Landbou
Bied voordele om werkers op te lei
RIAAN MOUTON

Ek lees netnou gulsig aan die artikel wat handel oor mnr. Bert Groenhof se ervaringe in Afrika, Afrika tem Nederlander in die LBW van 16 Maart 2007.

In die artikel word melding gemaak van die volgende dinge:
1) Hoe hy ingeloop is (blankes?).
2) Diefstal en geweld in die land.
3) Opleiding voor besetting van herverdeelde grond kan plaasvind.

Sonder om my eie beuel te blaas wil ek graag die lesers terug verwys na Boerepraatjies op Landbouweekblad se webwerf waar ek gedeeltes onder die volgende hoofde geskryf het.

1) Skaapsteel is volksmoord vir die Afrikaner.
2) Kursusse vir grondeisers.
3) Die ouens gaan landbou soos 'n mielie eet.

My punt is dat ons moet besef dat dié Afrika waarna ons voorouers 350 jaar gelede verhuis het, geheel en al verwyderd is van dié een waarin ons vandag woon. Alhoewel die enigste twee groot veranderings wat egter plaasgevind het is dat 'n groot gros swartmense ook westerse opleiding ontvang het en dat die westerse mediese standaarde hul in so n mate bevoordeel het dat hulle floreer i.t.v. aanwas.

Op fundamenteel kulturele vlak het min veranderinge ingetree. Swartmense was ook nog altyd uitgeslape besigheidsmense aangesien ruilhandel deur die eeue onderling plaasgevind het - selfs tussen volke wat mekaar uitgemoor het.

Wat ook al die geval mag wees, nie veel insig en kennis is nodig om te besef dat Afrika opleiding nodig het en dat mense van alle etniese groepe in SA sal moet saamwerk om landsake te laat werk nie. Die vraag is of die regering sowel as al die inwoners van die land met integriteit kan streef na 'n werkbare oplossing? Die antwoord is ongelukkig - nee!

Die ANC regering het tydens sy"struggle" van propaganda gebruik gemaak wat die persepsie van sy ondersteuners sodanig beinvloed het dat hulle nie net ongeletterd gebly het nie maar vandag nog die"struggle" voer in plaas van om die huidige voordele wat gebied word te benut en hul eie lewens sowel as die van andere te verbeter.

Eweneens is daar steeds blankes wat vasklou aan die idee van selfbeskikking en die"goeie ou dae". En ja, daar lê baie waarheid in die drie woorde opgesluit maar net soos in die geval van die ANC het die vorige regering propaganda gebruik om blankes te laat dink dat alles goed en wel is in die land.

Die landbou glo ek is een gebied waarop die regering egter juis sy fokus moet rig om landsake te laat werk. Nie net is dit die plek waar miljoene swartmense werk nie maar dit is ook die plek waar duisende blankes elke dag nou saamwerk met, in die meeste gevalle, deels ongeletterde mense. Ek sou dus juis wou glo dat die regering pogings sou aanwend om blanke werkgewers voordele te bied indien hulle bydraes sou lewer tot die opvoeding van swartmense in die landelike gebiede. Die blanke Afrikaner se rol en invloed moet geensins onderskat word in SA nie. Indien die regering 30% van landbougrond teen 2014 wil teruggee aan swartmense het die regering geen keuse anders om vir hulp by die blanke boere aan te klop nie. Indien nie kan die resultaat katastrofies wees. Siende dat daar tans al groot graan tekorte in die land is kan SA nie bekostig om 30% van sy landbougrond ongedaan te laat staan nie. Hierdie is egter nie net n stelling nie maar n gegewe feit as daar gekyk word na die manier waarop grond wat teruggekoop is vir"hervestiging" bedryf word. Bewyse hiervoor is daar in Zimbabwe, N-TVL en Namibia.

Ongelukkig val voorstelle soos die op dowe ore. Ons weet almal die regering sal nie die"boere" betrek nie want dan gee hulle in effek"bestaansreg" aan die boere - hulle moet dus openlik erken dat die blankes se insette van uiterste belang vir die land is. En soos ons tans weer in Zim sien is die swart kultuur eerder ingestel op magsbehepheid as om n verskil aan sy eie mense se omstandighede te maak.

  • Geskryf deur Riaan Mouton op Landbouweekblad se gespreksforum. (Riaan.Mouton@midcentral.co.nz)

    22 Maart 2007