Landbou
'Gee nagkrag goedkoper'


Op die gespreksforum gons dit ook oor Eskom en alternatiewe kragplanne. Hier is 'n gesprek tussen twee lesers oor dié onderwerp.

Francois Holloway skryf:
Ek het nou weer al die briewe gelees oor generators, Eskom en solar krag opwekking.

Om na alternatiewe energie te kyk moet jy ook jou hele huishouding aanpas, daar bestaan nie 'n "bekostigbare" son energie sisteem wat jy net by jou bestaande huishouding kan inprop en dit efektief laat werk nie.

Die eerste toestelle wat vervang moet word is die elektriese water verwarmers, en vervang word met solar verhitting sisteem, SA het meer as genoeg sonskyn om 300 liter water warm te maak elke dag. Stoof moet vervang word met gas stoof, en so ook die elektriese ketel.

Die yskaste wat ons by Game en P'nP koop is oneffektief en mors met krag, dit moet vervang word met "duur" efektiewe tipe yskaste. Ek het 'n maatskapy in SA ontdek wat parafien yskas en frieskaste vervaardig en uitvoer, ek het een van elk aangeskaf en ek moet se hul is goedkoper op brandstof as gas yskaste en werk baie goed.

Stryk ysters moet eerder as "door stops" gebruik word, safari-pakke hoef nie gestryk te word nie.

Ek noem al die, om te beklemtoon dat 'n mens moet aanpas by veranderinge; toerusting en masjinerie kan nie by ons aan pas nie?

Die eerste keer toe ek na solar gaan kyk het was dit ook + R120K, na ek al die groot krag vermorsing toerusting verwyder en vervang het is die totaal R50k vir 'n gemaklike solar sisteem(dit sluit my vrou se haardroer ook in vir gebruik). My oogmerk is om teen die einde 2008 alles in plek te hê.

Ek praat nou van 'n sisteem wat by my omstandighede inpas, 'n hoender boer of melk boer het baie meer krag nodig, en sal eerder van ESKOM gebruik wil maak.

Ons sal maar almal moet eksperimenteer en sien wat werk vir ons.

Mias Adams skryf:
Francois, ek het nie kon droom dat ek ooit hierdie dag sou beleef nie.

Parafien yskas en vrieskas??? Dis 40 jaar terug, dit stink, rook jou huis dat dit lyk soos n pondok, ag nee man, as ons soos Zim lyk soos Pik Botha die naweek gesê het, sal ek saamstem.

Maar terwyl jy Eskom het, bring jy eers jou kragverbruik af tot so laag as moontlik. Ek en die ouvrou kook omtrent elke dag, bad in kookwarm water (van n sonpaneel) die strykyster, wasmasjien, mikrogolf, haardroër, TV en Forum!!! se rekenaar, en alles wat oop en toe maak en tog gebruik ons gemiddeld 6 (ses) eenhede elektrisiteit van die Kaapse Metro.

Die groot verskil het gekom toe ek 'n ARDO ys/vrieskas met "energy rating" van A+ aangeskaf het. Dit kos mooi pas en beplan, maar het jy regtig nodig om alle groente vir 'n week in die yskas te hou, hoekom vleis koop vir twee maande? Ons bly stapafstand van die kafee en winkels en nog verder stap is goed vir die ou bene.

Die groot voordeel van hierdie tipe kas is dat dit slegs snags kan krag kry...as almal slaap is krag volop ... sonder om enigsins te ontdooi. Die isolasie is geweldig goed.

Terloops die 310 liter kombinasie kas het my R2,350.00 gekos, ek het gelukkig die laaste een van die "special" gevat.

Die heel grootste geheim is om elke oggend op dieselfde tyd jou meter te lees en dit op te skryf. Mens kan baie gou agterkom waar die krag heen gaan. Doen dit as 'n gewoonte oor 'n lang tyd.

Ek hoop Eskom en die Staat aanvaar my voorstel van jare gelede om 'n tydsone in te stel sodat die Kaap 'n uur of meer later as Gauteng opstaan en gaan slaap.

En dan natuurlik die punt waarvoor ek al jare lank baklei: gee nagkrag baie goedkoper of sommer verniet. So 'n tyd gelede is die prys wat Munisipaliteite vir Eskom krag betaal, gepubliseer: Snags was die prys 4 sent en bedags 25 sent per eenheid. Alles is verkoop destyds vir 34 sent (nou is dit 49 sent).

As mens die groot prentjie sien, sal jy besef dat die probleem van Eskom eintlik in piektyd kom. En hoe jy ook al redeneer, piektyd word veroorsaak deur woonhuise. Hoe anders kom die piektyd dan van 7:00 tot 10:00 en van 17:00 tot 21:00?

Ek het so bietjie deur my ou pos gekrap op soek na 'n ou brief, toe ek afkom op 'n brief van my in LBW 19 Augustus 1988. Die redaksie kan dit weer publiseer en so ook die antwoord van Eskom.... nogal insiggewend.

Ek haal aan: "Eskom.... kan my maar beledig en verkleineer, maar my bedryf - alternatiewe energie - sal niemand ooit kan onderdruk nie. Dis 'n universele bedryf en nie geld en mag kan dit onderdruk nie....Die algehele vernietiging van die idee van alternatiewe energie is 'n groot jammerte. Deur die vernietiging van die mark het Eskom die oordrag van kennis met baie jare vertraag." Dat ek 20 jaar gelede reg as, word nou by die dag duideliker.

Die laaste deel van die brief lui: "Lasterlike dele geskrap....Red."

As jy alles uithaal soos in jou brief, kan jy heel maklik deurkom met 'n sonstelsel van R15,000.00 lyk dit my. Maak 'n volledige lys van wat jy wil aandryf.

6 Februarie 2008