Landbou
'Gee SAPD bietjie erkenning'


Die aankoop van skape het 'n slegte nadraai gehad toe die koper 'n boete van R500 moes betaal omdat die diere vervoer is maar nie getatoeëer was nie. Dié koper het raad op die gespeksforum gesoek.

Gawie Swanepoel skryf:
Waar kry mens 'n tatoeëer-tang en by wie registreer jy jou merk? Het so pas 'n paar Meatmasters daar in die Vrystaat gaan koop en terug Kaap toe natuurlik in Beaufort-Wes spring twee manne in die pad en wil weet waar het ek die skape gekoop, waar is ek oppad, heen en waar is die tatoeermerke op die diere? Net die helfte het merke gehad en nouja, 'n boete van R500 en ek het twee weke tyd om die diere te merk volgens hulle, die veediefstal-eenheid.

Dawid Reyneke skryf:
Hul fokus op die sagte teikeins - hul weet jy vervoer die goed as jou wettige eiendom - anders moes hul jou toesluit want ná twee weke is jy mos dinges toe as jy dit gesteel het.
Dis die probleem met die klomp wette. Hul is tegnies reg - of het die reg om jou te beboet. Maar hul spits hul nou op sulke dinge toe - dis makliker as om regte veediewe te vang - en hul bly te besig daarmee vir ander "regte" werk.

Boervrou skryf:
Kyk bietjie uit 'n ander oogpunt hierna.

Goed, Gawie het nou sy boete gekry wat wettiglik geskied het. Nou, oor 2 weke word SY skape gesteel en hy versoek die polisie om SY skape op te spoor, maar jammer, hule is nie gemerk nie, nee man, ek sal hulle mos kan uitken, hulle is wit skape met swart koppe (Voorbeeld!).

NOU hoe moet die polisie ooit hulle kan opspoor en al spoor hulle hulle dan wel op, hoe op aarde moet hulle bewys dat daardie skape nie aan klaer A of klaer B (altwee het ook gesteelde wit met swart koppe skape) behoort nie maar wel aan Gawie? Gaan Gawie nie dan weer kla dat hulle nie sy skape kan opspoor nie en dat dit net tydmors is om hulle nog in te roep nie?

Deur die een kant van die wet selektief toe te pas sal hulle dan net veroorsaak dat die ander kant van die saak ook nooit suksesvol afgehandel kan word nie. Hoeveel van julle se diere is almal gemerk, hoeveel het al onder veediefstal gebuk gegaan? Al jou diere teruggekry of was daar ook 'n paar wat nie uitgeken kon word nie? As hy nie uitgeken kan word nie gaan jy hom nie weer kry nie, al is hy opgespoor!

Ons kla baie maklik maar ons moet net die saak bietjie uit 'n ander oogpunt ook bekyk.

Ons almal weet dat daar tussen al die boere in Suid-Afrika 'n paar regte latswaaiers is, wit en swart, maar net so is daar ook fantasiese goeie, menslike boere wat uit hul pad gaan vir hul arbeiders en die gemeenskap in geheel.

Hoe voel julle as almal die boere slegmaak? Vat dit bietjie aan jou, word jy ook 'n bietjie "gatvol"? Ek sou so dink, want ek voel so!

Nou ja, net so is daar tussen die polisie slegte en goeie manne en vroue. Ek weet want ek was een en ek is nog steeds getroud met een! Ek praat van swart en wit polisiemanne! Ek belowe jou, ek kan nou vir jou polisiebeamptes wys wat hulself ten gronde werk vir hulle gemeenskap, week ná week ná week: Só erg dat my man hom later moet beveel om vir 'n week nie te kom werk nie want hy kry nie slaap in nie! (terloops, dit is 'n swart kaptein).

Daar is nie net 1 nie, daar is baie van hulle. Die probleem is net, hierdie "goeies" word gedismotiveer deur al die "slegte polisiepraatjies" wat ons so vrylik rondgooi, maar woorde van dank vir die goeie werk wat hulle doen kry hulle bitter min!

Almal weet dinge in die polisie loop nie soos dit moet nie en soos ons dit graag sou wou gehad het nie. Ja, as 'n polisieman nonsens aanjaag gee hom gas, rapporteer en rapporteer weer 'n keer, maar moet asseblief nie almal oor dieselfde kam skeer nie. Gee bietjie eer waar dit toekom, dit help net om hulle moraal te lig.

Weet julle hoeveel beteken 'n skrywe van dank vanaf die publiek vir 'n polisieman vorentoe? Almal weet hoe sukkel hierdie mense met bevordering. Nou ja, daardie briefie op sy persoonlike lêer kan net beteken dat hy en nie die ander slegte ou die bevordering kry nie. So 'n rukkie terug het het een van die forumlede gerapporteer oor die goeie werk wat die polisie vir hom gedoen het met 'n veediefstalsaak. Weet julle wat sou dit vir daardie polisiebeampte beteken het om dit op skrif in sy lêer te gehad het?

As jy lekker Kersfees vier saam met jou familie of jou kind se verjaarsdagpartytjie bywoon, of enige ander oomblik wat spesiaal is met jou familie deel, dink aan daardie polisieman wat werk om jou te beskerm, en ja, jou vrou en kind ook! As hy sy lewe op die spel moet plaas om jou gesin of eiendom te beskerm, onthou, hy het ook 'n gesin! Om jou gesin te red kan dit veroorsaak dat sy gesin hom nooit weer kan sien nie, maar daarmee het hy al vrede gemaak. Ek leef elke oomblik met daardie wete saam. Terloops, ek en my kinders het ses jaar laas die voorreg gehad om Kersfees saam met my man te kan vier.

Nou ja, jammer vir die galbraak maar partykeer raak mens bietjie moeg!

  • Dié skrywes is op die gespreksforum gepubliseer.

    11 Maart 2008