So week of so terug besluit ek dat ek, dat ek 'n vergadering gaan bywoon waar ons munisipatiteit se belasting op die plase bespreek sou word.
Daar vertel 'n slimgeleerde van Vrystaat Landbou (VL) my dat dit goed gaan met die boere in die land en as ek nie so dink nie moet ek my plasie maar verkoop . . .
Nou lees ek dat die Departement van Landbou verkondig dat dit goed gaan met die landbou - wel, nou weet ek waar ons slim vriend van VL sy inligting gekry het.
Lees artikel: Landbou se geldsake verbeter.
Daar is 'n gesegde wat lei dat mens nie 'n goeie storie met feite moet opvoeter nie. Maar kom ons kyk na die feite:
Die prys van landbougrond het in die laaste 18 maande amper verdubbel.
As ek nou 'n man was wat grond gekoop het vir 'n belegging, ja dan gaan dit goed met my. As ek egter 'n boer is wat die grond vir boerdery wil
gebruik beteken dit vir my niks. Inteendeel, dit kniehalter my groei as boer.
Al mense wat daaroor opgewonde raak is my kinders wat eendag die grondjie gaan erf en verkoop - en nou wil ek ook nie dood nie.
Met die verkope van my kalwers in 2006 het ek die volgende pryse gekry:
R11,70 (18-05-2006) en R11,00 (20-03-2006)
Maw. 'n gemiddelde prys van R11,35
Tans is die gemiddelde prys van speenkalwers R12.65 - en hy daal.
Dit verteenwoordig 'n styging van so 10,2% in 22 maande.
My voer het my die volgende gekos:
P12 met sout - R 147,47 (21-02-2007)
P12 kos tans R175,00 met, soos ek verstaan, 'n hewige prysaanpassing wat in Maart kom.
Maw die prys het met 15,7% in 12 maande gestyg.
Winterlek 450:
R73,66 (25-04-2006)
Tans kos dieselfde winterlek my R108,00
M.a.w. 'n styging van 31% in 22 maande.
Om op te som:
Inkomste styg met gemiggeld 5,1% in 12 maande.
Uitgawes styg met:
P12 styg met 15,7% in 12 maande.
Winterlek 450 styg met 15,5% in 12 maande.
Dit lyk vir my na 'n verlies.
Die styging in die prys van medisyne en kunsmis vir die bemesting van my oulandsgras en die styging in die diesel vir die sny en baal het ek nou nie eens hier in berekening gebring nie. Dan praat ons nie eens van die styging in draad en arbeidskoste nie.
Verder verstaan ek dat daar gepraat word van insetkoste vir mielies van oor die R5 000 volgende jaar. Boere teken tans vir so tussen die R1 400 en R1 500 vir 'n ton. Maak maar self die somme maar dit wil my voorkom asof die R 5000 vir meeste boere, wat nie spilpunte het nie, veiliger in die bank gaan wees.
So kan ons slimgeleerdes dan nou vir my verduidelik hoe dit nou goed gaan as jou insetkoste meer styg as jou inkomste?
Ek en my mede-veeboere kan seker maar verkoop soos my slimgeleerde vriend gese het. Ons land se ekonomie sal dan blom met al die vleis wat ons moet invoer.
Ek glo nie eens dat die groot boere vir lank sal kan aangaan as hulle 'n verlies maak nie. Hoe gaan ons opkomende boere dit maak?
Om af te sluit.
Mens moet nie negatief raak nie maar mens moet ook nou nie vir jouself staan en lieg nie.
1 Maart 2008