Landbou
Van geslag tot geslag (3)
LOUIS HAUMAN

Nóg 'n antwoord op die vraag van Riaan Mouton of boere die vermoë (of onvermoë) het om kennis oor hul boerdery suksesvol aan die nageslag oor te dra.

Louis Hauman, 'n voorste boer van Kuruman, se bydrae:

Ek het die voorreg gehad om 'n hele klompie mense te konsulteer oor die proses en kon deel uit my eie ondervinding hieroor (my proses van betrokke raak by my Pa se boerdery).

Laat my heel eerste sê dat 'n goeie verhouding met wedersydse respek, alles baie makliker maak. In hierdie antwoord gaan ek konsentreer op die fase waarna jy verwys en nie te veel stilstaan by die baie gepaste wyse wat jy die voorbereiding tot hier gedoen het nie. Ek gaan dit ook uit my kop sit en tik en as dit effe deurmekaar voorkom, aanvaar dit so.

Die oorname is egter 'n proses wat bestuur moet word met baie spesifieke doelwitte en deurlopende evaluering. My aanbeveling is dat die meeste van die administratiewe take vir die proses aan die seun of dogter opgedra word. Hy of sy sal dus verantwoordelik wees vir die evaluering van die proses, vir die opstel van lyste en die kontroleer daarvan, en vir die evaluering van prestasie binne die proses. Maar verantwoordelikheid vir die proses moet gedeel word en die pa moet net so graag wil hê dit moet 'n sukses wees (so optree ook en nie net so sê nie).

Vir die pa wil ek sommer by die begin van die proses sê daar gaan frustrasie wees met onkunde, met poging s om dinge anders te doen en met oor entoesiasme.

  • Laat die seun of dogter dadelik die rekordhouding opneem, sy eie stelsel wat parallel loop met die van die boerdery. Die evaluering hiervan is eenvoudig hoeveel vrae hy in die boerdery, dadelik kan beantwoord en die pa kan die vrae al meer kompleks maak. Aanvanklik hoeveel voer gebruik ons per dag, later wat kos dit en later, hoe vergelyk dit met die inkomste. En stel dit tog duidelik wanneer oop en toegesluit word. Dat die kind weet hoe laat moet hy in die oggend daar moet wees - dit is deel van die dissipline.
  • Laat die seun of dogter 'n lys maak van alle aktiwiteite in die boerdery waaraan die pa en bestuurder (as daar meer as een persoon is wat die bestuursfunksie uitvoer), deelneem.
  • Dan gaan sit julle en skryf dit in volgorde wat dit deur die seun of dogter oorgeneem kan word en skryf 'n doeldatum langs elkeen. Hier is die mate van onderhandeling wat daarmee gepaard gaan en hoe krities dit vir sukses van die onderneming is, deurslaggewend. Onderhandelings vaardighede met bv. Die bank kom eers later. Hierdie is baie belangrik. Dit gee vir al die partye 'nperspektief oor die tyd wat dit gaan neem vir die proses en gee vir die kind 'n doelwit.
  • Die seun of dogter moet dan oor elke taak 'n evaluering skryf wat norme stel oor hoe julle sal weet dat hy of sy dit reg doen en die pa kan laat los. Hierdie is dikwels 'n baie bevredigende aksie omdat mens dan jou eie effektiwiteit begin meet en so effe in die spieël kyk.
  • Dan moet daar take (van die lys af) aan die seun gegee word met die normale aksies van opleiding: jy doen en hy kyk, hy doen en jy kyk en dan doen hy en jy meet, laastens doen hy en meet homself. Soos hy dit oorneem en ten volle verantwoordelikheid aanvaar, word dit op die lys afgemerk.
  • Die sesde stap is sodra die kind ingewikkelde genoeg vrae kan beantwoord, hou een keer 'n kwartaal of maand 'n "direksie" vergadering waar evaluering van die boerdery (nie die kind nie) formeel gedoen word en die kind kan geleidelik meer van die vrae antwoord. Die lekker hiervan is as die gewoonte aangeleer is, kan dit aanhou as die pa uittree en kan redelike insette gemaak word sonder om oor die kind se skouer te loer. Die pa se betrokkenheid kan ook so geleidelik afgeskaal word - self 'n sielkundige proses wat reg bestuur moet word.

    Ek sluit af met 'n waarskuwing om nie die kind in 'n vertakking te vestig en daar te laat en een dag as die pa nie meer wil of kan nie, moet hy alles verder kom oorneem nie. Infasering moet eindig met die betrokkenheid by die hele boerdery en al sy bestuursfunksies.

  • Geskryf deur Louis Hauman, e-pos: louis@soetvlakte.co.za

    18 November 2007