My vorige gedagtes is onder die opskrif Gaan dit goed met die landbou? gepubliseer. Dit gaan oor beesboere se verknorsing.
Maar, voordat die skaapboere uitgelaat voel en ek op my volgende besoek aan 'n landbou-unie vergadering deur die manne aangevat word: Kom ons aanvaar dat die voerpryse van skape met dieselfde persentasie as dié van beeste opgegaan het - skape eet ook mos P12.
Verlede jaar die tyd het ek pryse van tussen R29 en R30 vir my voerkraallammers gekry - en 'n mooi verlies gemaak.
Ek sien die prys is maar steeds hier by die R30 rond - dit terwyl voerkoste met 15% gestyg het.
Lyk vir my asof iemand hier agteruit boer?
Die prys wat die supermark egter kry het van (as ek nou reg onthou) R65 tot die huidige prys van hier by 'n R100 geklim. 'n Verhoging van oor die 50%.
Daar word seker nou van elke skaapboer verwag om self die manne aan te vat om 'n regverdige prys te beding?
Hoeveel die prys van beesvleis mee opgegaan het, weet ek nie. Al wat ek weet is dat my vrou sê dat sy nie meer vleis kan bekostig met die toelaag wat ek haar gee nie. So, ek sal seker maar my suinigheid moet laat staan en 'n besie en skaap of twee vir haar slag.
Hier in my distrik is daar boere wat verlede jaar nog goed gevaar het in die Boer van die Jaar-kompetisie.
Hulle verkoop eersdaags al hulle skape uit want, soos ek verstaan, het die arbeidskoste en misdaad vir hulle nou te veel geword.
In die afgelope agt jaar wat ek hulle ken, is daar al baie skape van hulle gesteel (sommer so 40 op 'n slag) ek kan egter nie onthou of daar al enige arrestasies gemaak is nie.
En hulle is nie die enigste boere wat die afgelope paar maande hulle skaapboerdery weens misdaad moes opgee nie.
Maar soos ek met my vorige gedagte gese het: 'n Mens moet nie vir jouself staan en lieg nie.
So, as ons nou besef en aanvaar dat ons nie meer in 'n Eerstewêreld-ekonomie leef nie - wel dan gaan dit seker goed met die landbou.
4 Maart 2008