Is die Suid-Afrikaanse wildbedryf besig om in wanorde te verval? Pleidooie word gereeld gehoor om dringend aandag te gee aan die ernstige knelpunte wat die geloofwaardigheid van die bedryf begin aantas. 'n Kenner skets die probleme, maar stel ook oplossings voor.
Die Suid-Afrikaanse wildbedryf is by 'n keerpunt. Probleme in die wildbedryf, veral uit die oogpunt van natuurbewaringsowerhede, neem nou sulke afmetings aan dat die geloofwaardigheid van die ganse wildbedryf in gedrang begin kom. En die ironie is dat provinsiale bewa-ringsinstansies ook gedeeltelik te blameer is vir dié toedrag van sake omdat hulle vir jare toegelaat het dat ander faktore in die wildbedryf bewaringsbeginsels oorheers.
Dr. Kas Hamman van die Wes-Kaapse Natuurbewaringsraad het tydens 'n wildboerdery-seminaar wat met die samewerking van Landbouweekblad by die Saasveld-kampus van die Port Elizabethse Technikon op George aangebied is, as spreker opgetree. Hy het gewaarsku dat as dié neiging sou voortduur, dit natuurbewaringsbeginsels én die ekonomiese lewensvatbaarheid van die Suid-Afrikaanse wildbedryf kan ondermyn.
Hy sê Suid-Afrika het reeds in 1995 die Internasionale Konvensie oor Biologiese Diversiteit, asook ander multilaterale ooreenkomste, onderteken. Dit impliseer dat die land sekere beginsels onderskryf, waaronder die volgende:
Dr. Hamman sonder 'n aantal aspekte uit as die grootste knelpunte en die belangrikste bewaringsprobleme waarmee die plaaslike wildbedryf worstel.
Hy meen die kruising of verbastering van naverwante wildsoorte skep probleme. Die doelbewuste kruising van subspesies (soos die bontebok en blesbok) bedreig die genetiese suiwerheid van albei, maar is 'n groter gevaar vir die veel skaarser bontebok.
Kruisings word meestal vir finansiële gewin gedoen. Sommige boere wil die meer gewilde en skaarser wildsoorte soos bontebokke hê, maar omdat hulle tot tien keer meer kos, word eerder heelwat goedkoper blesbokke aangeskaf wat soms met 'n bontebokram gekruisteel en aan jagters aangebied word as suiwer bontebokke.
Verbastering by verskeie ander subspesies, waaronder die Kaapse bergsebra en Hartmann se bergsebra, bedreig die genetiese suiwerheid van albei subspesies. Kruisings tussen afsonderlike diersoorte - soos tussen swart- en blouwildebeeste - wat dan 'n vrugbare nageslag het, is 'n algemene verskynsel.
Die kern van die saak is egter dat die onnatuurlike kruising of verbastering van verskillende spesies en subspesies teenstrydig is met bewaringsbeginsels, sê dr. Hamman.
Genetiese manipulasie is die doelbewuste vermenging van die twee subspesies. Die twee springbok-subspesies is 'n goeie voorbeeld. Dit is kommerwekkend dat wildtelers "groter" springbokramme op wildveilings in die noordelike provinsies koop om die kleiner suidelike diere daarmee "groter" te teel vir trofeejag. Op die duur dien dié praktyke geen doel nie omdat dominante gene in die bevolking die grootte van individue bepaal.
Die hervestiging van wild in gebiede buite hul natuurlike verspreidingsgebied kan aanleiding gee tot mededinging, verbastering, inteling, vernietiging van die habitat of selfs abnormale afwykings. Probleme wat gereeld voorkom, kan gesien word by springbokke in die suidelike dele van die Weskus. Dié diere het nie in die verlede hier voorgekom nie en hulle kry nou gereeld vrotpootjie weens die natter toestande. Die Kaapse bergsebras het ook probleme met langklou in die Saldanha-duineveld, wat ook nie hul natuurlike verspreidingsgebied is nie. Dié sanderige terrein slyt nie die diere se hoewe genoeg weg nie.
Hoewel bosbokke en njalas in sekere dele van die land saam voorkom, is daar geen natuurlike oorvleueling in die Wes-Kaap nie. Waar njalas kunsmatig in bosbok-habitat in die Wes-Kaap gevestig is, tree die njalas op as indringers wat dreig om die bosbokke te verdryf.
Rooibokke, blouwildebeeste, swartwildebeeste, blesbokke, rooiribbokke, waterbokke, basterwaterbokke, rietbokke en kameelperde is almal voorbeelde van wildsoorte wat ál meer in die Wes-Kaap (buite hul natuurlike verspreidingsgebiede) gevestig word.
Nóg 'n probleem met naverwante wild buite hul natuurlike verpreidingsgebiede (soos blou- en swartwildebeeste, en waterbokke en basterwaterbokke) is dat hulle neig om te verbaster en 'n vrugbare nageslag te produseer. Uit 'n boerdery-oogpunt mag wild buite hul natuurlike verspreidingsgebied net so aanvaarbaar wees soos veetroppe. Die vraag is egter watter bydrae dit tot natuurbewaring lewer, veral as dit winsgewend is om sake onder die vaandel van bewaring te doen.
Dr. Hamman sê kommer heers in natuurbewaringskringe oor die toename van mensgemaakte drogdiere wat doelbewus geteel en aangebied word as jagtrofeë of toeriste-aantreklikhede. Kleurvariasies of kleurafwykings het gesog geword onder wildboere en trofeejagters en is 'n lonende bedryf. Voorbeelde hiervan is swart rooibokke, swart en wit springbokke, wit en geel blesbokke, rooi wildebeeste, asook doelbewuste kruisings van bles- en bontebokke, koedoes en elande, en swart- en blouwildebeeste.
