Kruipvoeding speel nie net 'n belangrike rol in die vinniger groei en hoër karkaswaarde van slaglammers nie. Die jongste navorsing wys dat spierselvorming en -vergroting in 'n jong dier 'n belangrike rol speel in die uitgroei van jong ramme en ooie, wat onderskeidelik hul verkoopwaarde en reproduksietempo verhoog. Kruipvoeding kan ook hier 'n belangrike bydrae lewer.
Vleisinkomste dra die meeste by tot die winsgewendheid van die meeste kommersiële kleinveeboerderye. Een van die hoofdoelwitte van só 'n boerdery moet dus eerder soveel spiere moontlik in 'n karkas wees.
Die kritieke tydperk vir spiergroei is van geboorte tot ongeveer nege maande. Gedurende fetusgroei en die eerste drie maande ná geboorte groei spiere deur die vermeerdering van die getal spierselle. Ná die ouderdom van drie maande word geen nuwe spierselle gevorm nie en alle spiergroei vind deur die vergroting van die spierselle plaas.
Dié nuwe Australiese navorsing impliseer dat goeie voeding voor geboorte tot op die ouderdom van drie maande sal verseker dat jong lammers die maksimum getal spierselle wat geneties moontlik is, sal ontwikkel, sê dr. Jasper Coetzee, tegniese direkteur van Voermol Voere.
Om maksimum spierselontwikkeling te verseker, is dit van kritieke belang dat laat dragtige en lakterende ooie genoeg van 'n geskikte lek (250 g tot 500 g per ooi per dag) met deurvloeiproteïen ontvang om maksimum melkproduksie te verseker vir 'n hoë lamgroeitempo. In sekere omstandighede sal die voorsiening van kruipvoeding aan sogende lammers noodsaaklik wees om 'n hoë lamgroeitempo en dus spierselontwikkeling te handhaaf.
Hoewel die nadelige gevolge van swak voeding gedurende die eerste drie maande later in die lam se leeftyd reggestel kan word deur middel van kompensatoriese groei, geskied dit nie voor bemarkingsouderdom nie en word laasgenoemde ook vertraag.
'n Afname in spiergroeivermoë weens swak voeding gedurende die spierselvormingstadium (tot op drie maande) bring mee dat wanneer voedingstoestande verbeter, meer voedingstowwe vir vetneerlegging beskikbaar is omdat daar minder spierselle is wat dit kan gebruik.
Dr. Coetzee sê die gevolg is dat sulke diere by dieselfde liggaamsgewig meer geneig is om vetter te wees as hul goed uit-gegroeide tydgenote.
Ná die ouderdom van drie maande sal goeie voeding spiergroei tot die maksimum bevoordeel gedurende die periode wanneer spiergroei sy hoogste potensiële groeitempo het, naamlik tot op nege maande.
As dit nodig is dat jong ooie en ramme optimaal groei, moet spiergroei vroeg in só 'n skaap se leeftyd soveel moontlik bevorder word, anders kan die diere se volwasse grootte permanent beïnvloed word. As voedingtoestande dit nie toelaat nie, kan kruipvoeding help om spiergroei so hoog moont-lik te kry en só die beste uitgroei te verseker. Verskeie navorsingsproewe toon dat vir elke 1 kg wat die paargewig van jong ooie styg, die lampersentasie met ongeveer 1,5 verhoog.
Dr. Ters Brand van die Wes-Kaapse departement van landbou op Elsenburg het in 'n ondersoek na produksiestelsels om die winsgewendheid van skaapboerdery te verbeter, gevind dat die voorsiening van byvoeding óf as kruipvoeding óf aan vroegge-speende lammers op groenweiding óf vir die afronding van vroeggespeende lammers in 'n voerkraal 'n aansienlike verbetering in groeitempo teweegbring (sien die tabel). Van die vier produksiestelsels was kruipvoeding die mees ekonomiese, gevolg deur afronding met 'n geskikte aanvulling op groen weiding.
Dr. Coetzee sê die beste reaksie met kruipvoeding sal verkry word as die beste mengsels reg voorsien word. In die meeste gevalle word 'n spesiale kruiphok of 'n klein "kampie" gebruik, met openinge waardeur net lammers kan kruip. Die openinge se wydte kan van 150 mm tot 250 mm wissel en die hoogte van 400 mm tot 1 000 mm, en moet verkieslik verstelbaar wees.
Die kruipvoer word binne-in hierdie klein kampie in 'n voerbak of selfvoerder geplaas wat só ontwerp is dat die voer nie kan nat reën of deur die lammers besoedel kan word nie. Vir die beste resultate met kruipvoeding moet voldoende kruiphokke beskikbaar wees sodat die vreetspasie 50 mm tot 100 mm per lam is.
