"Net so van uit 'n ander hoek gesien: Vir my is die herontdekking van boereverenigings (bv's), een van die groot lekkertes van my lewe," skryf 'n bekende in landboukringe, Claude Möller, 'n motiveringspreker en gewilde spreker op boeredae.
Claude skryf: Hierdie BV's is 'n sort kommando-van-die-hart-ding; 'n plek van saam-menswees; van lewens-beoefening . . .
Ek't gesien: Boere wat floreer op/by hul BV, floreer ook op hul plaas; in die lewe; tussen mense.
Elke keer as so 'n BV of studiegroep my nooi om daar te kom praat, sê ek sommer ja, nog voordat ek in my dagboek geloer het.
Want: Die inspuiting wat ek kwansuis moet gaan géé, ontvang ek self.
BV-boere is nie knorgatte of klagatte of kommin ouens nie. Deurgaans, ry ek verryk daar weg. Nuwe pelle, geesgenote, saam-in-die-trapskrum-van-die-lewe-vrinne.
Nou wonder ek so by myself: Sal die minister nou bly wees as sy hierdie beeld van landbou sou sien? Of sal sy dalk bang raak? Nee wat, niks om voor bang te wees nie, liewe Lulu.
Waar ek ook al by BV's kom, (en dis wyd, swaer. Laas week nog by Humansdorp én Kuruman!) is daar nie bangte in my nie. Hoe kan jy bang wees vir mense wat hulle harte en huise vir jou oopmaak? (Moet sê: Ook hulle se bar'e en bottels en braaie!)
Boere wat ek by my land se BV's ontmoet het is Bakgat, Blerrienice, Bekwame, Bewuste, Beskeie en Bebliksemspositiewe Boerevereniging-Boere.
Viva die BV's, Viva!
Naskrif: Lees ook die eerste skrywe in die verband: Die groot lekkerte van 'n BV, deur Louis Hauman.
26 Maart 2007