Die swamsiekte botritisvrot wat menige tamatieboer al hoofbrekens besorg het, kan doeltreffend bestry word deur vroegtydig chemiese swamdoders toe te dien.
Botritisvrot, oftewel grys vrot, veroorsaak siektes op die blomme, stamme, blare en vrugte van baie groentesoorte, ornamentele plante en vrugtebome. By bederfbare plantprodukte, onder meer by tamaties, is dit 'n belangrike oorsaak van verrotting ná die oes.
Die swam Botrytis cinerea veroorsaak botritisvrot wat as 'n parasiet of 'n saprofiet (wat op dooie plantmateriaal oorleef) op 'n groot verskeidenheid gasheerplante kan voorkom.
Die belangrikste spoorverspreider is wind, maar besmette plantreste speel ook 'n vername rol in dié verband. Beskadigde plantweefsel is gewoonlik die punt waar die swam homself op die tamatieplant vestig en sy saprofitiese leefwyse vir lang tydperke kan volhou.
By tamatiesaailinge veroorsaak botritisvrot letsels net bo of onder die grondoppervlakte. Letsels kan later op die stamme ontwikkel en in uiterste toestande kan die tamatieplant vrek. Blaarsteeltjies en blare kan ook besmet word en dit vind gewoonlik plaas deur middel van meganiese skade. Die tamatie se bloeiwyse en die afsnoerwonde van blomblaartjies is belangrike punte van besmetting.
Spoorproduksie word deur hoë lugvogtigheid bevorder en spore wat op die tamatieplante beland, ontkiem wanneer vry water, soos reën, dou of besproeiing, op die plantoppervak teenwoordig is. Die optimale temperature vir infeksie is 18 °C tot 24 °C en infeksie vind binne 5 ure ná kontak plaas. Daarenteen onderduk temperature bokant 28 °C spoorproduksie en swamgroei.
Produksiepraktyke wat botritisvrot teenwerk, moet sover moontlik gevolg word. Gedurende tydperke wat gunstig is vir die ontwikkeling van botritisvrot behoort kultivars geplant te word wat minder vatbaar is daarvoor. Die siekte kan beperk word deur plantspasiëring en snoeipraktyke wat goeie ventilasie bevorder asook deur die vermyding van hoë lugvogtigheid. Besproeiingspraktyke wat water van die loofgroei weghou, is ideaal. Aangesien die swam op beskadigde plantweefsel floreer, moet plantbeskadiging sover moontlik beperk word en waar moontlik moet die bronne van infeksie, soos ou blare en vrot vrugte, verwyder word. Goeie sanitasie is van uiterste belang.
Vroegtydige chemiese bestrydingsmaatreëls met swamdoders lewer uitstekende resultate, maar korrektiewe bestrydingsmaatreëls is minder doeltreffend. Tydens gunstige toestande vir die ontwikkeling van siektes moet boere dus op hul hoede wees en betyds met 'n spuitprogram begin voordat die siekte begin opbou en noodmaatreëls nodig is.
'n Spuitprogram met Rovral Flo,'n dikarboksimied-swamdoder uit die stal van Bayer CropScience, is 'n uitmuntende middel om botritisvrot te bestry. Na gelang van die spuitinterval word vroeëroes ook in die proses bestry, en met die byvoeging van mankoseb bied dit ook beskeming teen laatroes. Die onthoudingstydperk tussen die laaste bespuiting en die oestyd is slegs drie dae.
Die bestryding van botritis met 'n Rovral Flo-spuitprogram verseker gesonde plante en 'n eindproduk met 'n langer gesonde raklewe.
9 April 2004