Sodra lammers die kruipvoer goed vreet, moet die kruiphokke gereeld verskuif word om vertrapping van die weiding om die hok te verhoed en die opbou van skadelike orga-nismes (soos koksidia) te beperk. Dit is veral belangrik in intensiewe toestande op aangeplante weiding.
Kruipvoer moet vanaf ongeveer twee tot drie weke ná geboorte tot verkieslik een tot twee weke ná speentyd verskaf word om die lammers oor die speenskok te help. Van 14 dae ná speentyd (as die kruipvoeding gestaak word) moet lammers wat op groen weiding afgerond word, daagliks 300 g tot 500 g per lam van 'n superlam-mengsel in bakke gevoer word, met vreetspasie vir elke lam. Dié wat in 'n voerkraal afgerond word, moet oorgaan op 'n geskikte voerkraalrantsoen.
Kruipvoer moet besonder smaaklik wees omdat probleme soms ondervind word om lammers kruipvoeding te laat vreet - veral in meer ekstensiewe gebiede waar die veebelading laag is en ooie geen lek ontvang nie.
Boere wend verskeie metodes aan om lammers kruipvoer te leer vreet. Deur die kruiphok te plaas waar ooie gaan rus nadat hulle klaar gewei het, of deur die ooie en lammers met die kruiphok aanvanklik in 'n klein kampie te sit, blyk egter die beste resultate te lewer.
Lammers wat aanvanklik saam met ooie lek gevreet het, leer baie gouer kruipvoer vreet as lammers waarvan die ooie geen lek ontvang het nie.
Dr. Coetzee sê kruipvoeding hou min voordele in as lammers nie minstens 250 g per dag vanaf 14 dae ouderdom tot 100 dae ouderdom inneem nie. Die aanvanklike daaglikse kruipvoerinname op 14 dae ouderdom is baie laag (ongeveer 15 g per lam) en styg heelwat tot op 100 dae ouderdom (ongeveer 630 g per lam).
Die algemene riglyn gedurende hierdie periode is 'n gemiddelde kruipvoerinname van 300 g tot 350 g per lam per dag. Hy beveel ook aan dat wanneer lammers meer as 200 g per dag groei en vir die slagmark bestem is, hulle op ses weke 'n geskikte groeistimulant kry wat in die oor ingeplant word om groei en voeromsetting te verbeter.
Weens die uitermate hoë spiergroei gedurende die vroeë leeftyd van die jong lam, is dit absoluut noodsaaklik dat die kruipvoer 'n baie hoë proteïeninhoud, veral deurvloeiproteïen, moet hê. Die proteïeninhoud moet egter altyd in verhouding tot die energie-inhoud wees, sê dr. Coetzee.
Dit is ook belangrik dat 'n kruipvoer ál die noodsaaklike voedingstowwe, minerale en vitamiene in die regte verhouding bevat. Vir hoë smaaklikheid word smaaklike grondstowwe soos melasse- en mieliemeel gebruik.
Gewoonlik word geen ruvoer in 'n kruip-rantsoen ingesluit nie omdat die lam die nodige ruvesel van die weiding kry. As verkies word om ruvoer in te sluit, kan 'n klein persentasie hoogs smaaklike en verteerbare ruvoer soos blaarryke lusern gebruik word wat fyngemaal (10 mm) is.
Kruipvoeding sal egter min of geen waarde hê as 'n doeltreffende gesondheidsbeheerprogram nie gevolg word nie.
Dr. Coetzee sê navorsers is dit eens dat een van die doelwitte vir die produksie van slaglammers moet wees om spiergroei soveel moontlik te bevorder. Dit is omdat alle spiere in 'n karkas verkoopbaar is as vleis, en snitte van karkasse met meer spiere meer aanloklik vir die verbruiker is. Omdat voeding in die vroeë leeftyd van die lam die mees kritieke faktor is wat spiergroei beïnvloed, kan kruipvoeding in dié verband 'n baie belangrike rol speel.
Saam met voerkraalafronding kan kruipvoeding vir sekere boere 'n uitstekende geleentheid bied vir vertikale uitbreiding van sy skaapvertakking. Dit is 'n ideale ma-nier om lamvleisproduksie per hektaar te verhoog.
'n Nuwe tegniek wat in Engeland gebruik word, is "twin splitting". Hiervolgens word ooie met tweelinglammers in aparte kampe aangehou en sodra die tweeling ongeveer agt weke oud is, word een lam van die ooi verwyder. In die geval van gemengde geslagte word die ramlam, en in die geval van dieselfde geslag, die ligste lam verwyder, en dan in 'n voerkraal afgerond.
