Landbou
'Skaam' bulle dek snags


'n Mens kry bulle wat net snags dek, sogenaamde "skaam"-bulle. Meeste koeie word in elk geval snags gedek, skryf 'n lid van die gespreksforum oor dié onderwerp.

LLMM skryf:
Nou die dag (Oktober 2007) "brag" ek by Mias oor my "top stoet-Simmentaler bul" wat ek gekoop het. Self Mias was bly dat ek nie 'n sommer-so bul gekoop het.

Elk geval, ek is nie so seker of hierdie bul doen wat hy veronderstel is om te doen. Hy stel beslis belang in die koeie, maar ek het nog nie gesien dat hy oorgaan na aksie toe nie - nee, ek het darem EENKEER. Ek is 'n naweek-boer, so sien hom dus net naweke, maar sover ek verstaan sien die werkers hom ook nie werk nie! Ek skaam my soms morsdood want party van die KOEIE ry HOM!

Ek aanvaar dat die drang om te teel sekerlik 'n baie sterk drang is, so hy SAL (is veronderstel) om te werk. Ek aanvaar ook dat hy nou bietjie swaarder kry as waaraan hy gewoond is - daar's nie kragvoer, ens. - dis net n fosfaatlek en baie weiding. En ek aanvaar ook dat hy nog moet aanpas, maar ek raak nou bietjie bekommerd!

Hy is al vanaf 1 Nov 2007 by die koeie en tot nou toe sus ek maar my gemoed met bg. aannames.

Sou julle sê iets is fout? Pas hy maar nog aan? Is daar iets wat ek kan doen om hom bietjie aan te help / woema te gee? Ek gee natuurlik die normale - Vit-A, Multimin, ontwurming, ens.

My buurman, 'n baie uitgesproke ou man wat my al 'n paar "truuks" geleer het, se vir my ek moet nie bekommerd wees - "baie bulle, veral Brahman, werk SLEGS in die nag" (ek noem dit natuurlik tong in die kies - ek glo nie daar is veel waarheid hieraan?). Hy se ook hy weet van bulle wat vir 2 jaar lank NIKS gedoen het en dan eers begin regkom het - die aanpassingsperiode.

Ek maak nou grappies hieroor, maar dis eintlik glad nie snaaks nie. Vir my, as klein/naweekboer is dit GROOT skade as my bulle nie werk nie - en sommer bleddie hard ook!

Enige raad asb.

Dawid Reyneke skryf:
Ek dink jou buurman is reg. Bulle werk graag snags - koeler - hul wei ook meer snags. Ek dink jy bekommer verniet.
As jy twyfel ja die koeie so dan en wan bedags in kraal saam met bul - veral as jy uitgestrekte wereld het. As jy gemoedsrus wil hê - toets/scan jou koeie.

Georg skryf:
Aangesien koeie elke maand ovuleer, moet jy net dophou of daar koeie is wat gedek moes gewees het, maar weer en weer op hitte kom.
Jy kry bulle wat net snags dek, sogenaamde "skaam"-bulle. Meeste koeie word snags gedek, wil ek beweer.
Koeie wat bulle ry is gewoonlik kort voor staande hitte, maar hulle staan nog nie.

André Geldenhuys skryf:
Die dag toe ek my nuwe Santa Gertrudis-bul tussen die koeie gaan aflaai het, het die koeie hom so gekarnuffel dat hy baie vinnig die bosse ingevlug het. Soveel so dat ek hom die volgende dag met die motorfiets moes gaan soek het.
Ek kom baie by my bees, wat so mak is dat ek tussen hulle kan loop en aan hulle vat, maar het in die 18 maande wat ek hom het, hom nog nie een keer 'n koei sien spring nie. Wat ek wel weet is dat hy sy job baie goed doen want die pragtige kalwers wat ek aankry word beslis nie met windbestuiwing geskep nie! Miskien het jou bul nes myne ook maar net "stage-fright"?

Gerdie Landman skryf:
Ek het vir baie jare baie bulle geteel en aan boere op hul plase gaan aflewer. Daar heers ongelukkig baie onkunde oor die gebruik van bulle vir natuurlike dekking. In ons geval was dit nou wel Holstein bulle wat in melkerye gebruik was - maar ek glo die beginsels behoort baie dieselfde te wees.

Soos jy tereg sê, dit is baie belangrik dat die bul werk en dat jy kontroleer of hy werk - ongelukkig is die gouste wat jy dit sal weet, 6 weke nadat hy die eerste koei gedek het... en dan moet jy darem so 2 weke se dekkings laat opgaar voordat jy dus na 8 weke die Veearts kan roep om dragtigheids toetse te laat doen.

Redes waarom bulle soms nie werk nie en jy groot skade kan lei.
1. Enige koors - nuwe omgewing - bosluise... gebruik 'n koorspen en bepaal die bul se koors voordat jy met die Veearts praat.
2. Vrot pootjie - enige pyn - olikheid, kyk of die oë se vliese pienk is.
3. Rangorde - ouer bul in trop - jong bul is bang.
4. Onbeholpenheid - dekbehendigheid kom met tyd - hy leer ook maar. . .
5. Swak voeding - dis amper die belangrikste - moenie sy kragvoer summier wegvat as hy daaraan gewoond was nie. In melkerye moet die bulle dieselfde hoeveelheid meel kry as jou hoogste produserende groep koeie.
6. Veld bulle vaar beter as stal bulle - hulle is gewoonlik fikser - dis beter as hulle in 'n trop loop en met mekaar stoei.
7. Ouderdom - sommige veilingbulle is so goed uitgegroei dat jy hulle geslagsrypheid oorskat - gee 3 tot 6 maande tyd vir aanpassing.
8. Rus - haal gereeld die bul uit die trop koeie en voer hom eenkant - met 'n aflosbul in die trop - dis die ideaal, anders raak hy tam en verloor belangstelling in die koeie.
9. Skaamheid - ja, daar is bulle en sommige rasse wat meer in die aand werk as in die dag.
10. Toets bulle jaarliks vir geslagsiektes - laat die Veearts skede smere neem... dis geld goed gespandeer!

Hoop nie die lys laat jou nog meer bekommerd nie.

Ten slotte, net twee opmerkings:
Frederick Heyns skryf:
Mens kry sulke pienk pille by die Koop wat geweldig sal help. Ek het nou die naam vergeet maar vra daarvoor. Dring aan op die met die sterk peperment smaak.

Dassie Mulder skryf:
Daar is nou net een ding wat my pla. Hoe weet julle van die sterk peppermentsmaak?

  • Hierdie skrywes is die afgelope dae na die gesprekforum gestuur.

    6 Maart 2008