Landbou
Vratte aan skape pla


Vratte aan die bekke van sommige van sy skape het 'n lid van die gespreksforum die pen laat opneem om raad te vra.

Piet Viljoen pietviljoen@mweb.co.za skryf:
Die vratte-ding is moeilik om te dokter omdat die goete in die epidermis groei en dus nie met pille, antibiotika of inspuiting reggedokter kan word nie want daar is nie bloedtoevoer nie. Ek praat toe met my veearts en alhoewel hy my toe vertel van die probleem stel hy voor dat ek 'n vrat afhaal, fynmaak, met steriele water meng en dan onder die vel inspuit.

Sodoende kry die liggaam dan die vreemde goggas in en kan dan teenliggaampies maak. Ek het by die apteek 'n scalpel gekoop en die vrat so fyn as moontlik gesny en met 2ml water gemeng. Dit het ek teen die nek onder die vel ingespuit.

Ek het 'n baie jong Jerseyversie met vreeslike lelike vratte aan haar spene. Sy was nog nooit voorheen gemelk nie (dis nou haar eerste kalf) en ek moet sê, ek was verbaas. Na omtrent 3-4 weke lyk die vratte droog, bloei nie meer nie, begin sommer afval. Die plekkies op die spene waar dit gegroei het word gou-gou gesond en nou, na 3 maande, nie een vrat meer nie. Nou wonder ek, sal dit vir alle vratte werk? Is daar nog iemand wat soortgelyke ondervindings het?

Dawie skryf:
Vat 'n sement baksteen en skuur die vratte af. Dit werk. Jy vryf die vratte af en jy imuniseer die dier sommer deurdat jy dit die wond invryf. Lyk bietjie aardig, maar dit werk.

Andre Geldenhuys skryf:
Ek het twee jaar gelede met dieselfde probleem gesukkel . . . amper al my lammers was besmet en ek was raadop. Die raad ten opsigte van die besering van die vrat ten einde natuurlike inenting daarteen te bewerkstellig het ek probeer maar dit het nie die probleem opgelos nie.

Ek het ook 'n probleem met blou uier by my ooie ondervind. Nadat ek die blou uier entstof aan die ooie gegee het, asook 'n pasteurella entstof net daarna, het die probleem in totaal verdwyn. My kudde is na die episode nou reeds vir twee lamseisoene heeltemaal skoon van die siekte. Ek het geen verklaring oor die verband (indien daar hoegenaamd 'n verband is?) tussen die blou uie/pasteurella-entstowwe en die verdwyning van die vratte nie, maar dit is die enigste "buitengewone" ding wat ek gedoen het. Miskien het van die aanlyn-navorsers die antwoord?

Georg skryf:
Ons het gevind dat Vit. A inspuiting ook baie help.

Leon Kruger skryf:
Na aanleiding van jou skrywe insake die vratte by jou skape en die blou uier en pasteurella entstof. Ek dink dit was bloot toevallig dat die vratte opgeklaar het nadat jy blou uier en pasteurella (word nou Mannheimia genoem) ge-ent het. Die vratte word veroorsaak deur 'n virus en die blou uier en pasteurella entstowwe is bakterieë entstowwe. Die vratte kan van self genees, veral indien hulle nie aan sonlig blootgestel is nie. 'n Beproefde en effektiewe behandeling teen die vratte is jodium tinktuur gemeng met aptekers parrafien, wat dan twee keer per dag aan die letsels geverf word met 'n kwassie. Die vratte kan mense aansteek wat baie pynlike letsels op die hande veroorsaak.

Frik Jordaan skryf:
Die vrat probleem raak erger. Laat weet asb die mengsel of resep. Hoe moet ek die jodium tinktuur en aptekers parrafien meng?

Leon Kruger antwoord:
Ek meng een derde jodium tinktuur met twee derdes aptekers parrafien. (100ml + 200ml). Die twee lyk nie of dit wil meng nie, maar skud dit net deeglik voor gebruik. Verf dit oor die aangetaste dele twee keer per dag. Dit is baie belangrik om die aangetaste diere te isoleer aangesien hulle al die ander sal aansteek. Die voer en waterbakke is ook areas waar die infeksie opgedoen word en deeglike ontsmetting daarvan sal verdere infeksies voorkom. Hou ook die aangetaste diere uit sonlig aangesien dit die probleem kan vererger. Ondersoek die hele kudde. Menigmaal lyk die begin van die infeksie soos 'n krummeltjie kos wat vassit in die hoek van die bek. Soek dus vir enige klein rofies wat teen die volgende dag twee keer groter sal lyk.

Carel Nel skryf:
Die vinnigste manier om van die vratte ontslae te raak is deur die dier met sy eie vrat in te ent. Dit is so maklik. Sny een vrat teen die vel af. Sny dan twee of drie kerfies op 'n gesonde deel van die vel net deur die oppervlak. Smeer nou die "bloedkant" deel van die vrat goed op die kerfies in. Binne 'n week sal die vratte verdwyn. Een voudige boereraad wat werk.

26 Januarie 2008