In dié stelsel, wat net toegepas kan word as die lammers van elke ooi geïdentifiseer is, kry die lammers vanaf ongeveer 14 dae ouderdom kruipvoeding totdat die een lam weggeneem word.
Riglyne vir gebruik
Dit word algemeen aanvaar dat kruipvoeding nie ekonomies ge-regverdig is in goeie voedingtoe-stande en lae strestoestande nie. Daarenteen toon navorsing dat hoe swakker die gehalte van die weiding en hoe minder weiding beskikbaar is, hoe groter is die respons met kruipvoeding.
Kruipvoeding kan in die volgende toestande sterk oorweeg word:
Die praktyk van vroeg speen en kruipvoeding behoort op duur, aangeplante weiding gevolg te word om te verseker dat lammers so gou moontlik bemark kan word. Só is beduidend minder weiding nodig om 'n lam tot bemarking groot te maak. Meer lammers kan dus op dieselfde weiding grootgemaak word omdat hulle vinniger afrond en minder weiding vreet weens kruipvoeding. Terselfdertyd is meer weiding ook vir die res van die teelooie beskikbaar. Albei planne sal help om te vergoed vir die hoë koste van aangeplante weiding.
Die voordele
Kruipvoeding kan 'n belangrike, regstreekse bydrae lewer om lamvleisproduksie te verhoog deur spiergroei van lammers so hoog moontlik te maak en terselfdertyd die bemarkingsouderdom te vervroeg.
Navorsing het gewys kruipvoeding kan lammers se speengewig met 3,2 kg tot 12 kg verhoog. Verskeie studies toon dat kruipvoeding speengewigte van meer as 30 kg by wolrasse op die ouderdom van vier maande moontlik maak - selfs onder swak voedingtoestande soos suurgrasveld in die winter.
Dit is ook al bewys dat speenlammers beter presteer as hulle die droë seisoen met 'n gewig ingaan wat minstens 50 % van hul volwasse gewig is. In die geval van Merinolammers moet dié 50 % verkieslik hoër as 30 kg wees. Hoe swaarder die lammers met speentyd (100 dae oud) is, hoe beter is hul groei ná speentyd. Lammers wat op 100 dae (speentyd) 24 kg geweeg het, het byvoorbeeld op 183 dae 37 kg geweeg, teenoor die 29 kg van lammers wat 17 kg op 100 dae geweeg het.
Onregstreeks help kruipvoeding dus om meer lammers te produseer deurdat dit die uitgroei van jong ooie verbeter, wat weer die reproduksietempo en dus die gewig lam per ooi verhoog.
Kruipvoeding kan meebring dat lammers 18 tot 63 dae gouer bemark word. Vroeër bemarking verseker meer weiding vir die res van die kudde, wat 'n besparing op byvoeding beteken en produksie en reproduksie bevorder. Dit voorkom ook oorbeweiding en die uittrap van veld wanneer weiding beperk is.
As lammers vroeër gespeen word, bied dit die ooie meer tyd om die gewig wat hulle tydens laktasie verloor het, te herwin. Proewe in dié verband toon dat dit die besetting van ooie bevoordeel, byvoorbeeld 98 % teenoor 90 % en 94 % teenoor 79 %.
Met kruipvoeding kan gradering en uitslagpersentasie veral tydens voerskaarste verbeter word. Dit sal ook stertkantlammers (boepenslammers) verminder en daartoe lei dat tweelinge dieselfde gewig as eenlinge het.
Omdat kruipvoeding spierselvorming en -vergroting van jong lammers bevorder, speel dit 'n belangrike rol in die uitgroei van jong ramme, wat hul verkoopwaarde verhoog.
Kruipvoeding kan ook baie help om die beperkings van onvoldoende en wisselende weiding in veral ekstensiewe skaapboerderystreke te oorkom.
| TABEL: Groeiprestasie van lammers in verskillende produksiestelsels | ||||
| Maatstawwe |
Produksiestelsel | |||
|
Geen byvoe- |
Kruipvoeding |
Aanvulling |
Afronding | |
| Slaggewig (kg) |
35,0 |
38,0 |
37,9 |
37,6 |
| Groeitempo (g/dag) |
162 |
258 |
288 |
290 |
| Dae tot slag |
146 |
96 |
89 |
88 |
| Voerinname (g/lam/dag) |
0 |
300 |
641 |
1 220 |
| Totale voerinname (kg/lam) |
0 |
29 |
57 |
107 |
6 September 2002
