Uit Nieu-Seeland vra Riaan Mouton, 'n lid van Landbou.com se gespreksforum, of vandag se boere die vermoë het om hul kennis oor onder meer boerdery aan hul kinders oor te dra? veral op só manier dat die boerderybedryf vir hulle interessant en verstaanbaar sal wees?
Louis Hauman, 'n leierboer van Kuruman in die Noord-Kaap beantwoord dié vraag so:
Die oordra van kennis is een faset, die kweek van die belangstelling en liefde is iets anders.
Dat dit egter doelbewus gedoen moet word, word onderstreep deur die voorraadvlakke van voedsel produkte reg oor die wêreld. My siening is dat dit belangriker is om by die volgende geslag 'nbenadering van voortgesette leer te kweek, die tegniek te vestig hoe om 'n nuwe produk of praktyk baas te raak of hoe om 'n nuwe besigheid aan te pak.
Ek bepleit dus eerder 'n benadering skoling as fyn prosesgeorïenteerde skoling. Juis oor die gebrek aan aanpassing in praktyke soos dit van geslag tot geslag oorgedra word.
Ek wil dus eerder graag die kind leer hoe leer jy as hoe doen jy.
Gerdie Landman van Cookhouse in die Oos-Kaap, skryf:
Jammer vir die verwysing na ons persoonlike gevalle studie hieronder - dis egter al waaroor ek eerstehandse kennis dra.
In ons huis het ons altyd 'n beleid van "rand vir rand" gehad toe die kinders nog op skool was. Dit het hulle ondersteun in wat hulle wou aanpak maar slegs as hulle die helfte van die projek se geld self bymekaar gemaak het.
So het ons seun Chris al in die laerskool begin om varkies in die distrik op te koop en af te rond vir verkoop aan die slagter op Kareedouw. Aanvanklik het die boerdery meer bygedra tot die voerkoste en slegs hier en daar 'n slagvark opgeëis as vergoeding. Later het die varke besigheid so gegroei en het die seun in sy hoërskool jare terwyl hy op Landbouskool was, sy eie personeel aangestel en vir sy eie voerkoste betaal.
Toe hy in Matriek was, skryf hy op aandrang van die familie vir die jaarlikse ABSA en Rapport se Entrepeneur van die jaar kompetisie vir Hoërskole in - en hy wen 'n oorsese reis na Frankryk en R5 000 kontant. Dit was groot motivering vir sy ondernemingsgees.
Eers het hy gaan studeer en later in Amerika op 'n melkplaas gaan werk. Hy was toe gedwing om op ouderdom 19 'n algehele uitverkoping deur Karoo Osche te hou en verkoop die dag 319 varke vir meer as R130 000 in sy sak.
Vandag boer hy op ouderdom 25 saam met ons in die familie besigheid en maak 'n besonderse goeie bydrae as hoof voer aankoper vir die Mooimelk Koeihotel. Hy het sy kapitaal en met 'n verdere lening nog koeie gekoop en besit reeds meer as 200 koeie wat hy aan die boerdery verhuur.
Die belangrikste punt is dat hy met die varke projek op skool die belangrike lewenslesse in boerdery en besigheid geleer het:
Hy leer elke dag in die boerdery maar die beloning moet daar wees - geld praat en terwyl daar wins betrokke is, kom die motivering vanself saam!
Ek hoor graag hoe ander manne die seuns van hierdie stadium af bestuur om eendag oor te neem. En wanneer staan 'n aktiewe Pa van 53 terug en gee die aflos stokkie oor? Hier kom die "Hoe en wanneer" vraag sterk na vore. Help asseblief raad gee waar julle kan.
16 November 2007