Meer as 30 jaar se navorsing het onteenseglik bewys dat oordeelkundige veldbrande en opvolgbenutting met bokke bosindringing doeltreffend kan stuit. Dié metode is nie net kostedoeltreffend en natuurvriendelik nie, maar verhoog ook die drakrag en inkomste.
Naas veediefstal is bosindringing een van die ernstiger probleme waarmee veeboere in die soetgras- en doringveld worstel. Hoewel veldbrande as 'n belangrike en dikwels noodsaaklike veldbestuurspraktyk in vee- en wildbestuurstelsels beskou word, was niemand heeltemal seker in watter mate dit as 'n bestrydingsmaatreël teen bosindringing op die langtermyn suksesvol sou wees nie.
Dertig jaar se navorsing het egter bewys dat brand en goeie veldbestuur 'n belangrike teenvoeter vir bosindringing kan wees.
Prof. Winston Trollope (62), hoogleraar in weidingsbestuur aan die Universiteit van Fort Hare by Alice in die Oos-Kaap, sê met die afname in wild wat eeue gelede die savanneboom van Suid-Afrika bewei het en die oorskakeling na skaap- en beesboerdery, het bosverdigting oor die afgelope 100 jaar baie toegeneem.
Boere wat na beesboerdery oorgeskakel het, het veral gevind dat die drakrag van die veld afgeneem het omdat beeste en skape nie die struike in dieselfde mate as bokke en wild benut nie. Boerbokke, Angoras en sekere wildsoorte is 'n goeie teenvoeter vir bosindringing.
Langdurige droogtes dien dikwels as katalisator om die indringers 'n voorsprong te gee. "Ná droogtes is die gras gewoonlik baie kort bewei en wanneer die eerste goeie reën uitsak, is dit die sade van veral die soetdoringboom (Acacia karoo) wat eerste ontkiem."
Prof. Trollope sê baie boere aanvaar die uitkap van die indringerplante en chemiese bestryding is die vinnigste manier om bosindringing te bekamp. "Teen R5 000 per ha is dit beslis nie kostedoeltreffend nie en ook nie 'n permanente oplossing nie."
Boerbokke en wild is 'n goeie teenvoeter vir bosindringing, maar dié diere kan die struike net tot op 'n hoogte van 1,5 m benut. Baie van die indringers is hoër as 1,5 m. Met die uitsondering van wildplase is daar nie meer olifante, kameelperde en swart renosters wat die hoë bome in toom kan hou nie.
Prof. Trollope se hipotese, toe hy sowat 30 jaar gelede met die proefneming begin het, was om die enigste ander natuurlike element, naamlik vuur, aan te wend om die probleem die hoof te bied. "Dié metode verg egter spesiale voorbereiding. Dit is nie bloot 'n geval van om net 'n vuurhoutjie aan te steek nie. Dit móét 'n hoëintensiteit-vuur wees."
Vuurintensiteit verwys na die tempo waarteen hitte-energie per eenheidslengte van die vuurfront vrygestel word en word in kilojoule per sekonde per meter (kJ/sek./m) uitgedruk.
Wanneer veld gebrand word om onaanvaarbare grasmateriaal te verwyder, word 'n koel of lae-intensiteit vuur van minder as 1 000 kJ/sek./m aanbeveel. In dié geval moet die lugtemperatuur ook laer as 20 °C en die humiditeit hoër as 50 % wees.
Om ongewenste indringerplante te bestry, is 'n hoë-intensiteit-vuur van meer as 2 000 kJ/sek./m nodig. Dit is net moontlik as die grasbrandstoflading meer as 4 000 kg/ha beloop, die lugtemperatuur hoër as 25 °C is die relatiewe humiditeit minder as 30 % is en die windsnelheid nie 20 km/h oorskry nie.
"Indien die veld op só 'n dag gebrand word, sal die intense vuur verseker dat die stamme en takke van verskillende soorte struike tot op 'n hoogte van 3 m dood brand."
Om te verseker dat die grasbrandstoflading sowat 4 000 kg/ha is, moet die veld vir twee jaar gerus of baie min bewei word. Die veld moet ook vóór die eerste lentereëns, dit wil sê in Julie tot Augustus, gebrand word. Daar moet verkieslik van voorvure (vuur wat saam met die wind brand) gebruik gemaak word om die indringers 'n uitklophou te gee en die minste skade aan gras aan te rig.
Sodra die indringerplante die eerste tekens van hergroei toon, moet die kampe deur Boerbokke of Angorabokke bewei word en nie deur skape of beeste nie. Daar word bereken dat een bok 2 000 bome oor 'n tydperk van 'n jaar in toom kan hou. Dit verteenwoordig 'n weidingsdruk van 1 ha tot 1,5 ha per kleinvee-eenheid (KVE) per jaar, sê prof. Trollope. In dié tydperk vreet die bokke ongeveer 70 % struike en 30 % gras.
Om te verseker dat indringerplante permanent bestry word, sal deurentyd met bokke of wild geboer moet word. "By beesboerdery sal indringersoorte net doeltreffend bestry kan word as die veld meer dikwels gebrand word." In die hoër reënvalgebiede (700 mm en meer) beteken dit dus dat die kampe al om die vierde tot vyfde jaar gebrand moet word.
Prof. Trollope sê boere wat sy bestrydingsmetode gebruik, behoort aansienlik meer geld te maak omdat die weidingskapasiteit toeneem en bykomende geld uit die blaarvretende diere wat die struike benut, verdien kan word. "In gebiede waar bosindringing baie erg is, kan die drakrag so laag as 12 ha tot 15 ha per grootvee-eenheid (GVE) wees teenoor die 4 ha/GVE waar goeie bestuur toegepas word."
Die enigste nadeel van sy bestuurstelsel is die gevaar van veldbrande. Boere in die soetveldstreke het in teenstelling met dié in die suurvelddele 'n vrees om veld te brand. Diegene wat egter bereid is om die nodige voorsorgmaatreëls te tref, sal beloon word, sê prof. Trollope.
Die bestrydingstelsel wat hy aanbeveel, kan ewe goed deur wildboere toegepas word. Hy is in 'n raadgewende hoedanigheid betrokke by aanbevelings oor beheerde veldbrande in die Kruger-wildtuin. Sy navorsing word só hoog geag dat hy verlede jaar na Amerika genooi is om proefnemings daar te doen.
Die volgende projek wat hy wil aanpak, is om die verband te vind tussen die toestand van die veld en die voorkoms van bosluise in Suid-Afrika. Hy sê in die Ngorogoro krater in Tanzanië is gevind dat sodra daar meer as 4 000 kg plantmateriaal per hektaar op die veld is, die bosluis getalle as 't ware ontplof en die wild kwaai daaronder ly.
"Die brand van veld mag ook in die omstandighede 'n oplossing bied," sê prof. Trollope.
4 Julie 2003