wonder of ons sal kan opstaan?

Herkou-groete

  • Riaan Mouton in Nieu-Seeland het hierdie bydrae geskryf vir die gespreksforum op hierdie webwerf. ( Riaan.Mouton@midcentral.co.nz)

    27 Februarie 2007