Van geslag tot geslag
GERDIE LANDMAN
'n Lid van die landou.com-gespreksforum, Riaan Mouton, het onlangs uit Nieu-Seeland aan sy mede-forumlede gevra wat hulle dink van boere se vermoë (of onvermoë) wanneer dit kom by die oordrag van kennis aan die nageslag.
Sy vraag was: Sal jou seun van 15 of 18-jarige ouderdom wat wel in die boerdery belangstel die boerdery suksesvol kan oorneem as iets vandag met jou gebeur? Met ander woorde, weet jou kinders genoeg van jou boerdery, en het ons die vermoë om met die jonger geslag te kommunikeer op 'n vlak wat die boerderybedryf vir hulle interessant en verstaanbaar maak?
Uit die Oos-Kaap het die bekende melkboer, Gerdie Landman laat weet:
Daar is goeie voorbeelde van goeie troon opvolging in die boerdery - tog is daar meer voorbeelde van suksesvolle boerderye se nageslag wat nie dieselfde peil as die vorige geslagte kon behaal nie...
Ek ken heelparty Karooboere wat hul vellies vir gumbootse verruil het, en hulle maak nou as melkboere 'n groter sukses as wat hul skaapboerderye was... sonder dat hulle by Pa kon leer?
Die suksesvolste boere is manne en vroue wat eers gaan studeer het en in die sakewêreld gaan blootstelling kry het. Daar is natuurlik uitsonderings op die reël, maar gaan ontleed die werklike suksevolle boerderye se onderbou en mens besef dat opleiding nooit onderskat kan word nie.
Die teendeel van wat jy met jou vraag bedoel is natuurlik ook soms waar. Dis meer male beter dat die seun nie by sy Pa leer hoe om die verouderde praktyke vir nog 'n geslag voort te sit nie?
Ons as ouers se taak is na my mening om eerstens van die troon opvolger 'n sakeman te maak - die praktiese toepassing van die produksie praktyke op die plaas kan makliker aangeleer word.
Geskryf deur Gerdie Landman, e-pos: gerdie@intekom.co.za
Lees ook Louis Hauman se antwoord op Riaan se vraag, en 'n opvolg-antwoord van Gerdie.
16 November 2007