Maarten Kruger skryf:
Eerstens: Ek glo dat al die landbou-organisasies hoop om in die toekoms meer swart lede te werf.
So, as hulle nou standpunte inneem wat swartmense sal laat voel dié organisasies is net vir blankes, sal hulle net hulle self in die voet skiet.
Tweedens: As dié organisasies werklik glo dat politiek nie by hulle hoort nie; wel die Regering het 'n politieke speelbal van die landbou gemaak en as dié organisasies dan voel hulle wil nie daarby betrokke raak nie, beteken hulle vir ons niks.
En my probleem is ja - politiek.
Die vorige minister het ongegronde uitlatings gemaak oor die landbou en as jy terugdink so 12 maande terug, het ek gewaarsku dat sy nie deur die organisasies toegelaat moet word om dit te doen nie. In Desember het die bom gebars toe ons nuwe minister dieselfde tipe goed sê. Die ironie is dat sy en die organisasies nou weer groot vriende is en sy het nou nog nie verskoning gevra nie.
En in die media is ons, die boere, as die kriminele uitgemaak. So wat is die gevolgtrekking: Geen verskoning, dus ons bly die kriminele.
Die president het met die ANC se 95ste verjaarsdag dieselfde uitlatings as sy gemaak, nadat die organisasies haar by hom rapporteer het. Niemand het 'n woord daaroor gerep nie.
Ná 14 jaar van niksdoen nie, is daar nog bitter min swart boere en wie word blameer: Die wit outjies.
Wat is die gevolg daarvan?
Ons moet nou gestraf word.
Ons gaan binnekort ons plase éérs aan die Regering moet verkoop.
Ons gaan grondbelasting moet betaal.
Ons gaan beperk word op die grote van ons plase.
Ek het nog altyd geglo dat die oorgrote meerderheid boere besef dat ons nie kan teruggaan nie en dus saamwerk. Nou lees ek gister 'n artikel in die Landbouweekblad (Staat dink landbou wil nie verander nie) dat boere volgens die Regering nie saamwerk nie.
Ek gesels met 'n swart vriend wat 'n B.Com.-graad het. Hy sês dat die swartmense die boere in die land sien as die mees geweldadigste en rassistiese groep. Hoeveel boere is al oor dié standpunt van die swartmense vermoor?
Kyk,soos dinge nou gaan, gaan ons in dieselfde rigting as Zim. Miskien nie so geweldadig nie, maar ons gaan of d.m.v. belasting en ander intimidasiemetodes van ons plase afgesit word. Dit is politiek.
En die organisasies moes lankal al vir die Regering gesê het: Kyk ons werk saam. Stop nou al die valse beskuldigings en propaganda teen die boere of julle is op julle eie. Anders werk ons nie meer saam nie en dinge gaan lelik raak in die land. Soos dinge nou gaan, gaan dit in elke geval later lelik raak.
Ek voel dat die meeste boere wil saamwerk. As hulle vir my die proses gee, sal ek seker maak dat 30% van die land vóór 2014 in swart besit is, sonder om iemand ongelukkig te maak. Die Regering wil dit egter nie hê nie want dit pas nie in by sy politieke agenda nie.
Die landbou is in een groot politieke gemors. En as die organisasies werklikwaar voel dat hulle wil nie daarby betrokke raak nie, wel dan beteken hulle vir niemand iets nie. Miskien op die korttermyn, maar op die langtermyn gaan hulle, met dié houding, ons almal toemaak.
Wie weet, miskien is ek verniet bang. Miskien is die prentjie nie so donker soos ek dit sien/ervaar nie. Maar dan moet hulle dit vir ons met feite staaf.
Ek wil net weer in vrede kan leef, sonder die vrees dat ek more kan wakker word en die Regering het my plaas gevat. Ek wil na my plaas toe gaan sonder dat ek myself soos 'n gevangene hoef toe te sluit.
Soos iemand gister se op die forum geskryf het: Boerdery is vir hom 'n stokpertjie, en as dinge nie reg uitwerk nie, verkoop hy. Wel my toekoms is in my plaas en boerdery. Dit is my pensioen. As ek dit verloor, sit ek op die straat.
23 Maart 2007