Dié praktyke lewer geen bydrae tot natuurbewaring of die langtermyn-oorlewing van die diersoort nie, sê dr. Hamman. Sulke diere oorleef nie normaalweg in die natuur nie, en onnatuurlike of swak eienskappe kan na vore kom as met hulle geteel word. Dit gee ook die verkeerde boodskappe aan oningeligte trofeejagters of toeriste, en doen skade aan die beeld van die wildbedryf.
Die teel van skaars wildsoorte, soos bastergemsbokke, swartwitpense en bontebokke vir trofeejag of vir toerismedoeleindes deur mense sonder genoeg kennis, kan inteling of onnatuurlike afwykings veroorsaak wat niks bydra tot die bewaring van die diere óf natuurbewaring nie. Dit is nie geneties wenslik nie en behoort deur natuurbewaringsowerhede én die wildbedryf ontmoedig te word, behalwe waar dit gedoen word volgens dieretuin-beginsels as deel van 'n goedgekeurde program.
Die diere se impak op die habitat is ook belangrik. Gemsbokke kan as voorbeeld gebruik word. Om dié diere in bewaringsgebiede in die Sukkulente Karoo te vestig wat op die rand van hul natuurlike verspreidingsgebied is, en dan in groter getalle as wat normaalweg voorkom, kan 'n nadelige invloed hê op sensitiewe gedeeltes van renosterveld en veral skaars en sensitiewe vetplante in kwartsiet-kolle. Dié bokke skrop die vetplante uit en vreet dit, veral tydens droogtes.
Sommige Wes-Kaapse boere omskep natuurlike fynbos in grasveld deur dit té gereeld te brand of dit met 'n bossiekapper te sny. Só kan 'n groter verskeidenheid "uitheemse" wild tydelik op fynbosveld aangehou word. Wat egter in ag geneem moet word, is dat fynbos-grondtipes arm aan voedingstowwe is en dat die diere uiteindelik afhanklik sal wees van byvoeding vir oorlewing - iets wat uit 'n natuurbewaringsoogpunt onwenslik is, sê dr. Hamman.
Die ongereguleerde verskuiwing van diere skep ook probleme. Kaapse Natuurbewaring weet dat wild dikwels verskuif word sonder permitte of sonder die samewerking van bewaringsinstansies - iets wat die wildbedryf 'n baie ongunstige beeld in bewaringskringe besorg.
Almal is nie skuldig nie, maar almal is wél gretig om onder die vaandel van natuurbewaring sake te doen, meen hy.
Bewaringsinstansies is ook deels skuldig. Net enkele provinsies het 'n beleid oor die vervoer van wild tussen provinsies en daar is deur die jare baie min gedoen om die wildbedryf volledig hieroor in te lig. Noudat daar nege provinsies is, het die situasie verder versleg omdat daar nie volgens 'n eenvormige wildbestuursbeleid opgetree word nie. Daar is ook té min inligting beskikbaar oor die stand van wildboerdery in die land. Volledige opnames oor die verskeidenheid wild, getalle, die oorsprong van die moedertroppe en maniere waarop die wild benut word, is onontbeerlik vir goeie wildbestuur.
Dan is daar die optrede van professionele jagters. Ongerymdhede en onaanvaarbare optrede deur sommige professionele jagters en ander instansies in die bedryf word nou deur bewaringsinstansies ondersoek, en dit blyk dat die probleem waarskynlik groter is as wat gedink is.
Hy meen natuurbewaringsinstansies in Suid-Afrika sal sonder verwyl hul sake in orde moet kry om die gevare wat met genetiese verbastering, die oordrag van parasiete en siektes en ekologiese skade verband hou, te verhoed.
Samewerking is die oplossing
Samewerking met onder meer jagters en die landbou kan ál die probleme hokslaan. Só sê dr. Kas Hamman van die Wes-Kaapse Natuurbewaringsraad. Hy sê ook onderlinge vertroue is nodig, want 'n beleid van polisiëring sal nie slaag nie. Die volgende is moontlike oplossings vir die probleme:
Dr. Hamman sê goeie wedersydse kommunikasie en samewerking tussen alle belanghebbendes is 'n sleutel tot die oplossing van probleme in die wildbedryf. Oplossings soos hierbo genoem, is nie afdwingbaar nie en is hoofsaaklik afhanklik van konstruktiewe samewerking tussen belanghebbendes.
Praktiese aansporingsmaatreëls sal 'n alternatief bied om die bedryf volhoubaar en tot voordeel van natuurbewaring te maak.
25 Julie 2003
Bespreek nou vir wildboerderyskou
Die jag is oop om uitstalruimte te bekom by die volgende Landbouweekblad-Wildboerderyskou wat aanstaande jaar van 5 tot 7 Maart by die Kyalami-renbaan buite Johannesburg aangebied word!
Wildboere en maatskappye wat produkte aan die wildboerderybedryf verskaf, kan nou al seker maak van 'n standplaas by dié gewilde skou wat saam met die Aim Shooters-vuurwapenskou gehou word.
Hierdie skoue het vanjaar 66 % meer vertoners en 23,5 % meer besoekers gelok as in die vorige jaar.
Vertoners wat van 1 Junie tot 31 Julie 2003 bespreek, kry 'n korting van 12 % op hul uitstalruimte!
Tree dus so gou moontlik in verbinding met Mike of Pierre by tel. 011 803 7181; faks 011 803 1508 of e-pos: Aimafrica@iafrica.com.
Gaan loer ook in by www.aimshootershow.com .
25 Julie 2003