Landbou
Min dae vir blaarmyner
MARIËTTA VAN VUUREN en JEAN LE ROUX

Blaarmyner by aartappels hou toenemend 'n bedreiging vir oeste in en het al tot onekonomiese opbrengste gelei. Maar met 'n sistemiese insekdoder kan 'n mens die larf sowel as die volwasse vlieg nou besonder doeltreffend vasvat.

In die verlede kon 'n mens die blaarmyner (Liriomyza huidobrensis) goed met 'n hele reeks chemiese middels bestry. Onoordeelkundige spuitprogramme het egter meegebring dat dié insekplaag nou van ekonomiese belang geword het. Eerstens is álle natuurlike vyande van dié insekplaag uitgewis. Dus het die plaag, waar dieselfde chemiese groepe herhaaldelik gebruik is, natuurlike weerstand teen sulke middels opgebou.

Maar met die registrasie van Suntap 500 SP om die blaarmyner (ook bekend as aartappelblaarmyner of Suid-Amerikaanse blaarmyner) vas te vat, is sy dae getel. Dié middel, wat 'n ou staatmaker in die bestryding van aartappelmot is, is nou ook die voorste produk vir die bestryding van blaarmyner by aartappels en verskeie ander gewasse. Trouens, die middel is doeltreffend teen 'n verskeidenheid van plae wat onder die ordes Coleoptera, Lepidoptera en Diptera sorteer.

Navorsing deur mnr. Diedrich Visser, 'n entomoloog van die Landbounavorsingsraad se Roodeplaat-Instituut vir Groente en Sierplante (IGS), bevestig dat die middel teen die aanbevole dosis die beste was om die blaarmynerlarf sowel as die volwasse vlieg te bestry. Selfs teen verlaagde dosisse word die vlieg uitstekend bestry.

Die uitklopvermoë van die produk kan toegeskryf word aan die besondere dubbel-aksiewerking daarvan. Dit is translaminêr sistemies. Die aktiewe bestanddeel in die produk penetreer die blaar en die voedende larf sterf sodra dit plantmateriaal inneem. Die middel is ook 'n kontakinsekdoder wat volwasse vlieë laat vrek sodra hulle met die spuitmengsel in aanraking kom. Dit breek dus die lewensiklus van die plaag in twee stadiums, naamlik die volwasse vlieg en die voedende larf.

Suid-Afrika is nie die eerste land wat sukkel met weerstandbiedende bevolkings van dié plaag nie. Europa en Israel het in die vroeë 1990's ook talle probleme met weerstandbiedendheid gehad en gevolglik groot verliese as gevolg van blaarmyner op verskeie gewasse gely. Suid-Afrika se weerstandbiedende blaarmynerbevolkings kom waarskynlik van een van hierdie streke. Vir plaaslike gebruikers hou dit die voordeel in dat bogenoemde middel nie op groot skaal in enige van hierdie oorsese lande gebruik word nie. Tot op hede het daar nog geen weerstandbiedendheid teen dié produk opgebou nie. Ook in ander lande waar dit al jare lank gebruik word op ander gewasse, soos kool en rys, is geen weerstandbiedendheid teen die middel nog opgespoor nie.

Die middel sorteer onder die karbamaatgroep van chemiese middels. Dit stel produsente in staat om 'n meer volledige geïntegreerde anti-weerstandsprogram op te stel. Gebruikers moet onthou om nie net produkte af te wissel nie, maar om ook produkte in verskillende chemiese groepe, soos karbamate, organofosfate en piretroïedes, met mekaar af te wissel. Dit word aanbeveel dat die middel saam met ander geregistreerde middels, soos Agrimec (abamektien) en Patron (siromasien), in 'n program gebruik word om weerstandbiedendheid te voorkom.

Die blaarmyner het 'n wye reeks gashere wat blomme, groente en onkruid insluit. Suntap is vir gebruik op verskeie van die gasheergewasse, naamlik aartappels, kool, uie, tamaties, bone en erte, geregistreer. Afgesien van 'n wye reeks gasheerplante oorleef hierdie insekplaag ook onder uiteenlopende omgewingstoestande. Sy lewensiklus verhaas teen hoër temperature (bo 20 °C). Selfs teen lae temperature (onder 10 °C) kan hy steeds, al is die lewensiklus stadiger, groot skade veroorsaak. Gevolglik kan die plaag byna reg deur die jaar oorleef.

Die papie van die blaarmyner, wat op die grond lê en deur blare bedek word, word nie baie doeltreffend met chemiese middels bestry nie. Hier moet produsente goeie sanitasie toepas deur die buitenste blare van gewasse, soos onder meer kool, slaai en spinasie, uit die land te verwyder en deur plantreste diep in te ploeg.

Bogenoede middel is bestendig onder suur toestande (pH laer as 5,5). Gebruikers moet hulle vergewis van die volledige aanwysings en ook die aanbevelings rakende bymiddels wanneer hulle die produk gebruik. Dit is ook geregistreer teen Amerikaanse blaarmyner (Liriomyza trifolii) by tamaties, diamantruitrugmot (Plutella xylestella) by koolgewasse, aartappelmot (Phthorimaea operculella) by aartappels en blaaspootjie (Thrips tabaci) by uie.

  • SUNTAP 500 SP, bevat kartap-hidrochloried. Registrasienommer L5760, Wet 36 van 1947.

    9 April 2004