Die grootste waarde van 'n aktiewe betrokkenheid by 'n boerevereniging (BV) is dieselfde as betrokkenheid by Landbouweekblad se gespreksforum op - jy kan leer (self leer en ander weer by jou), jy kan op hoogte bly met baie inligting, jy kan leiers kies wat sake stel soos jy daarvan hou, jy word ingelig oor die dilemmas waarmee leiers te doen kry wanneer hulle jou en my verteenwoordig.
So byvoorbeeld is die behoud van die dieselrabat ook 'n sukses, maar as jou verwagting is dat dit betekenisvol moet verhoog sal jy selfs daarmee (die behoud daarvan) teleurgesteld wees. Weet jy hoeveel is dit werd as jy by 'n BV hoor wat jy nie moet doen nie en in die proses jou leiers verleentheid by 'n onderhandelingstafel spaar omdat jy nie 'n stupid ding gedoen het nie.
Ek is baie jare by die BV betrokke en die lekkerste is nie wat ek daar kry en die mense vir my daar doen nie, maar dit wat ek kan bydra om boerdery vir my, my mense en gemeenskap beter te maak.
Ons is nou met baanbrekerswerk oor risikobestuur besig en hoop dat ons in die volgende 2 jaar betekenisvol sal bydra om hierdie belangrike aspek van boerdery op 'n nuwe koers te plaas. Dit was 'n voorstel van my, dit is werk wat baie van my tyd neem, dit vra dat ek moet sukkel om my eie mense van die waarde daarvan te oortuig om nie eers van borge of ander belangrike rolspelers te praat nie. Maar soos iemand wat navorsing op iets nuuts doen, vra die navorser nie wat kry ek hieruit nie, maar hoe groot is Sy genade dat ek 'n bydrae kan probeer maak (al kry ek dit dalk nie eers op die ou end reg nie).
Kom ek daag die forumlede om betrokke te raak, enige plek van jou kerk tot jou beroep, en kyk hoeveel kanse gaan oop waar jy vir ander iets kan beding, kan doen, kan gee en aanvaar met dankbaarheid die satisfaksie dat jy die doelloos lewe nie (net bloed suig nie) maar bydra tot die omgewing waarin jy vir 'n doel geplaas is.
Nou wat maak ledegeld dan saak? Boerdery (deeltyds of voltyds) is 'n roeping met die bonus om nog inkomste ook te kry as jy goed luister na wat die natuur en jou besigheidsomgewing vir jou sê. Hoeveel lede van die forum het al die wens uitgespreek om te kan boer. As jy selfs nie eers daardie basiese voorreg in die landbou het nie, raak nogtans betrokke en geniet dit om te gesels of te luister by 'n BV vergadering na 'n onderwerp waarin jy so belangstel.
Miskien verstaan jy en ander forum lede hieruit waarom ek weier om te glo dat 'n enkele landbou leier (Koöperasies, landboubesighede, georganiseerde landbou leiers) ten doel het om mede produsente te beneuk. Eers as ek goed genoeg weet waarom so 'n leier 'n ander siening as ekself handhaaf verskil ek met hom of haar op so 'n wyse dat ek probeer bydra tot die kennis, debat of aksie wat as basis van die gesprek dien. As jou basiese benadering positief is, word selfs jou eie vrou vir jou mooi. Sommer 'n slagspreuk om dit af te sluit: 'n Glimlag maak plooi mooi.
Hoe klein moet jy boer dat dit wat Louis gesê het ('n ander skrywer op die forum) vir jou te veel is vir die vakbond wat namens jou moet optree? Ons het nog gedifferensieerde ledegeld ook - kleiner boere betaal minder ook. My mening is hoe kleiner jy is, hoe belangriker is dit dat iemand namens jou moet praat - die groot ouens het spierkrag om namens hulle self te onderhandel.
22 Maart 2007